Jongste aktiwiteit:

Moeg vir die storms

Moeg vir die storms

Die Vlieënde Hollander was in ’n storm onder by Kaap die Goeie Hoop vasgevang, so vertel die verhaalskrywers, maar Kaptein Van der Decken wou niks weet van omdraai nie; hy wou deurdruk, al was dit tot in die hart van die storm.

Selfs toe ’n groot golf oor die skip breek, dwing hy net sy bemanning om harder te werk om die water uit die skip te pomp: “Godverdomme! Ek sal hierdie reis voltooi, of dieselfde roete tot die oordeelsdag seil!”

Dit is sekerlik algemene kennis dat storms, beide die tasbare en die innerlike, ’n wesenlike deel van elke skepsel wat asemhaal is. Sommige van ons se storms verskil na gelang van ons omstandighede, maar daar is tog ’n klomp storms wat ooreenstem en soms, raak ek net té moeg vir al hierdie storms …

Gister het ek die soveelste gesprek met ’n sakepersoon gehad wat nog nie die mooiweer aan die anderkant van Februarie 2018 se politieke storms sien nie. Die tydperk van vrede en spreekwoordelike melk, pap, kaiings en koue wyn is nog nie eens ’n kolletjie op die goeie vooruitsigte van die sake-horison nie, maar tog verwag die politieke grafgrawers dat mense die as van jare se kommer en vrees net eensklaps moet afstof en moet glo dat die storms verby is. Die werklikheid kan egter nie verder van die “waarheid” verwyderd wees nie.

Doer onder vanuit Australië is daar blykbaar ’n geroep om Suid-Afrikaanse boere , saam met die nasate van uitgewekenes, ’n nuwe heenkome op die aarde se kleinste kontinent te bied.

Ons boere, ons voedselvervaardigers, wat in ’n storm om oorlewing op hul eie grond vasgevang sit, word as’t ware ’n gratis vlugkaartjie en -pas uit die storm op ’n skinkbord aangebied. “Kom voltooi jou reis hier by ons.”

Die stormkenners en waterskeppers onder ons, wat al moeg geprobeer is om die skip te red, sal nie een van ons mense veroordeel omdat hulle dit oorweeg om hul vertrapte geboortereg in hierdie land met sy slaggate en vuil strate, letterlik en andersins, vir ’n heenkome prys te gee nie; tewens, as ek kon, sou ek my gesin waarskynlik ook op ’n trekskip wou sien klim …

Iemand skryf nou-die-dag weer dat die pen magtiger as die swaard is en dat dit soms mag gebeur dat ons wat kwistig ons gedagtes daarmee uitstort, die aanspreek van die werklikheid omseil deur agter ons geskrewe werk te skuil. Moontlik is die siening korrek, want dit is tog redelik eenvoudig om op papier afstand tussen jou as skrywer, jou gedagtes en die leser te skep; afstand wat debat en gesprekvoering oor die inhoudelike amper onmoontlik maak.

Alhoewel, moontlik is die siening tog ook nie heeltemal korrek nie, want om die storms wat in die meeste mense rondom ons se gemoedere en lewens woed op te som, saam te voeg en te bewoord, verg juis ’n eensydige beskouing; ’n voortbeur sonder die hindernis van ’n debat wat alewig poog om die “storm” in bedwang te wil bring!

Moontlik is dit juis die aanhoudende strewe na sogenaamde gesonde gesprekvoering en -kompromie wat ons mense, ons boere en ons besighede in ’n vakuum van magte- en lusteloosheid vasvang, so-by-so, dat die storms bo-oor ons kan losbars en vergrype en toekomsvrese so afgewater word, dat ons dit as die “norm” van ons bestaan begin aanvaar.

“Aan die ou einde van die dag” – soos Naas Botha sou sê – herken ons nie meer gevaar of selfs die bestaan van storms in en om ons omgewing nie!

Die aanslae en storms op ons deurdrumpels is egter wel daar en alhoewel ons dit soms wil wegwens, moet ons begin om meer gereeld te kies om die hoed van ’n “Kaptein Van der Decken” op te sit en die oog van die storm met “stokke en kieries” by te loop.

Ons, ek en jy, moet met of sonder pen en papier die aanslae wat ons beskaafde voortbestaan, ons kultuur en menswees bedreig stormloop en pak gee; die boere van ons land moet weet dat hul stadsmense elke liter wyn, sak mielies en hoender op ’n Sondagbraai waardeer. Ons godsdiensleiers moet opstaan en weet dat ons hulle sal ondersteun in die stryd om ons taal en kulturele integriteit te beskerm; selfs ons Houtbaai-vissers moet weet dat hulle nie alleen staan in die stryd teen die buitelanders wat ons mense se kwotas en brekfis van hul tafels af steel nie.

Kaptein Van der Decken het nie net sy skip in gevaar gestel deur die storm tromp-op aan te vat nie, maar ook sy bemanning en die ander passasiers saam met hom. Hul gekla en gekerm het hom nie afgesit nie en selfs toe die Almagtige self aan boord verskyn, het Van der Decken in sy woede met die storm sy pistool uitgepluk en ’n skoot op die “Verskynsel” gevuur terwyl hy skree, “moet my nie nou al kom haal nie!”

Daarmee het hy, volgens een van die verskeie verhaalweergawes, sy lot beseël en moet hy tot die oordeelsdag kom, oor die oseane seil …

Soms raak ek net té moeg vir die storms en maalstrome van roetine, verkeerde gewoontes en denkrigtings, moeilike omstandighede, geestelike verval, ensovoorts, maar soms, wanneer ek noodgedwonge agter die veilige skerm van my pen-op-papier inskuif, dan is daar Iemand wat self die “skip” se roer vasvat en my verseker dat ek aan die vele beloftes in Sy woord moet vashou – “Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade” – tot jou skip ook ophou seil en Ek jou kom haal.




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed