Jongste aktiwiteit:

116 Die Catena Rondo
vir

116 Die Catena Rondo

116 Die Catena Rondo

Die catena rondo was geskep deur Robin Skelton wat ‘n akedemikus, ‘n skrywer, digter en ‘n samesteller van bloemlesings is. Die catena rondo is ‘n kwatryn (dus vier versreëls) en die tweede versreël vorm ‘n rymende koeplet met die derde versreël en word ook gebruik as die eerste en laaste versreëls van die volgende kwatryn. Enige aantal stansas kan so gekryf word en die finale stansa is die eerste stansa wat netso herhaal word. Baie mense dink dat hierdie versvorm slegs geskryf kan word vir gedigte van vyf stansas en langer maar die kortste wat hierdie versvorm kan wees is drie stansas wat ‘n stelling, verbinding en ‘n afsluiting het waarvan my eerste gedig hieronder ‘n voorbeeld is.

Die rymskema is AB1B2A / B1CcB1 / CDdC …. AB1B2A Daar is nie ‘n vasgestelde metrum nie, maar die meeste digters skryf hierdie versvorm in jambiese pentameter.

MaryseAchong se gedig “Special,” Divena Collins se gedigte “The Divinity of Music,” “A Haunting Melody,” “The Poetess,” Jem Farmer se “On Butterfly Wings,” Sapphic Lyre,” Ryter Roethicle se “Eternal Fire,” “Hell Remains,” “Jus ta Wraith,” “Love in Mind,” “Noctrunal Loss,” Nia Wynne se “Crashing,” “Don’t Know Love” en veral Moss Macan Ghoill se “So Misty through the Dream” is baie goeie voorbeelde van hierdie versvorm.

Hier is my pogings tot die Catena Rondo:

Toe reën die wêreld buite begin afkoel (Catena Rondo)

Daar was ‘n breë glimlag op jou mond
toe reën die wêreld buite begin afkoel
en al jou klere was netjies op ‘n stoel,
daar was ‘n breë glimlag op jou mond

toe reën die wêreld buite begin afkoel
daar was ‘n breë glimlag op jou mond,
jou lyf was slank, jou borste groot en rond
toe reën die wêreld buite begin afkoel

daar was ‘n breë glimlag op jou mond
toe reën die wêreld buite begin afkoel
en al jou klere was netjies op ‘n stoel,
daar was ‘n breë glimlag op jou mond…

Breekpunt (Catena Rondo)

Soms is daar kort oomblikke wat lank draal
as jou oog myne intiem eerlik vang
dan is ek tegelyk soms bly en bang;
soms is daar kort oomblikke wat lank draal

as jou oog myne intiem eerlik vang,
as jy sonder woorde by my huiwer,
soms is ons liefde dan rein en suiwer,
as jou oog myne intiem eerlik vang

as jy sonder woorde by my huiwer,
verwag jy dat ek van my dag vertel,
van werk se daaglikse glorie en hel
as jy sonder woorde by my huiwer,

verwag jy dat ek van my dag vertel;
as ek eerder meer van jou wil weet,
as ek die geroesemoes, die stres vergeet;
verwag jy dat ek van my dag vertel

as ek eerder meer van jou wil weet,
as ‘n oomblik tot ‘n breekpunt wil kom,
dan is ek soms deur jou prag verstom,
as ek eerder meer van jou wil weet

as ‘n oomblik tot ‘n breekpunt wil kom;
soms is daar kort oomblikke wat lank draal
as ons beide ons eie maskers afhaal,
as ‘n oomblik tot ‘n breekpunt wil kom;

soms is daar kort oomblikke wat lank draal
as jou oog myne intiem eerlik vang
dan is ek tegelyk soms bly en bang;
soms is daar kort oomblikke wat lank draal.

Daar is ‘n oomblik wat so volmaak is (Catena Rondo)

Daar is ‘n oomblik wat so volmaak is
dat ek dit nie wil versteur met ‘n woord
as liefde kom tot ‘n perfekte akkoord;
daar is ‘n oomblik wat so volmaak is

dat ek dit nie wil versteur met ‘n woord
as jou blik oor my dartel soos ‘n vlinder
waar enige beweging dit kan hinder,
dat ek dit nie wil versteur met ‘n woord

as jou blik oor my dartel soos ‘n vlinder
waar liefde weergaloos mekaar deurstraal,
ek vir oomblikke lang vlietend asemhaal
as jou blik oor my dartel soos ‘n vlinder

waar liefde weergaloos mekaar deurstraal;
daar is ‘n oomblik wat so volmaak is
as jy bemin met ‘n intieme kennis
waar liefde weergaloos mekaar deurstraal;

daar is ‘n oomblik wat so volmaak is
dat ek dit nie wil versteur met ‘n woord
as liefde kom tot ‘n perfekte akkoord;
daar is ‘n oomblik wat so volmaak is…

Gedurig bly daar ‘n soet herinnering (Catena Rondo)

Gedurig is maatreëls pure verniet
om nie met jou weer te doende te kry
as die lewe my terug na jou toe lei
gedurig is maatreëls pure verniet

om nie met jou weer te doende te kry,
gedurig bly daar ’n soet herinnering
as ek myself weer so vêr probeer bring
om nie met jou weer te doende te kry

gedurig bly daar ’n soet herinnering,
gedurig is maatreëls pure verniet
verskyn jy in my lewe uit die niet,
gedurig bly daar ’n soet herinnering,

gedurig is maatreëls pure verniet
om nie met jou weer te doende te kry
as die lewe my terug na jou toe lei
gedurig is maatreëls pure verniet.

Veels te kort (Catena Rondo)

Veels te kort sonder nagedagtenis
het ek jou kon ken en jou kon bemin,
nou loop daar baie jare tussenin,
veels te kort sonder nagedagtenis

het ek jou kon ken en jou kon bemin
was ons uitgelewer aan die noodlot,
die ongekende weë van ons eie God,
het ek jou kon ken en jou kon bemin

was ons uitgelewer aan die noodlot,
veels te kort sonder nagedagtenis
was die einde van jou lewe beslis,
was ons uitgelewer aan die noodlot,

veels te kort sonder nagedagtenis
het ek jou kon ken en jou kon bemin,
nou loop daar baie jare tussenin
veels te kort sonder nagedagtenis.

As ek jou bemin wankel my wêreld (Catena Rondo)

As ek jou bemin wankel my wêreld
as jou dieptes my sidderend omsluit
dan wil ek dieper, nie ontsnap daar uit
as ek jou bemin wankel my wêreld

as jou dieptes my sidderend omsluit
wil alle ander dinge skielik vervaag,
ek my tot ‘n nuwe heelal skielik waag
as jou dieptes my sidderend omsluit

wil alle ander dinge skielik vervaag,
gee ek nie om as drenkelinge vergaan
as metoriette in die aarde vas slaan;
wil alle ander dinge skielik vervaag,

gee ek nie om as drenkelinge vergaan
as ek jou bemin wankel my wêreld
vind ek my in ‘n ander buitewêreld
gee ek nie om as drenkelinge vergaan,

as ek jou bemin wankel my wêreld
as jou dieptes my sidderend omsluit
dan wil ek dieper, nie ontsnap daar uit
as ek jou bemin wankel my wêreld.

Sal jy my bemin as die ouderdom kom (Catena Rondo)

Sal jy my bemin as die ouderdom kom
of is ons liefde net vir nou uitgemeet
of sal veel later nog steeds van my weet,
sal jy my bemin as die ouderdom kom?

Of is ons liefde net vir nou uitgemeet
as oomblikke bloot iets volmaak besit
alles nog maklik is in die swart en wit,
of is ons liefde net vir nou uitgemeet

as oomblikke bloot iets volmaak besit;
is daar dan ‘n tyd waar alles verval
in ons eie klein verhoudings heelal
as oomblikke bloot iets volmaak besit?

Is daar dan ‘n tyd waar alles verval
as dae duister word en kragte min
sal die einde van ons twee dan begin
is daar dan ‘n tyd waar alles verval?

as dae duister word en kragte min
sal jy my bemin as die ouderdom kom
as ek swak is, dalk dan half blind en dom,
as dae duister word en kragte min?

Sal jy my bemin as die ouderdom kom
of is ons liefde net vir nou uitgemeet
of sal veel later nog steeds van my weet,
sal jy my bemin as die ouderdom kom?

Verbeel ek my of hoor ek jou spin? (Catena Rondo)

Jy slaap met al jou vingers ingetrek
soos ‘n liefdevolle oulike kat s’n,
verbeel ek my of hoor ek jou spin?
Jy slaap met al jou vingers ingetrek

soos ‘n liefdevolle oulike kat s’n,
waar jy teen my snoesig opgekrul lê,
waar jy in jou slaap woorde sê
soos ‘n liefdevolle oulike kat s’n

waar jy teen my snoesig opgekrul lê
jy slaap met al jou vingers ingetrek
met fyn haartjies wat jou arms bedek
waar jy teen my snoesig opgekrul lê,

jy slaap met al jou vingers ingetrek
soos ‘n liefdevolle oulike kat s’n,
verbeel ek my of hoor ek jou spin?
Jy slaap met al jou vingers ingetrek.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Cornien het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Tearlach het ‘n nuwe publikasie gemaak