Jongste aktiwiteit:

Maak of breek (Goud)

Aangesien dit almal en alle aspekte van ‘n samelewing raak; van ekonomiese stabiliteit tot persoonlike veiligheid en sosiale welsyn, is die uitwerking van politieke veranderinge op die mens baie dieper en meer omvattend as wat die meeste van ons eintlik besef.

Dit kan hoop bring, soos wanneer nuwe beleide groter gelykheid en regverdigheid teenoor die bevolking in geheel bevorder en ten alle tye streng gehandhaaf word.

Politieke verandering kan ‘n land se welvaart maak of breek. Dit kan onsekerheid en vrees aanwakker – soos nou – waar daar onduidelikheid is oor die rigting waarin die land beweeg. Wat lê voor indien veranderinge te skielik en drasties sou gebeur? Is daar inderdaad goeie vooruitsigte op die horison, en hoe gaan dit ons raak? Tans weet niemand wát die toekoms hier vir ons inhou nie en daarom staan die meeste van ons baie kleingelowig teenoor enige beloftes en praatjies oor vooruitgang. Vooruitgang wat uiters noodsaaklik is om hierdie stadig-sinkende skip van ‘n hopelose ondergang te red, indien dinge níé drasties verander nie.

Agterdog oor die onbekende wat voorlê bring ‘n magdom nuwe uitdagings mee. Mense soek sekuriteit, voorspelbaarheid en harmonie. Wanneer dit ontbreek, kan dit gevoelens van angs en spanning vererger. Omdat individue sukkel om hulself te oriënteer in ‘n wankelrige, veranderende omgewing, gee dit weer aanleiding tot wantroue en meer onenigheid teenoor die sogenaamde leierskap.

Vanweë soveel Suid-Afrikaners oningelig, ongeletterd en naïef is, kan dit mense laat polariseer met onderduimse groepe wat anderse idees en oplossings verkoop, waarby húlle deur middel van eiegewin beter baat as om ‘n nasie se beste belange op die hart te dra.

Tog, te midde van al hierdie uitdagings is daar ook potensiaal vir groei en aanpassing.

Onsekere tye dwing mense om buigsaam en innoverend te wees, om nuwe maniere te vind om struikelblokke die hoof te bied en om gemeenskappe te bou wat bekwaam is om positiewe veranderinge die lig te laat sien.

Ons almal weet waar die sleutel lê; in die vermoë om veelsydig te wees, om oop te bly vir nuwe idees, en om SAAM te werk om ‘n gesonde en voordelige toekoms vir almal te bou.

Suid Afrika beskik beslis oor die dinkkrag en dryfkrag wat nodig is om ‘n suksesvolle regeringstruktuur op die been te bring. Maar, dit sal alleen moontlik wees wanneer ons ophou sanik, dwarstrek en onsself jammer kry oor hoe ons te na gekom word. Ons moet begin saamstaan om die onkruid uit te roei en die onmoontlike moontlik maak.

Die vraag is net: Wanneer?




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed