Jongste aktiwiteit:

Misterie van ’n uitdyende kosmiese tydmasjien

Tyd sit om in kennis en kennis brug wysheid. Ons noem dit ondervinding of ‘lewenswysheid’, wat ’n mens bekom het oor ’n tydperk. Wysheid en kennis noop die mens om in verwondering te staan voor die misterie van die skepping van God asook die grootsheid en ondeurgrondlikheid van sy skepping. Selfs Salomo in al sy wysheid het nie die antwoord op alle vrae gehad nie (Spreuke31:18 ev.).

Die mens probeer al vir eeue lank die misterie van die skepping te ontrafel. Hoekom? Want dan word die ‘onbekende’ die ‘bekende’. Uiteraard is die mens geskape met ’n ondersoekende en wysgierige gees en deur God aangestel as Sy rentmeester op aarde, om Sy skepping te bewerk en te bewaak. Dít lei die mens noodwendig tot die bestudering van die heelal, wat as kosmologie bekend staan.

Die kosmologie is na my mening die kern waarin alle dissiplines funksioneer. Of dit nou Sterrekundiges, dierkundiges, wiskundiges, die fisikus, die filosoof, die ekoloog, ensovoorts, selfs die digter en die teoloog is. Almal vind mekaar binne die kosmologie, alhoewel vanuit verskillende gesigshoeke en met bepaalde vooropgestelde idees en opinies. Gottfried Wilhelm Leibniz het dit pragtig gestel: ‘Dit is ’n nimmer-terugwykende geveg teen skeptisisme en dogmatisme, ongeloof en bygeloof, wat gesamentlik gevoer word deur die godsdiens en die wetenskap, en die lydende wagwoord in hierdie oorlog was nog altyd en sal deurgaans in die toekoms wees: Voorwaards na God!’ Ek sal egter nie op die detail hier ingaan nie, daar dit buite die skopus van hierdie rubriek val. Ek sal eerder konsentreer op een aspek waarna al hierdie dissiplines soek en op pad is, naamlik ‘die onbekende’.

Ek is van mening dat God die mens toelaat om die misterie van al hierdie wonderlike dinge in sy skepping te ontrafel, maar tot op ’n punt waar Hy ’n streep trek en sê ‘dit is nou vêr genoeg, hier gaan jy nie oor nie’. Dít is die grens tussen die bekende en die onbekende. Een van die mees gesaghebbende wetenskaplikes van alle tye, Albert Einstein, het in gesê ‘Voor ons staan die heelal soos ’n groot, ewige raaisel.’

Die heelal is een groot uitdyende, skitterende tydmasjien waarbinne alle orde rondom tyd draai. Tyd draai die nag- en daeraad. Tyd draai die seisoene. Tyd draai die jare. Alles draai om tyd. Jy kan tyd nie terug draai nie. Tyd snel voort na die ewigheid, en die ewigheid huisves die onbekende. Maar, en ek kan dit nie beter stel as met die woorde van die russiese wetenskaplike, Fjiodor Dostojeweski: ‘Daar kom oomblikke wanneer tyd skielik stilstaan en plek maak vir die ewigheid.’

Tyd is bo alle twyfel ’n kardinale faktor in die raaisel van die mens se verwisseling van die tydelike met die ewige en betreding van die ‘onbekende’ …
——————————————–oo00oo——————————————
©Pieter Mostert [Silwer]
Bronnelys
1. Boslough, J. 1992  Masters of Time. London: J.M. Dent.
2. Jeans, sir J. 1934  Through Space and Time. Londen: Cambridge University Press.
3. Joubert, G. 1998  Die Groot Gedagte. Tafelberg-Uitgewers Bpk. Kaapstad.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed