
My liefste Kaap.
My liefste Kaap
aan jou skryf ek vandag ʼn liefdeslied in hemelblou
sonder skroom bring ek aan jou ʼn woordelose gebed
male sonder tal het jy my uit diep, dooie donkerte gered
by Tafelberg waar witkruisarende sweef, geselskap gehou
in die oranje gloed van die sonsopkoms oor die vallei
kon ek my hart uitstort waar ek een word met jou
tussen rooihaartjies en sewejaartjies wat kop toevou
weet ek, hier by jou my liefste Kaap, is ek waarlik vry
jy spog met groot keur van spesies in Kaapse blommeryk:
die skaars Disa minor en Disa neglecta langs waterstroom
geplant uit Vader se hand waar dit groei sonder skroom
en die baie seldsame protea, Sorocephalus scabridus, pryk
tussen Stellenbosch en Franschhoek met talle wynplase
waar die blou van die berge wissel en na bo toring
verdrink ek in die bosryke wêrelddeel se bekoring
op jou, my beminde, skink ek vonkelwyn in kristalglase
geen wonder dat ek nie uitgepraat kan raak oor jou
met jou mooie mengsel van ongerepte natuur en veld
moet ek nou hier, my ewige liefde aan jou vermeld
ek maak plegtig my liefbelofte aan jou – in ewige trou
©MarleneErasmus
07/06/2023
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.