13. Persiese kwatryne
13. Persiese kwatryne
Met die woord kwatryn dui ek ‘n strofe van vier reëls aan en ook ‘n vier reël gedig. Die Persiese of Oosterse kwatryn is ‘n vier reël gediggie met ‘n vaste rymskema as aaba. Die werk van Omar Khayyam wat gedurende die elfde eeu geleef het, is veral beroemd vir die Persiese kwatryn vorm wat ‘n invloed uitgeoefen het in die Westerse poësie. Edward Fitz Gerald het in 1859 vyf en sewentig van Kayyam se gedigte vertaal in sy “Rubaiyat of Omar Khayyam translated into English verse.”
In Nederland het P.C. Boutens en J.H. Leopold pragtige vertalings gepubliseer van die kwatryne van Kayyam. In Afrikaans het C.J. Langenhoven, Louis Leipoldt en A.H. Jonker van Kayyam se kwatryne vertaal. Uys Krige het het ‘n aantal Persiese kwatryne gepubliseer genaamd “Kwatryne van Abu’l-ala.”
Gewoonlik is Persiese kwatryne wysgerig in hulle inhoud en handel oor lewe en dood, vreugde en skoonheid en liefde en wyn. Daar is egter merkwaardige kragtigheid, wat sommige skrywers die “pregnante vorm” van die rymskema noem. Na die eerste twee a a reëls verskyn daar ‘n b rym reël en waar daar in die vierde reël weer ‘n b rym reël verwag word, verskyn daar weer ‘n onverwagte a rym reël wat die gedig of die kwatryn besonder kragtig afsluit.
Gewoonlik kom die tema van die gedig in die eerste twee reëls voor, met die mening van die digter in die derde reël en die gevolgtrekking of konklusie in die vierde reël wat dan die samevatting van die inhoud daarvan is.
In Afrikaans kies veral Uys Krige, S.J. Pretorius en D.J. Opperman Persiese kwatryne vir hulle oorspronklike gediggies. Uys Krige se kwatryne het ‘n duidelike verwantskap met ou Persiese gedigte en hy praat van die vreugde van wyn en die kortstondige lewe. Beide Pretorius en Opperman gebruik hierdie digvorm om innerlike ervarings en bewuswording uit te druk. Hier kan mens kyk na Uys Krige se “Netsoos matrose” en “Die Wyn” en Pretorius se “Pyn” en “Opgedroogte dam.”
Hier is van my gedigte waar ek die Persiese rymskema gebruik, aangesien dit so ‘n sterk rymvorm is waar mens nie maklik van dwangrym gebruik kan maak nie. In my gedig “Jy’t met jou kop op my bors gelê” maak ek opsetlik van dwangrym gebruik om aan die kritici te bewys dat ‘n gedig met dwangrym wel kan werk. Ek eksperimenteer hier met kwatryne volgens die Persiese kwatryn rymskema wat uit verskeie verse bestaan en alhoewel die hele gedig saambindend is, is elke vers egter ‘n afsonderlike kwatryn volgens die Persiese formaat:
aaba / ccdc /eefe/ gghg/ iiji
Ek sal sterf en na my moeder gaan
a Ek sal sterf en na my moeder gaan
a waar haar wit huis teen die berge staan,
b sonder enige verdere versuim
a sal ek my kar vat en die pad inslaan.
c Sterf van alles lelik in my,
c sterf van dit wat ons van mekaar skei
d en my so lank van haar
c weg laat bly het.
e As sy my daar inwag
e sal ons saam huil en lag
f en dit sal wees asof ek nooit weg was
e en ons sal praat tot diep in die nag, miskien tot die volgende dag.
g Ek sal weer van haar gekookte kos eet
g en van die diepte van moederliefde sal ek weet
h terwyl ons deur foto albums blaai
g sal ons van dinge onthou en vergeet.
i Voor die tyd vir altyd uitloop
i sal ons diep gesprekke aanknoop
j en ek sal sterf en na my moeder gaan
i met liefde en nuwe hoop en die lewe in, verder weer saam loop.
Jy’t met jou kop op my bors gelê
Jy’t met jou kop op my bors gelê
en baie min in die nag gesê
so asof woorde onnodig was
en tog het ek jou dig teen my gehê.
Buite het die plantegroei
spookagtig beweeg terwyl storm winde loei
en die reuk van liefde en reën het die lug gevul
en jou lyf het nog warm teen my gegloei.
