14. Die limeriek
14. Die limeriek
Die limeriek digvorm het omtrent 1700 in Limerick in Ierland ontstaan onder soldate en dryf spot op ‘n speelse manier. Dit is eintlik ‘n tipe grap, wat soms ook groot wysheid bevat en bestaan uit vyf versreëls met die rymskema aabba wat ‘n metriese ritme maak. Baie limerieke maak ook van sogenaamde goëlrym gebruik, waar woorde wat normaalweg nie sou rym nie in rym posisies geplaas word en die spelling aan te pas of hulle anders as normaalweg uit te spreek. Gewoonlik lê die komiese knoop in die slotreël
Oorspronklik was limerieke mondelings oorgedra en was baie keer kommentaar oor mense se maniere en gedrag gelewer. Die mees beroemde Engelse limeriek skrywer was die humoris en skilder Edward Lear. In 1890 was daar ‘n populêre liedjie genaamd limeriek waar die naam toe oorgedra is na die verse van Edward Lear wat hy in sy verseboek “Book of Nonsense” gepubliseer het. Hier is een van sy limerieke uit daardie verseboek wat ek aanhaal:
“There was an Old Man of the Coast
Who placidly sat on a post;
But when it was cold,
He relinquished his hold,
And called for some hot buttered toast.”
CJ Langenhoven se gedigte “Die onversadiglike” en “Eva se dogter es” is baie goeie voorbeelde van die limeriek vorm waar hy in die eerste gedig grootliks van goëlrym gebruik maak. Ellen Botha se gedigte oor die vuurvlieggie en die skool is nogal interessant en uiters lagwekkend.
Hier is ‘n klompie van my gedigte wat ek in die limeriek vorm gewaag het, waar ek probeer om ‘n ander tipe inslag daarin te bou:
Het Hy elke boom, bos en blom geplant?
a Het Sy hand elke boom, bos en blom geplant
a en diere vry gelaat aan alkant?
b Orals, op die heuwels en vlaktes sommer tussen bos en tak
b is daar industrieë, sataniese meulens neergeplak.
a Is die mens dan heel blatant domastrant?
Met die greep van ouderdom
Met die greep van ouderdom
wat saam met die dood nader kom
waar die skadus daarvan reeds draal
in die laaste deel van die menslike lewensverhaal
word mens verstom as lente vol lewe weer opnuut blom.
Die ware seëning wat lente bring
Die ware seëning wat lente bring
as die lewerik, die nagtegaal en sproei sing
is dat dit is soos beste vriende wat selde mekaar ontmoet
of dalk selde mekaar totsiens groet
want dis ‘n dikwels gebeurende, seisoenale ding.
Tydens ‘n krag onderbreking
‘n Wese word voorgestel as die Heer van Duisternis
en by die groep stap ‘n vreemdeling in en meen: Jy is dan heel gewis
seker die algemene bestuurder van Evkom
die plek van waar daar nou geen krag kom,
die man wat vir al die krag onderbrekenings verantwoordelik is?
As ek prys uitdelings by skole besoek
As ek prys uitdelings by skole besoek
waar ouers rondom kinders saam kloek
word ek van meriete bewus,
so asof meriete in alle aksies van skole is,
maar gatkruipers drom saam om elke steeg en hoek.
[Verwysing: opgedra aan Megan Van Wyk.]
Perdeblomme
Geel, helder en astrant
leef hulle onskuldig aan elke kant
en saam met lente verskyn goue blom op goue blom
soos wat hulle sade sprei, asof hulle met die son opkom
as ‘n lastering teen elke vervloekte industrie, ewe parmant.
My gebied
Dertig sentimeter rondom my
is die gebied waarin my liggaam bly,
so vreemdeling pasop as jy my grense skend
met ‘n karretjie in my vas ry, in rye jou tot teenaan my wend
of ek mag jou stamp, slaan of selfs ‘n spoeg inkry.
Onthou my!
Onthou my! Onthou my!
Het ek uit jou mond en hand gekry
en met jou minnaar het jy ons liefde vernietig,
as ‘n goedkoop slet was jy veels te innig
en dank God, van jou is ek nou vry.
Ek die impak van jou dade aanskou
Ek die impak van jou dade aanskou
en dit het geslaan soos ‘n hamer hou
maar die impak van woorde bly
dit hou aan om my te sny
al het jy nou ‘n ander man getrou.
Baie professionele mense
Baie professionele en middel klas mense wag
vir hulle dae om verby te vlieg, vir die nag
om daar dekking te slaan
te lewe in ‘n ander bestaan,
maar verleen tuis aan hulle gesinne aandag.
Deur Roy Campbell te beledig beledig jy my (in antwoord op Hugh MacDiarmid)
Deur Roy Campbell te beledig beledig jy my
en ook my land, die land waarin ek bly
maar wat verwag mens van Hugh MacDiarmid
wie se gedig faeces, etter en urine het in dit,
koeterwaals wat jy uit die keel van ‘n bobbejaan of maniak kry.
[Verwysing: On The Right deur Hugh MacDiarmid.]
By ‘n prys uitdeling
Die woorde van die inspekteur was skielik doelloos
asof hy deurgaans nonsens gepraat het, argeloos
toe hy die musiek onderwyseres hoor poep
en met ‘n hartaanval die doodsengel hom nader roep
en sy koddige stories was skielik betekenisloos en bandeloos.
Ek hoef nie te sê
Ek hoef nie te sê
dat jy weer iemand anders liefhê
en met ondervinding weet ek dit gaan verby
maar hoe lank tot die vervloeking ‘n einde kry
en moet ek bid dat jy jou lewe op my toelê?