Oorlams
In snikhete hitte
rol ek in irritasie rond
ek hoor hoe hy al harder
nader aan my kom…
Ek sug en dink hardop –
“nie vanaand nie asseblief”
trek die kussing oor my kop
en my kuite op ń knop
Die soet geur van perspirasie
wat aanklam teen my lyf
het die vabond weer vannag
na raserny gedryf
Soos ń blouboontjie-bokhael
pyl hy reguit op my af
die warmte van my asem
gooi hom van sy trollie af!
Sy gekerm in my ore
weerhou my van slaap
na die hoeveelste oorveeg
moker ek die vabond raak!
Vlak voor drie, met ʼn opmoeg vaak
wat donker oor my hang –
verval ek in ʼn diepe slaap
met ń bloedblerts op my wang.
*** FEIT: Dit is nié die arme mannetjie muskiete wat snags so oorlams is nie, maar die wyfies. Die mannetjies lewe van plantsap terwyl die wyfies ons laat les opsê! ***
©Loretta Szikra
20151208
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2017 – Oop projek