Jongste aktiwiteit:

INLIGTINGSTUK: Stergradering, Projekte en Slypskool
vir

INLIGTINGSTUK: Stergradering, Projekte en Slypskool

Beste INKers

Die bestuur het dit goed gedink om ‘n paar huishoudelike veranderinge aan te bring. Dit is natuurlik op hierdie stadium steeds oop vir julle opinie, en daarom wil ek julle by die aanhef hiervan uit nooi om daaroor te kommunikeer indien die voorgestelde wysigings verwarrend blyk te wees.
Die veranderinge in werksaamhede sluit in:
1. Die Stergradering,
2. Die wyse waarop projekte beoordeel en gekrit gaan word,
3. Die  Slypskool afdeling op die wenwerf.

STERGRADERING:
Aangesien sekere lede reeds gevorder het en in nuwe kategorieë geplaas is, het ons, ter wille van gesonde kompetisie, dit goed gedink om elke lid op sy/haar eie meriete en status te beoordeel. Met ander woorde, lede wat nog in die brons afdeling geplaas is sal slegs met ander lede in dieselfde afdeling kompeteer, silwer met silwer, goud met goud en meesters met meesters. Almal neem aan dieselfde projekte deel, maar elke ‘graad’ sal afsonderlik kan kompeteer vir ‘n 1ste, 2de en 3de plek. Ons moet toegee dat daar meer gesoute skrywers en digters is, en dit lei tot ‘n onregverdige platform vir almal. Niks verander aan die wyse waarop die moderator die werk onder oë kry nie. Dit word steeds naamloos gelewer en so beoordeel.

KRIT VAN PROJEKTE:
Vanaf die 1ste April 2018 sal die uitslae en volle kommentaar vir elke inskrywing onder die titel: MAANDELIKSE PROJEK: UITSLAE verskyn, onder die naam van die moderator. Die bestuur sal dan die name van die wenners bekend maak.
Dit sal dus ook as opleiding dien om jou te help met toekomstige inskrywings. Die kommentaar gaan eerlik en STRENG gedoen word maar daar sal genoegsame komplimente gepaardgaande wees.
Daar mag SLEGS DRIE (3) inskrywings per lid aan die projek gekoppel word.
Die basiese reëls van digkuns sal STRENG toegepas word tesame met genoegsame leiding wat spesifieke opdragte betref.
Dit is belangrik dat jy ag slaan op kommentaar sodat jy daaruit kan leer.

SLYPSKOOL:

Jy mag nie werk hier plaas wat vir projekte ingeskryf is nie. Hierdie afdeling dien slegs as addisionele hulp maar kan nie leiding gee aan werk wat vir projekte geoormerk is nie.
Daar word gemerk dat lede hul werk plaas vir slypskool en dan geen reaksie toon op die moderator se terugvoer nie. Dit is teen-produktief en maak dié afdeling sinneloos. Die reël is soos volg:
a. Jy plaas jou werk in hierdie afdeling.
b. Die moderator lewer kommentaar.
c. Jy stuur ‘n persoonlike boodskap op INK na die Moderator om die voorstelle te bespreek.
d. Die moderator antwoord jou. Julle korrespondeer tot ‘n finale ‘produk’ bevestig is.
e. Jy gaan terug en redigeer jou werk indien dit so besluit is, want waarom anders sou jy aan die proses deelneem?

Ek wil almal aanmoedig om van al die instrumente gebruik te maak om daagliks te groei in die kuns van skryfvaardigheid. Raak betrokke by jou mede lede se werk, lees, lees en lees. Die belangrikste deel van skryfwerk, hetsy poësie of prosa is LEESWERK. Hoe meer jy lees, hoe meer word jy bewus van ander idees, menings, style, invalshoeke ens. ‘n Aktiewe lees kultuur help ook skrywers om die geykte te identifiseer en vernuwend te dink oor hulle eie skryfwerk.
Stuur gerus julle vrae na die inkmoderator hier op INK as ‘n inkassie boodskap dan kan ons dit op die forums bespreek. Die epos adres mag NIE gebruik word om gedigte te krit nie, tensy daar persoonlike kontak en toestemming tussen uself en die moderator verleen is.

Skryf in Afrikaans – ‘is mos lekker!
INKmoderator




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed