Jongste aktiwiteit:

126 Die Roundel
vir

126 Die Roundel

126 Die Roundel

Die roundel was afgelei van Franse digvorme naamlik die rondeau en rondine gedurende die negentiende eeu deur die Engelse digter Algernon Charles Swinburne (1837-1909). A.G. Swinburne word beskou as ‘n grootse digter as gevolg van sy gedigte “Atalanta in Calydon,” “Dolores” (1866) “Laus Veneris” (1866) en “Tristram of Lyonesse” (1882). Hy was ‘n digter met briljante tegniese vermoëns en sy eksperimente in die gebruik van metrum en rym het ‘n wye reeks poëtiese vorme en effekte voortgebring.

Hierdie versvorm moet nie verwar word met die rondeel (“rondel prime”) en Orleans rondeel wat ek reeds voorheen bespreek het nie en dit val in dieselfde rondeel familie as die triolet, rondelet, rondeel, Orleans rondeel, rondine, rondeau, villanelle en terzanelle.

Die roundel bestaan uit elf versreëls in ‘n kwatryn, ‘n triplet en nog ‘n kwatryn en netsoos die rondeau het dit ‘n stert (refrein) wat kom uit die eerste gedeelte van die eerste versreël en die tweede versreël rym met hierdie stert gedeelte. Hierdie gedig het slegs twee ryme soos die meeste rondeel gedig strukture. Die rymskema van die roundel is:

aba(stert B) / bab / aba(stert B) (soos gewoonlik dui ‘n hoofletter op ‘n refrein.)

Sara Teasdale se gedig “Roundel” en Algernon Charles Swinburne se gedigte “A Baby’s Death,” “A Clasp of Hands,” “A Dead Friend,” “A Dialog,” “A Flower-Piece by Fantin,” “A Landscape by Courbet,” “A Night-Piece by Millet,” “A Ninth Birthday,” “A Singing Lesson,” “Aperotos Eros,” “At Sea,” “A Baby,” “Before Sunset,” “Benediction,” “Birth and Death” is uitstekende voorbeelde van hierdie versvorm.

Hier is my pogings tot die roundel:

Pragtiger as ‘n blom (roundel)

a Pragtiger as ‘n blom is jy vir my,
b as jy soggens in die pad verby kom,
a as jou hare glinster, ek ‘n glimlag kry.
(stert B) Pragtiger as ‘n blom

b draai jy my om jou eie pinkie om,
a kan ek nie gevoelens vir jou vermei
b as jou menswees en grasie my verstom,

a as groot verliefdheid skielik my beetkry
b en soos ‘n skoolkind voel, ek ietwat dom,
a na jou kyk, jou bly bewonder en jy bly
(stert B) pragtiger as ‘n blom.

‘n Jubellied weerklink (roundel)

‘n Jubellied weerklink as die dag breek
in eerbied of elke mossie, duif en vink
hulle skepper self douvoordag aanspreek.
‘n Jubellied weerklink

as die lug oop is en so blou soos ink,
die son sy fakkel helder wit aansteek
terwyl die morester nog steeds blouwit blink,

water ritsel en glinster in die beek
of die oggend groots mens tot aksie wink
jou hart, jou siel met ware liefde deurweek;
‘n jubellied weerklink…

Met jou half onvertroud (roundel)

Met jou half onvertroud dring jou glimlag
deur al die skanse van my self behoud,
omsingel verliefdheid my met groot krag.
Met jou half onvertroud

het jou teenwoordigheid ‘n diepe eenvoud,
jou oë, gesig en lyf oorbluffende prag,
bruis gevoelens intiem en eeue-oud

so half bekend en tog ook onverwag
en ons is beide gevang en ongetroud
maar ek nie teen jou menswees bedag,
met jou half onvertroud.

‘n Goddelike gesant (roundel)

Die lig glinster suiwer in sy aanskyn,
as hy kom, nie eens ‘n oomblik huiwer,
soos ‘n donderslag wat val en weer verdwyn.
Die lig glinster suiwer

as hy Goddelike boodskappe aflewer;
veg teen onheil, duister, verderf en pyn
na God terugkeer as Sy beriggewer,

iewers buite die menslike bewussyn,
‘n wêreld waar als siek is en onsuiwer,
is daar lig wat ewiglik helder skyn;
dié lig glinster suiwer.

Soos ‘n kat (roundel)

Soos ‘n kat land sy in eie ewewig
as ek verstom my eie goed moet vat,
my lewe in stukke lê en ek is bewerig.
Soos ‘n kat

lê sy op tye uitgestrek en plat,
bemin sy al weer iemand reeds innig,
draai voor my oë in wreedheid ‘n soort rat,

is ontsteld en bly my gedurig beledig
en my wêreld kantel en ek is afgemat
terwyl sy rond rinkink en sy is lewendig
soos ‘n kat.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Cornien het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Tearlach het ‘n nuwe publikasie gemaak