In die kamer was dit ysig koud,
maar warm teen jou lyf en boud
en ek het jou hart in jou tepel voel vibreer
en ons gevoelens was intens nuut en eeue-oud.
Verby geraamtes van staal en beton
Verby geraamtes van staal en beton
het ek vanoggend gekom
en mense gesien wat klein soos miere is
tussen geel hyskrane kreunend en krom.
Waar wit rook uit ronde skoorstene stook
en mense in die halflig spook
of gloeiend in ‘n helse vuur van yster en metaal
verdwaal tussen oonde wat gloeiend kook,
was mense vasgevang en afgehok
deur mure, deure en dakke wat afblok
en verdwaal in die kringe wat die stad trek
en deur werk van die platteland af gelok.
Die dag was toegetrek en grou
maar nog het hulle aanhou bou
en sement trokke het die pad vol gestaan
terwyl werkers aan swart pype vasklou.
Oorkant die straat het kinders gelag
vasgevang deur geblikte plesier wat dag en nag
sonder ophou pols
en bedelaars het met uitgestrekte hande gewag.
Op die platteland het God die mooiste roos gemaak
a Op die platteland het God die mooiste roos gemaak
a waar die koppies in die verte aan die horison raak
b spruit sy in die velde uit
a en huppel springbok rats asof geen man haar kan baasraak.
b In haar kombuis staan baksels beskuit
b en die buitedeur word gesluit
c tot die laaste pan uit die oond uit kom
b en besoekers dan daarop toeslaan as buit.
c en as jy by haar aankom
c moet jy jou storie ken of sy draai jou om haar vinger om
d want sy’s ‘n rissiepit en maak al wat ‘n vryer is deurmekaar
c en haar skoonheid laat almal verstom
d en met haar terggees kan sy niemand spaar
d want van vêr kom talle besoekers na haar
e bring geskenke en al wat blom is
d wat sy met tye vat of glad nie aanvaar
e en soos ‘n ratse akkedis,
e is sy voorbereid op elke gebeurtenis,
f ken sy elke wegkruip plek
e maar sy bring aan skoonheid nuwe betekenis.
By Houtbaai vaar daar vistreilers uit
By Houtbaai vaar daar vistreilers uit
terwyl die reën neer spuit
soos water uit God se tuinslang
met enjins wat mens se ore laat tuit
en wolke rook wat oor die skuite hang
is elke visserman vir ‘n oomblik vasgevang,
in ‘n eie wêreld terwyl mis om die bote dwarrel
en daar op en af gewieg word tot by die hawe uitgang.
Die golwe slaan, die see bruis en borrel
en “my nooi het ‘n goeie kêrel,”
sing een terwyl die treiler rigting kry
op soek na snoek, kabeljou en see forel.
“Kyk nou daardie blink lywe, tonne forel, hulle hardloop vry,”
skreeu ‘n visserman teen die wind wat ruk-ruk oor die boot sny.
“Salm man, salm” bulder die stuurman terug en walle water
rol verby en die skuit draai om vang gerei uit te kry.
“My nooi het ‘n goeie kêrel en hy’s ‘n bokkapater,”
gaan die deuntjie aan en daar is iets wat neer klater
en die vissermanne se aandag trek en die water blink
en as die skuit vol is word grappe vertel wat hulle uitskater.
Nou is dit winter met bome wat skelet
Nou is dit winter met bome wat skelet
kaal gestroop geen blare meer het
asof hulle leweloos is
en die weer is grou asof daar net
koue en siftende reën is
met banke toepakkende mis
wat al, wat son en lig is afsny
in ‘n koue wêreld sonder enige deernis
en toe kom jy eers verby en toe na my
met ‘n geel reënjas, jou broek nat geplas, laggend en bly
waar jy jou hare hier uitskud, soos ‘n hond reën
in ‘n sproeireën laat spat, dit uit jou hare kry.
en ek weet ons tyd is net geleen
as jy om my rank, snoesig en slank, net ek en jy alleen
warm soos ‘n ligstraal wat onverwags neerdaal
word ons in passie, in ‘n oomblik een
waarna ek die knippe uit jou hare haal
jou oë glim soos blink stukkies staal
en jy net myne is, met sagte lippe en groot oë
en saligheid tussen ons neerdaal.