‘n Tarentaal red
“Jy kan kies. My plek of joune. Ek is nie bang vir bloed nie. Ek moes van jongsaf bokke se kele sny. Ek my eerste lewer geëet het en die springbok se bloed op my gesig gesmeer het,” sê die man met die stoppelbaard. Eric is woedend omdat Lucinda sy Chelsea-memorabilia verkoop het.
“Kom ons praat hieroor, Eric. Dit is mos nie nodig vir geweld nie. Dit is nie wie jy is nie,” paai die vrou met die verwarde kykers. Haar asem is vlak. Haar stem bewe.
“Dit is alewig die probleem. Almal sê vir my wie en wat ek is. Julle dink omdat ‘n bleeksiel soos ek ‘n regsgeleerde is dat my handjies sag is. Maar jy het ‘n hengse fout gemaak toe jy my blougoed verkoop het. Jy het geweet dit is na aan my hart en jy was jaloers omdat ek meer vir daardie sokkerspan as vir jou begin omgee het. Daarom het jy juis besluit om wraak te neem deur my sokkerspan se goed te verkoop – en dit op Bid or Buy vir ‘n appel en ‘n ei!” Hy hou die visier in haar rigting terwyl hy die woorde bitter oor haar uitspoeg waar sy in die fetusposisie in die hoek van haar sitkamer sit.
“Jy weet dit is verkeerd om ‘n vuurwapen op iemand te rig. Jy kan in die tronk daarvoor beland, jou vuurwapenlisensie verloor as ek my mond oopmaak,” dreig Lucinda.
“Dit is as jy leef om die storie te vertel. Jy vergeet, ek is ‘n regskenner, ek kan al die loopholes van die gereg. Al is jy ook ‘n regter se sekretaresse en bekend met moordsake, is jy te min streetwise om die vingers na my te laat wys.” Hy smaal.
“Kan ons ten minste dan buite gaan, asseblief? Linda is die erfgenaam van hierdie sitkamerstel en as daar bloed op is, of die feng sui versteur is, sal sy dit nie vat nie en dan sit jy daarmee opgeskeep.” LInda probeer haarself staal. Kalm dink. Na ‘n huwelik van twee jaar weet sy, Eric hou nie van moeite nie. En dit sal beslis moeite wees om haar meubels te verpand of die bloed daarvan af te was. “Jy sal die bloed veel makliker buite verwyder, want ek weet bloed spat en kruip daar waar jy nie sien nie.”
Die aanvaller oorweeg vir ‘n oomblik haar voostel en vryf oor sy ongeskeerde baard. “Nou goed, maar ek belowe, een simpel move ek blaas jou bokveld toe en dump jou lyk waar niemand jou sal kry nie.”
Sy knik. Hy maak haar hande met haar serp vas en stuur haar in die rigting van die kombuisdeur terwyl hy die loop van die geweer teen haar rug druk. Toe sy haar voete oor die drumpel sit, fluit sy en Gawie die gans kom om die hoek van die huis. Hy storm op Eric af. ‘n Skoot knal en Lucinda stamp Eric grond toe. Die geweer trek meters ver. Die gans byt haar eksman in die nek. Hy skreeu. Lucinda wikkel haar hande los en hardloop na die nabye voëlhok. Sy tel ‘n tarentaal met bewende hande op en slaan die voël teen die slaap van die man wat skreeuend aan sy nek met sy een hand klou. Met die ander hand probeer hy die gans verwilder. Meteens hou sy logge lyf op beweeg. Die tarentaal kekkel hard en hardloop na sy hok.
“Halt,” skree Lucinda vir die gans. Gawie hou op en sy gaan haal haar selfoon om die prokureur te bel wat haar skeisaak destyds hanteer het.
Daardie aand klink sy ‘n glasie op die voëls, die verkoop van Ernst se Chelsea-memorabelia vir honderde ponde en haar waarskynlike onskuldig bevinding. Dit was immers selfverdediging.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.