Jongste aktiwiteit:

Liefde vir ‘n ou kar.

Kyk om ‘n kar te koop is vir party mense soos om te trou. Daar is selfs mense wat so oor die proses te kere gaan dat dit nader klink aan geboorte skenk. Daar is ‘n baie goeie rede daarvoor. Jy weet mos nou as jy eenmaal op die lyn teken, niks minder as ‘n wonderwerk nodig is as jy langs die pad agter kom dit was die verkeerde keuse nie. In die meeste gevalle gaan jy die fout vir drie of meer jaar lank moet ry. Ek is seker daarvan dat almal van ons wel die een of ander keer so fout begaan, al is dit dan net omdat jy ‘n te groot vertroue in jou finansiёle sake het. Maar niemand sal sommer erken dat hy of sy ‘n fout begaan het nie. Voor almal is jy heeltemal tevrede, en sal selfs die fout aanbeveel. Dit is slegs in daardie diep alleen tye net voor die slaap intree, of as jy langs die pad vir ‘n insleep diens wag wat die bitter pad kry buiten toe. En hier is veral die tweedehandse weergawe van die pyn meestal die diepste. Jy het so pas ‘n ander man se probleme gekoop. En eerlike tweedehandse verkoop’s personeel is selfs moeliker om te vind as eerlike politieke leiers vandag. Maar hier en daar hoor of lees mens van iemand wat so tevrede met hulle voertuig is, dit word soos familie, of ‘n ledemaat. Die tjor kry ‘n naam, en die eienaar gee nie ‘n blou duit om wat mense van sy voertuig te sê het nie, hulle moet dit net nie voor hom sê nie. Almal kan sien die bestuur en eienaarskap is vir hom ‘n vreugde. Sy ouderdom word in onderhouds vrye kilometers, aankoopsprys en jaar model aan almal wat wil weet vertel.

Die gesin beplan ‘n toer, en dit word gou duidelik ons sal van voertuig moet verander. Ons voertuig is wel afbetaal, en ons wil nie weer skuld maak nie. Ons huidige een het wel nie baie kilometers op nie, maar die jaar en hoeveelheid grondpaaie gery, tel teen hom. Die nuwe voertuig moet baie plek hê, betroubaar wees en vierwiel aangedrewe wees, ons wil bos toe, en hy moet minder as ‘n honderd-duisend-rand kos. Die bakkie was ‘n twintig-elf model, en ons het gou agter gekom in ons soeke dat ons agter toe gaan moet boer om ons spesifikasies en finansies getroud te kry. Ons neem besluit dat ons nie haastig moet wees nie, en moet konsentreer op betroubare handelsmerke. Hiermee begin ‘n epiese soektog van hoop, teleurstellings, verkeerde tydsberekenings en so aan. Die elektroniese wêreld daar buite lê boonop besaai met waarskuwings van mense wat in geloop is, hartseer verhale van spaargeld wat verlore is. Ons besluit om meer geduldig te wees, en van handelaars gebruik te maak, eerder as private aanbiedings. Vir baie lank kry ons niks. Een of twee keer is ons net te laat. Maar een Saterdagoggend sien ek hom. Pas geplaas en beskikbaar, en die regte prys. Ek en vroulief besluit om te probeer. Ek bel en ontmoet ‘n gawe jong man. Ons gesels en hy is bereid om besigheid te doen. Ek weet die voertuie is gewild, en vra hom om die voertuig vir my te hou, ek neem eerste opsie. Die Dinsdag ry ons van Musina na Johannesburg om ons volgende voertuig te gaan ontmoet.

Ons het reeds vrede gemaak met die feit dat dit nie ‘n nuwe voertuig is nie, en ons kyk hom deur. Die verkoopsman verduidelik dat hy die voertuig vir ‘n vriend verkoop, en vertel ons van ‘n paar probleme. Ek en vroulief krap kop, en boeta is in sy noppies as ons besluit ons sien kans. Hy was vinnig om ons daarop te wys daar is ‘n snorkel en wenas. Ons ruil ons getroue, geliefde bakkie in op ‘n vier-en-tagtig Land Cruiser stasie wa, en spring drie-en-dertig jaar terug in tyd. Maar kyk die ding ry lekker. Hy is hardekwas, en hy dwing respek in die verkeer af. Nou het ons ‘n toer voertuig, en ons het ‘n paar rand op die koop toe gemaak, so ons kan die klein probleempies laat regmaak. Min van ons vriende en familie kon verstaan hoe ons koppe werk. Maar my wiskunde was nog altyd anders. Dit wat ek op ‘n maandelikse paaiement spaar, is nou meer as genoeg vir diesel en onderhoud, die voertuig is klaar betaal, sy versekering is laag, en ek kan nou gaan toer waar ek wil. Kort na ons hom in ontvangs geneem het, begin ons ‘n naam soek. Cruisader, Bella, Beast en Monster word op die tafel gegooi. Maar eendag sê iemand, kom ons ry met die bus, en die naam haak vas. En is ons tevrede? Vir ons is daar niks beter as ons “Bus” nie.

Onlangs het ons deur ons land Suid-Afrika getoer, toe deur Swaziland, Namibië, al langs die Wes-kus af, en terug tot in Mosambiek. In totaal by die sestien-duisend probleem vrye kilometers. Ons het op Kimberley skokbrekers vervang, en in Bloemfontein die verkoeler prop. En daar lê nog baie kilometers en wag op ons en die “Bus.” Is daar iets wat ons nie van hou nie? Ja, sy drink gewoontes is rof, en die gebrek aan lugversorger laat mens soms sweet. Maar die mees ingewikkelde elekrtoniese toestel is sy radio. As ek eendag gaan staan, gaan ek hom heel moontlik ook weer daar langs die pad aan die gang kry.

As ek op die pad is, en ek sien al die blink en vinnige motors om my, dan kyk ek en my vrou gewoonlik na mekaar en glimlag. Ons was ook eens daar. Maar nou vat ons dit rustiger, ons sien meer, en ons bêre ons geld vir dit wat waarlik nodig is. Diesel!     
 
©Vossie
 

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed