
MARLBORO WALMS EN SKIETGEBEDE
Hulle sê mos mense wat nie vloek terwyl hulle bestuur nie, hou duidelik nie hulle oë op die pad nie. Ek praat nie van al die slaggate wat groter as ons president se fire pool is nie, maar eerder van diegene wat skielik agter ‘n bos uitspring, jou na jou asem laat snak en jou forseer om in ‘n kwessie van nul tot honderd in 0.5 sekondes jou verkeersgordel aan te sit.
Dit was 2013. Ons het ‘n voertuig in die Oos-Kaap gaan haal. Ek het nog my 1400 Golf gery – SONDER. ‘N. LISENSIE. Op pad terug na die Vrystaat, stop ons in Aliwal-Noord vir ‘n laatmiddagete. Pizza… en wyn! Een glasie is mos nog onder die drinkgrens en dit was ‘n lang dag op die pad.
Ons ry verder. My senuwees hang aan flarde. Ons is al verby twee padblokkades en op die Vrystaat se winterhorison sien ek nog ‘n spannetjie spoedspeurders. ‘n Gut feeling sê vir my dat ek nié third time lucky gaan wees nie. Soos ons nader aan die blouligbrigade kom, sweet my hande en dit voel kompleet asof ek die stuurwiel vol baba-olie smeer (op ‘n nie-kinky manier). Ek rook die een sigaret na die ander; wetend dat my asem na drank ruik en boonop het ek ook nie ‘n bestuurslisensie byderhand nie. Ek verander die woorde van die Lady Gaga liedjie wat oor die radio speel na “just drive… gonna be okay!”
My medebestuurder jaag soos ‘n besetene, maar ek weet as ek nou voet neersit gaan hulle foto’s van my neem sonder dat daar tyd gaan wees om te glimlag. Ek sien hy is deur die verkeersorgie en ek hoop en bid dat hulle tog so grootmoedig met my ook sal wees. Tevergeefs. Hulle trek my af. Ek parkeer langs die pad en probeer my broek droog hou. Tot my verbasing, kom daar ‘n jongerige spoedkoekie aangestap. Sy buk by die venster en dit was die eerste keer in my lewe dat ek bedags die melkweg gesien het. Ek draai die venster oop, gee vir haar twee blou skille en sê: “Gaan kry vir jou KFC vir aandete.”
Sy neem dit en wens my ‘n voorspoedige reis toe. Ek sou nie toegelaat het dat so ‘n stuifmeelkoekie haar driewiel voor my kom spin nie. Later daardie aand in Bloemfontein toe ek die motor se deur oopmaak, sien jy net Marlboro walms en skietgebede die lug beklouter… Volgende keer sal ek harder bid en minder rook.
4 Kommentare
-
-
Poetrydancer
Francois, ek het hierdie stukkie nou rerig geniet. Lekker lees humor prentjie. Pragtige beelde van die baba olie nie vir plesier nie en dan in die slot waar die walms beskryf word.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Okatopi
Ja nee :-)