Lewensreise 2486 woorde
Stadig, begin haar bewuste diep vanuit die donker newels na die werklikheid beur. Vir ‘n wyle…ís sy net niks, totaal gedisorieënteerd. Dan skop die oeroue menslike oorlewingsdrang in en haar dowwe brein raak bewus van haar omgewing. ‘n Deurdringende pyn leef in haar skedel en sy sukkel om asem te haal. ‘n Swaar gewig druk teen haar gesig en lyf en skielik voel dit asof sy gaan naar word. Haar mond is volgestop met ‘n growwe lap wat agter teen haar keel vasdruk. Dik kleefband trek aan haar hare en lippe. Dan besef sy eers dat haar hande en voete vasgebind is. Dit sny skerp in haar vel in. Sy probeer die versmorende gewig met haar kop oplig, maar dit is te swaar en helder flitse steek deur haar wollerige brein. Plastiek seile, dink sy en probeer dit dan vrugteloos opstoot met gevoellose, geswelde hande. Die beweging is weereens te pynlik en sy probeer eerder sywaarts rol. Met haar skouer slaag sy daarin om effens te beweeg. Stelselmatig rol sy stadig, baie stadig om en om en uiter ‘n sagte kragwoord, telkens wanneer haar liggaamsmassa haar hande teen die betonvloer vasdruk. Wat het gebeur? Hoe het sy hier gekom? Is dit net ‘n nare droom? Buiten vir die pyn, is alles so onwerklik.
Skielik kan sy asemhaal. Verlig, maar nat gesweet bly, sy eers net doodstil lê. Alles rondom haar is pikdonker. ‘n Donkerte wat polsend lewe en haar wil insluk. Sy het geen idee wat aangaan nie. Pappa! dink sy. Vaagweg onthou sy die groot woede waarmee sy haar kamerdeur toegeslaan het. Hoe sy haar musiek kliphard gespeel het terwyl sy haar nagklere aantrek. Sy kan onthou dat sy op haar bed gelê en huil het, in die mooi kamer wat sy en Mamma nog destyds saam beplan het. Maar wat het daarna gebeur? Haar geheue is net ‘n groot leë gat. Ek is steeds in my nagklere, dring dit tot haar deur. Uitgeput en bedwelmd, raak sy weer aan die slaap maar die koue dwing haar wakker. Met ‘n groot gesukkel kry sy dit reg om regop te sit. Ek kan op my boude vorentoe loop-loop en met my voete voel waar ek gaan, dink sy. Stadig begin sy beweeg, bewus van rommel en glasstukke wat om haar rondlê. Met byna gevoellose voete, skuifel sy deur die gemors, tot sy teen ‘n muur vasskop. Sy moet haarself probeer orent hys. As sy regop staan, kan sy die kabelstroppe probeer breek.
Duiseligheid en naarheid dwing haar amper weer in ‘n sittende posisie. Sy onthou ‘n video waarna sy gekyk het en lig haar vasgebinde hande hoog bokant haar kop. Komaan Karli! Met al jou mag en krag! motiveer sy haarself. Dan staal sy haar en swaai haar hande met ‘n geweldige spoed na onder, tot teen haar maag. Terselfdertyd swaai haar elmboë na buite, soos hoendervlerke en haar skouerblaaie stoot na mekaar toe. Eina! skree dit deur haar hele wese. Sy voel hoe die kabelstroppe deur haar vleis sny voordat dit meegee. ‘n Warm nattigheid loop oor haar hande. Met dom, geswelde vingers probeer sy die kleefband om haar kop aftrek.
Moeg na ‘n lang dag, vryf Ben Steyn met sy hande deur sy sout-en-peper hare. Hy is steeds ‘n aantreklik man, ten spyte van al die lewenslyne op sy 50-jarige gesig. Hy het tot laat aan die voorlegging gewerk wat hy met sy vennoot wil bespreek en voel nou meer tevrede daarmee. Met Ursula se diagnose 5 jaar gelede, het hy sy aandele as een van die ontwikkelaars van Future Investing (PTY)LTD aan die maatskappy oorgedra. Hy en Stefan Dippenaar het saam restourasie projekte begin.doen. Hy wou meer by die huis wees omdat Ursula hom nodig gehad het, veral gedurende die laaste jaar, voordat sy oorlede is. Beide hy en Stefan was deel van die ontwikkelaars van Future Investing (PTY)LTD. Die ontwikkelaarsmaatskappy het deel uitgemaak van die Difinity Property Syndication projek. Die bouprojekte het mettertyd al groter en groter begin word en sy nuwe verpligtinge tuis, net meer en meer. Daar was ook ‘n ander rede. Hulle was albei nie meer gemaklik met die rigting wat die ontwikkelaarsspan ingeslaan het nie. Tydens die vroeë vergaderings en beplanning van een van die grootste inkopiesentrums in Suid-Afrika, het beide sy en Stefan se gevoel van ongemak toegeneem. Die ontwikkelaars se finansieringsmodel het R5 biljoen van duisende beleggers ingesluit. Hulle was bang dat dit ‘n ponzi-skema gaan word en die Bankwet sou oortree. Daar was op daardie stadium geen bewyse nie, daarom het hulle niks aan die saak gedoen nie. Ben gee ‘n moeë sug. Vandag staan daar ‘n onaantreklike, onvoltooide “spookstruktuur”. Die beleggers se geld is daarmee heen, sy eie aandele inkluis. Die ontwikkelaars is onbereikbaar en hy vermoed die geld lê veilig in ‘n bank, in die Cayman Eilande.
Onwillekeurig dwaal sy gedagtes terug na Karli toe. Na Ursula se dood, twee jaar gelede, het sy en Karli se verhouding net al hoe meer agteruit gegaan. Dit voel vir hom asof hulle oor alles vassit. Hy verwyt homself oor al die jare wat hy net gewerk het en nooit tuis was nie. Ursula, het Karli so te sê alleen grootgemaak. Sy pragtige vrou wat altyd hulle huis met vreugde en blomme gevul het. Voordat Karli haar eie hare afgesny en swart gekleur het, was sy Ursula se ewebeeld. Skraal, met lang, vlasblonde hare. Hulle groot, groen oë sal altyd eenders lyk. Hy voel nog rou, seer oor Ursula en mis haar. Sy sou geweet het hoe om met die 15-jarige Karli te werk. Om ‘n tienerdogter alleen groot te maak, is vir hom ‘n totaal onbekende terrein. Hy het geen idee hoe ‘n meisie se kop werk nie. Karli was 13 jaar oud toe Ursula oorlede is. Nou is sy ‘n tiener, sonder ‘n ma vir wie sy om raad kan vra. “Pappa ken en verstaan my nie! Niemand weet hoe ek voel nie! Ek haat jou!” het sy hom vroeër die aand toegesnou. Karli se musiek speel nog kliphard en dit is alreeds laat. Sy selfoon lui skielik. Wie sal só laat bel? flits dit deur sy gedagtes.
“Meneer Steyn?”
“Ja?”
“Ek het vanaand jou dogter gevat. Jy sal haar nooit weer lewendig sien nie. Ek wil hê jy moet weet hoe dit voel om magteloos te wees, terwyl jy weet dat jou enigste dogter besig is om stadig te sterf.” Die foon word summier doodgedruk.
Vir die tweede keer op dieselfde Sondag nooi Ben die speurders na binne. Sersant Frikkie Lötz se deurmekaar, rooibruin hare staan vanmiddag nog meer orent as verlede nag en dieselfde geruite hemp se knoop span styf oor sy effe dikkerige lyf. In teenstelling met sy kollega, Lethabo Mohapi se lang, netjies geklede figuur, sou die twee ‘n komiese span, onder minder ernstige omstandighede gewees het. Hulle is albei van die Misdaadeenheid. ‘n Aantreklike blonde vrou in haar middel veertigs loop vooruit.
“Jana is ons misdaadverslaggeefster. Ons werk al baie jare saam en het ‘n goeie vertrouensverhouding. Sy is ons snuffelhond,” stel Lötz die aantreklike, blonde vrou voor.
“Meneer Steyn, kan ek asseblief die gesprek opneem?” vra Jana sy toestemming en Ben knik instemmend.
“Ons weet nou nog feitlik niks,” begin Lötz. Ben loer onderlangs na Mohapi. Die man het nog skaars twee woorde gepraat sedert hulle vroeër ontmoet het. Lötz praat verder. “Ons weet dat die ontvoerder toegang verkry het deur ‘n kamervenster, waarvan hy die diefwering verwyder het. Die musiek was baie hard en die persoon kon sonder Karli se wete die kamer binnegekom het. Daar is geen teken van ‘n gestoei of teenkanting van Karli nie, wat ons laat vermoed dat sy verdoof of bewusteloos was tydens haar ontvoering. Al haar klere, laptop en selfoon is steeds in haar slaapkamer. Ons wag nog vir forensies om haar kamer en die omgewing om die huis te fynkam. Daar is geen voetspore of ander spore gevind nie en geen ooggetuies kon sover opgespoor word nie. U kamera’s is op die oomblik buite werking en die alarm was nog nie gestel nie. Daar is duidelik geen losprys ter sprake nie, so u gaan heel moontlik nie weer van die vent hoor nie. Iemand het ons ‘n spesiale guns gedoen vanoggend en u foon se oproepgeskiedenis nagegaan. Dit lyk asof die man ‘n branderfoon gebruik het. Daar was slegs een oproep vanaf daardie nommer gemaak en vir al wat ons weet, lê dit nou heel moontlik iewers in die veld.”
Jana probeer haar romp effe laer oor haar knieë skuif. “Ons kan egter heelwat aflei vanuit dit wat die man vir Meneer Steyn gesê het” noem sy. “Dit klink asof die man vir Jana op sy eie ontvoer het en dat niemand anders betrokke was by die misdaad nie. Die man het duidelik ‘n wrok teenoor Meneer Steyn en is in emosionele pyn. Daar is ‘n moontlikheid dat Karli nog lewe, want hy praat van ‘stadig sterf’. Dit moet iemand wees wat ‘n dogter aan die dood afgestaan het en onder die indruk verkeer dat ú die oorsaak daarvan was. Is u bewus van enige iemand wat dalk so oor u kan voel, Meneer Steyn?”
Ben dink lank na oor Jana se vraag. “Ek en my vennoot kom baie goed oor die weg. Ons kliënte is sover baie tevrede met ons projekte en ons skuld niemand geld nie. My werkers tuis en in ons besigheid word almal goed en regverdig behandel. Ek is eerlikwaar nie bewus van enige vyande nie.”
“Het u altyd u eie besigheid gehad?” vra Jana.
Ben vertel dat hy vroeër ‘n ontwikkelaar was van Future Invest (PTY)LTD, wat deel uitgemaak het van die Difinity Property Syndication. Hy noem dat hy sy aandele as ontwikkelaar oorgedra het aan die maatskappy, voordat hulle met die projek begin het. Hy vertel die hele geskiedenis van die groot inkopiesentrum wat nooit voltooi is nie en dat baie mense al hulle beleggings verloor het. Ben probeer om al die feite so korrek as moontlik oor te dra. Lötz en Mohapi kyk onderlings na mekaar.
“Ek het die storie in die media gevolg” sê Janie stadig “en is taamlik op hoogte van die hangende hofsake en verwikkelinge.”
‘n Doodse moegheid vul Karli se hele wese. “Hoe lank sukkel ek nou al so in die donker aan? Is dit ure? Is dit al ‘n dag?” Sy weet nie eens of dit dag of nag is nie. Sy is vroeër, agterstevoor teen ‘n stel trappe op en beweeg nou heeltyd vorentoe. “Is dit ooit in die regte fricking rigting?” vra sy haarself. Aan haar linkerkant hoor sy ‘n geskarrel. “Rotte!” ril sy. Met ‘n deurgeskuurde slaapbroek en stukkende boude, rus sy met haar kop teen ‘n koue betonmuur. “Ek mis jou, Mamma” prewel sy saggies. Haar swaar ooglede val toe en sy sak stadig weg na ‘n wêreld, vry van die seer onbekende. “Onthou dat ek altyd by jou sal wees, hier diep binne in jou hart. Ek sal daar wees wanneer jy hartseer is, wanneer jy bang is vir al die belangrike oomblikke wat nog voorlê.” Karli sit regop. Sy moes aan die slaap geraak het. Sy het van Mamma gedroom. Trane loop oor haar wange toe sy pynlik verder vorentoe skuifel. ‘n Oorheersende dors laat haar tong geswel voel. Haar kop klop pynlik van dehidrasie. Skielik vat haar seer vingerpunte ‘n ou tekkie raak. Opgewonde ryg sy die veter uit en steek dit tussen haar twee voete en die kabelstrop deur. Sy knoop die veter deeglik en gebruik haar hande om met die veter vinnig heen en weer te saag. Die hitte wat die wrywing veroorsaak, laat die kabelstrop skielik breek. Met byna gevoellose voete begin sy al skuifelend en voel-voel loop. Hongerpyne knaag aan haar maag en iewers drup water stadig in die donker. Sy voel heeltyd met haar voete en hande soos wat sy loop. Verskeie kere was sy byna by ‘n afgrond af en op plekke kan haar hande net groot, oop gate voel. “Hoe groot is hierdie donker plek? Gaan sy ooit weer vir Pappa sien, of gaan sy hier doodgaan?” Die reuk van ou urine, gemeng met droë sement, laat haar leë maag draai. “Ek kan nie meer nie” snik sy. In ‘n dwaal skuifel sy outomaties voort, een vir een bebloede tree op ‘n slag.
