30. Die Sonate
30. Die Sonate
Die sonate struktuur vorm is gewoonlik ‘n komposisie in drie dele (blootlegging, verduideliking/ uiteensetting, ontwikkeling of opsomming/ samevatting of kortlikse herhaling) waarin twee temas (of onderwerpe) ondersoek word volgens sleutel verhoudings.
Ek het nog altyd gemeen dat daar ‘n nou verwantskap is tussen verskillende kuns vorms. So vind mens heelwat gedigte wat oor skilderye of die belewing van ‘n spesifieke skildery geskryf is, maar musiek komposisies en liedere is eintlik vir my nog nader aan die digkuns.
Annesu de Vos se gedig “Sonata” in haar digbundel “Gebed van ‘n groen perske,” het my soveel getref dat ek ook ‘n gedig geskryf het waarin die blootlegging, ontwikkeling en finale uitloop weergegee word.
U sal egter merk dat ek hierdie gedig in die Italiaanse sonnet struktuur geskryf het, aangesien die drie dele waarin mens die vers struktuur kan maak baie maklik dit self tot die sonate vorm verleen.
Sonate
Ons vriendskap het skielik gekom
soos weerlig wat uit ‘n blou hemel val
waar twee mense in die ganske heelal
hulle oombliklik aan mekaar verstom,
miskien het ons intrinsiek geweet dat swaar dae kom,
dalk ‘n intuïsie gehad dat oomblikke met tyd verval
en vir die tyd wat ons gegun was, was ons oor mekaar mal
soos elkeen in die ganske mensdom
het ons uiteindelik uitgelewer gestaan,
het ek alleen besef hoe vlugtig die lewe is,
dat wat mens het vasgelê word in die hier en nou,
het jy onbeplan na ‘n ander wêreld gegaan
al het ons ‘n hegte verbintenis,
waarin ek jou nie meer vas kan hou.