114 Die Canzonetta
114 Die Canzonetta
Die Canzonetta of Canzonet is ‘n variasie van die conzone wat ‘n liriese gedig is van varieerende metriese patrone en versreël lengtes. Hierdie gedig het ontwikkel uit die madrigaal wat oorspronklik ‘n lied was. Die canzonetta bestaan uit ten minste twee oktawe en wat daarin wisselende koeplette het. Die laaste versreël van elke frase word in elke stansa herhaal as ‘n refrein versreël. Vir die canzonetta is die rymskema:
ababcdcD / ababcdcD …
(Soos gewoonlik dui hoofletters op refreine wat herhaal)
Alhoewel daar nie ‘n vasgestelde metrum of versreël lengte is nie, stel die metrum van die eerste versreël die tempo van die gedig en word dit dwarsdeur lettergrepig daarvolgens geskryf en is die meeste hedendaagse gedig wat ek kon kry in jambiese pentameter geskryf.
Ryter Roethicle se gedigte “Retribution,” “As You Wish,” “Flight,” “Friendship,” “Hot Summer Nights,” “Potency of Dreams,” “Seths Feast,” “Sky,” “So Dark,” “Stranger in my own land,” “Swan of Tuonela” en “Touch Me There” is baie goeie voorbeelde van die Canzonetta.
Hier is my poging tot die Canzonetta:
Magteloos verstom en verblind (Canzonetta)
a Die koue winter wind huil soos ‘n kind
b as die swart ryp wyd versprei met skade
a of dit nêrens ooit enige troos gaan vind
b die natuur toeslaan sonder enige genade,
c huil soos ‘n meisie deur liefde verlaat
d as trane helder blink in druppels dou
c nesloos ‘n voëltjie sit sonder ‘n maat,
D is daar selfs ‘n smagting in die kobaltblou.
a As die droogte die laaste graan verslind,
b stof strepe rooibruin opslaan vol sade
a wat net weg waai in die woeste stormwind
b is daar selfs nie krag in al jou dade,
c is dit asof selfs God jou alleen laat,
d alhoewel jy styf Sy hand wil hou,
c dit dan voel of mens nêrens meer kan baat,
D is daar selfs ‘n smagting in die kobaltblou.
a raak mens magteloos verstom en verblind,
b sien jy voëltjies troosteloos op drade
a voel jy deur God heeltemal onbemind
b sien jy vertwyfeling by jou gade
c is daar ‘n teistering, ‘n tipe haat
d wat met duisternis om jou hart wil vou,
c tref die noodlot geheimsinnig akkuraat,
D is daar selfs ‘n smagting in die kobaltblou.
Die canzonetta Prime bestaan uit ten minste twee oktawe en wat daarin wisselende koeplette het. In die Canzonetta Prime is die herhalende verband veel sterker en die rymskema daarvan is: ababcbcB / ababcbcB ….
(Soos gewoonlik dui hoofletters op refreine wat herhaal)
Alhoewel daar nie ‘n vasgestelde metrum of versreël lengte is nie, stel die metrum van die eerste versreël die tempo van die gedig en word dit dwarsdeur lettergrepig daarvolgens geskryf en is die meeste hedendaagse gedig wat ek kon kry in jambiese pentameter geskryf.
Hier is my poging tot die Canzonetta Prime:
Anderkant die pad strek die veld wyd uit (Canzonetta Prime)
a Anderkant die pad strek die veld wyd uit
b met loeries wat mekaar roep en rondloer,
a daar is boomtakke wat krap aan die ruit
b en vroegoggend plas die son op die vloer
c as vinke in die takke rond dawer
b duiwe al die bome vol sit en koer,
c in die tuin is daar ‘n rooi papawer,
B en ek is met hierdie toneel ontroer.
a Uit die kombuis kom die geur van beskuit
b waar jy die deug vir brood sorgsaam deur roer,
a die honde blaf so hard dat my ore tuit,
b om jou nek glinster ‘n goue halssnoer
c met ‘n pendant in die vorm van ‘n klawer,
b jy glimlag of jy my kan meevoer
c na herinnering van ‘n dag in die hawer
B en ek is met hierdie toneel ontroer.