Is dit haar verbeelding, of sien sy ‘n vae ligskynsel in die verte? Sy vee oor haar droë, gebarste lippe. Iewers, ver, klap flappe plastiek in die wind. “Wind?” kraak haar stemmetjie. Wind kan net van buite af kom. Hoopvol beweeg sy stadig in die rigting van die yl skynsel.
“Ons hoop dat ons vir u goeie nuus het.” Lötz glimlag van oor tot oor. Hy het vandag ‘n vars blou en wit geruite hemp aan. “Vanoggend vroeg het ‘n Meneer Arrie Conradi homself by sy plaaslike polisiekantoor gaan oorgee. Hy beweer dat hy verantwoordelik was vir Karli se ontvoering.”
“Hoekom laat julle my nou eers weet?” Ben het die afgelope twee nagte nie ‘n oog toegemaak nie en sy gemoed is uiters broos.
Jana spring die twee speurders voor. “Meneer Steyn, soos u weet is Karli se ontvoering van Maandag af in die media. Talle mense kom dan gewoonlik na vore en beweer dat hulle óf skuldig is, óf inligting het. Ons moet alle gevalle eers opvolg en die meeste is gewoonlik vals nuus. Ek weet nie of u my artikel gelees het nie, maar ek het gemeld van die onvoltooide inkopiesentrum en die talle mense wat hulle beleggings kwyt is. Ek het pertinent genoem dat u nie meer deel van die maatskappy was, met die aanvang van die ontwikkeling nie.”
“Conradi het destyds al sy erfgeld, asook die pakket wat hy ontvang het van sy werkgewer, nadat hy oorbodig verklaar was, belê in die betrokke eiendomsindikaat” sê Lötz. Hulle leef slegs van sy vrou se inkomste en kon nie meer ‘n voldoende mediese fonds bekostig nie. Vier jaar gelede is sy enigste dogter met leukemia gediagnoseer. Soos u weet, kan staatshospitale nie altyd die gewenste behandelings toepas nie en private chemoterapie is onbekostigbaar. Sy is onlangs, na baie lyding, oorlede. Laat gisternag het ek op ‘n finansiële artikel afgekom wat u naam verkeerdelik noem as een van die ontwikkelaars” lig Jana hom in. “Conradi het vanoggend ook oor dieselfde artikel gepraat. Dit was sy motivering vir Karli se ontvoering.”
Lötz neem oor. “Ons het ‘n kledingstuk van Karli nodig. Ons manne en die honde eenheid is oppad na die leë inkopiesentrum.”
“Die eenvoudigste oplossing is gewoonlik die regte oplossing” praat Mohapi vir die eerste keer in ‘n diep basstem.
Karli strompel aan. Die geluid van motors wat kom en gaan begin harmoniseer met ander stadsgeluide. ‘n Helder blou hemel doem voor haar op. Tussen konstruksie balke en stawe, op die eerste verdieping, gaan sit die skraal figuurtjie. Haar bene swaai oor die rand. Sy weet waar sy is!
“Slay! Carli,” fluister haar swak stemmetjie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Junie 2024 – Die onbekende projek