
MY VRIENDIN SE KOEK
Ons was laat vir ‘n vriendin se verjaardagpartytjie en ek moes ‘n koek saamneem. Wanneer ek bak, word dit b(e)rou. Daar was anyway nie genoeg tyd om ‘n koek te bak nie. Ons het sommer by die naaste Spar gedraai om ‘n koek te koop. Die gespook en spartel vir tyd het my senuwees op hol gejaag en ek sien toe hulle wynrakke raak. Ek dink toe, kom ek koop maar vir my ‘n ou botteltjie.
So is ons sterk op pad na die partytjie se venue. Ek sit op die passasiersitplek; die helfte van die 1.5 liter Four Cousins reeds uitgedrink, want dit was ‘n lang dag. Ek sing al soos die verlore vyfde nefie saam die Cher treffer wat deur die motor se radio resoneer; vriendin se koek op my skoot. ‘n Paar meter verder gewaar ons ‘n verskeersbeampte langs die pad. Ek gooi die halwe bottel wyn op die agtersitplek, maak my veiligheidsgordel vas en sit die radio sagter. Gelukkig het hy ons nie afgetrek nie. Ons ry verder.
Nadat ‘n rooi verkeerslig ons tot stilstand gebring het, voel ek ‘n trilling. Die motorsleutels en die wynbottel klingel. Selfs die koek op my skoot is aan’t bewe. Skynbaar was dit ‘n aardbewing – wat sosiale media meer as die land laat skud het. Ons het die aardbewing oorleef en ry verder. Dit is herfs en raak redelik vroeg skemer in Bloemfontein. Skielik hardloop daar ‘n kat (of een of ander gedierte – ek is nie heeltemal seker wat dit was nie) oor die pad. Teen 100km per uur in ‘n residensiële gebied briek ons en swaai uit. Drift en square behoorlik soos ons draai.
Ek buig skuins-agteroor, strek en skeur amper my heup terwyl ek die wynbottel op die agtersitplek probeer red. Ek het hom nét betyds gevang voordat hy van die sitplek afgewetter het. ‘n Splitsekonde nadat ek die wyn gered het, briek die voertuig skielik vir nóg ‘n ding wat oor die pad hardloop. Hierdie keer was dit ‘n bobbejaan so groot soos ‘n mens. Ek kon nie mooi sien nie, want my vriendin se koek sit die hele windscreen vol.
Dit was die eerste en die laaste keer dat ek my vriendin se koek vervoer het…
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Grootvissie
Hehehehehe...hoe lag ek nou...mooi geskryf Francois