33. Die mite
33. Die mite
Oorspronklik was die mite die vroegste wyse wat die mens die goddelike voorgestel het. So het mense natuur verskynsels gepersonifieer en as menslike wesens met groter krag, selfs in ‘n groter liggaam formaat en met geheime eienskappe. Die antieke grieke het eienskappe soos liefde, haat, die donder, die see ensovoorts voorgestel as super wesens of gode of godinne. In Homerus se grootse werk “Ilias en Odyssee” kom daar talle mitiese verhale voor.
In Afrikaans is Eitemal se gedig “Pháenton,” C.M. van den Heever se “Ganymede” “Minerva” en “Arachne” klassiek mitologiese verhale. S.J. Pretorius se “Uitroep oor die Styx” het ‘n ander benadering waar hy in doodsverlange uitroep na die voorman van die gestorwenes. Petra Müller skryf in haar digbundel “Patria,” oor “hekuba, die teef”, wat die “maan, die mal hond van die nag” roep “Achnaton” wat Ra aanbid, “die inka priester en sy god” wat Pachacamac vloek en die god wat daarop gedy en “Veer” waar die skriba en sy vrou vir Ani en Anubis aanbid. Elisabeth Eybers se gedig “Dido se afskeid” in haar bundel “Die stil avontuur” is ‘n pragtige voorbeeld van die griekse mitologiese verhaal van Dido en Aeneas. In haar bundel “Die ander dors” kom ook die gedig Circe voor wat gaan oor die verhouding tussen Circe en Odysseus voor hy verder met sy reis na sy vrou toe terug kan gaan.
Hier is van my gedigte wat handel oor Narsissus en Eggo, die godin Pallas Athena (Minerva), Odysseus saam met Athena, Odysseus self, Circe, Odysseus en Circe, Menelaus en Proteus, die songod Pan, Adamastor die Titaan, Daphne wat in ‘n boom verander, die godin van kennis en die godin Freyja. Volgens griekse mitologie was Dido die legendariese stigter van die stad Carthage wat haarself verbrand het nadat Aeneas op Jupiter se aandrang haar verlaat het om voort te gaan met sy sending om Rome te gaan stig. My gedig “Aeneas se afskeid van Dido,” weerspieël iets van hierdie tragiese verhaal wat weergegee word in die grootse antieke digter Virgil se “Aeneid”.
Narsissus
Die fluisterende bome lok hom
dieper tussen hulle in
sodat hy later nie meer uit kan kom
om en om loop asof in ‘n web vas gespin.
“Is iemand hier,” roep hy
en “hier” eggo terug
as al antwoord wat hy kry
en hy voel sommer stug
en hy skreeu “kom”
en “kom, kom” weergalm
reg rondom hom
en sy blik val op ‘n poel en Eggo met haar palm
uitgestrek na hom, wil haar liefde verklaar
maar hy’s vasgevang in sy eie beeld, waarna hy staar.
Pallas Athena
Watter vrou kan in jou spore staan
en vegtend met ’n spies en skild uitgaan
en nog die vredemaker
en ’n liefling wees.
Oombliklik kan die donders
uit jou Aegis knal,
of jou trane
vir onderdruktes val.
Op jou pantser
slaan twee slange
mekaar kronkelend aan
en jy weet waarom
ware heling gaan.
Watter ander vrou
is wondermooi en getrou,
en wonderlik gebou
en kan soos jy
al die olimpiese rekords hou.
Met towerkrag verander jy
van gedaante
en van die minste,
kan jy iets wonderlik maak
en oordadig by alles
betrokke raak.
Jy is die fors van towenaars
en alle hekse
kan by jou hulle lesse leer,
maar niemand kan
jou woede keer nie.
Uit antieke tye
het mense jou vereer
as die beskermer van stede
en die behoeder van lande
en die Parthenon vir jou
as ’n grootse tempel gebou.
Jou oë slaan jou vader aan
en altyd probeer jy,
om trots in sy skaduwee te staan
en elke man aan hom te meet.
Soos ’n vroue engel
staan jy triomfantlik
en is byna onkeerbaar,
maar nog word jy getemper
deur insig en die kennis
van lig wat altyd skyn.
Nogtans staan onweer
aan jou skadukant
en slaan jou hand
jou vyande genadeloos neer
en kan jy soms
jou woede nie beheer nie.
Odysseus
Ek het hom gesien, ‘n dapper man, ‘n koning
wat lank oor die roer van die skip uitrank
geklee in die pantser van grootse Achilles
met ‘n lang swaard wat oor sy rug hang
waar hy teen die storm wind in stuur,
bekend onder sy eie manne
as die man wie se plan
Trojane tot ‘n val gebring het
maar langs hom het ek ‘n maagd gesien
in glinsterende pantser,
met bliksem strale wat inmekaar strengel
soos slange net onder haar borste
met lang vloeiende goue hare
wat wapper soos ‘n vlag in die wind
en in ‘n see wat teister reis hulle aan,
ontsnap van die grimmigheid van die golwe,
die stormsee
en die monsters wat daarin woon.
Odysseus [2]
Die see bars sonder struikeling
dawerend slaan dit aan jou skip
met reusagtige golwe
wat stormsterk
die boeg, die kiel vermorsel
voor jy die donker dieptes betree
en dan in brute krag word jy uitgespoeg
nakende van alle kleure gestroop
lê jy half verdwaas, uitgestrek
op ‘n onbekende strand
waar ‘n prinses en haar vriendinne
jou daar kry, medelye het
en hulle en die mense van die land,
selfs die heerser daar
hulle oor jou ontferm
om jou veilig na jou eie land,
op ‘n finale vaart te bring
sodat jou swerf reis
ook tot ‘n einde kan kom.
Circe
Dag op dag smag ek na hom,
hou hom dop waar hy nakend teen my slaap,
sien die son in die ooste opkom
smag dat hy my weer in passie moet opraap.
Uit sy oë wil ek die weemoed weer,
hom vir nog ‘n rukkie aan my verbind
keer dat hy nog gevare moet ontbeer
hom met my tere liefde verblind
maar as hy buite rusteloos op en af loop,
vêr oor die oseaan uitstaar
verdwyn al my hoop
om hom hier te hou, wil ek hom nie keer om weg te vaar
en tog wens ek dat hy net nog ‘n oomblik langer kan bly,
staar ek self die verte in, kyk ek by sy blik verby.
Odysseus en Circe
Toe hy na Kalipso kyk, sy hom uitlok
en die vuur in haar lendene om hom vou
het hy sy passie, sy menswees aan haar toevertrou
en hy sou moes jok
dat sy nie alle gedagtes van Penelope afblok
terwyl hulle saam uitroep en sy krampagtig aan hom klou
en haar oë was blouer as kobaltblou
maar weg van haar was sy hele lewe afgehok
het verlange na sy vrou, sy kind en land
erger as enige vure
in dieptes van sy hart gebrand
en hy het vir ure
oor die wye see uitgestaar
gewens om na sy eie mense toe te vaar.
Menelaus oor Proteus
Toe ek op Pharos staan
en my hand aan Proteus slaan
het hy verander van man na slang na draak
en het verskriklike vrees deur my gedagtes gegaan.
Ek het eers op hom afgesluip
en die plek bekruip
waar hy lê en slaap
en was amper versuip
toe hy verander in ‘n reuse seekat
wat my met agt suigende arms vasvat
en my die branders in trek
en water skuimend oor my spat.
Toe hy eindelaas sy eie vorm kry
was hy klaar met sy goëlery
en het hy die waarheid voorspel en nog
kon niks pragtige Hélena by my laat bly.
Die sprokie van die sprankelende rivier
By die sprankelende wit rivier
wat sy pad deur die aarde oopsny
het daar bosse groen riete in die water in gegroei.
Die suising en die wonders
van die water, son en wind
was die gees in die riete gewees.
‘n Werklik afstootlike god het verskyn
en lang trane begin huil
want geen pragtige nimf
wou eens na hom kyk nie.
Hy’t sy gesig in die water gewas
om die helende krag daarvan vas te vang en sy gelaat,
daarmee te deursteek
en weer hy water oor sy gesig geplas,
maar die spieëlbeeld weerkaats in die rustige poel
het dieselfde gebly
en dieper in die water in het hy gegaan.
Half verblind deur die trane wat hy skrei
het hy in die riete in gestrompel
en nog dieper in gegaan.
om weg te kruip van die kreature
wat op die water leef
en daarin woon.
Daar was krag in sy trane
en waar dit op die riete val,
was dit van die stamme afgesny.
Vir Pan het die rivier
en riete op daardie dag
‘n seën gewees.
Met riete in sy hande
het hy na die oewer geloop
en die omgewing en klanke daar
het iets aan hom gedoen.
Hy het die riete in pype
van verskillende lengtes gesny
met kepe en gate daarin.
en het lewe daarin geblaas
en tot vandag
dra daardie instrument sy naam.
Adamastor
Na aan die Kaap van storms
seil skepe en bid matrose
vir hulle gode om te oorleef
as daar skielik uit die bloute
wolke vergader
en donders neer bliksem
terwyl ongesien en soos ‘n skim
die reus van die eeue
barbaars en wild
Adamastor die Titaan toekyk
en hy ewiglik stug, nors, bedonder,
wraakgierig en onvergewend is
en hy die see in sy vuis gryp
en reuse onvoorspelbare
vermorselende golwe gooi,
skielik storms en stormwinde wek,
donders uit die lug roep
om soos Thor se hamer neer te slaan
en in sy werkswinkel storms op broei
en op tye rys sy gees woedend kwaad
uit die graniet klippe
waar sy liggaam in ‘n rots tombe is.
Menige skepe lê gestrand
aan die kus,
waar die reuse voorvader god Adamastor
tussen sandsteen klowe
aan wal woed
en storms stuur, reuse winde laat waai
en digte mis neergooi
om skepe op riwwe en skerp rotse te lok.
[Verwysings: Rounding the Cape deur Roy Campbell en Canto V Vasco da Gama (Os Lusiadas) deur Luis de Camões.]
Daphne van arkadia
Toe Apollo vir Daphne
by die Ladon rivier van Arkadia
wou vang
en sy hom nie lief kon hê nie,
het sy van gedaante verander
en haar liggaam in takke
van ’n lourier boom bly hang.
Nog vloei die waters
van die Ladon aan
waar haar takke immergroen
die lug instaan
en haar sagte geur
dier en mens
tot haar bloeisels trek.
Die godin van kennis
Sy het ’n planeet in haar hande
wat uit uitgedorde stof bestaan,
waarop die weerkaatsing
van die maan uitslaan
Onder haar is groen uitgestrekte lande
wat onherbergsaam en bergagtig
tot verby die horison strek,
met beelde van verlatenheid.
Daar’s ’n dag wat breek
en sy skynsel op haar laat
terwyl sy vingers na die heelal uitsteek,
sodat sy gloeiend oor alles staan.
Haar hare is gevleg met pêrels van sterre
en sy weet wat die toekoms hou
en haar blik sny by tyd en rede verby.
Freyja
Toe ek in Folkvangr
Freyja saam met haar katte
in haar tuin sien staan,
het die mooiste blomme
daar oop gegaan.
Daar was ’n hemelblou lig
en swaels het dit
heen en weer oorkruis.
Uit haar paleis
het stemme en musiek
wondermooi opgeklink
en die wind het saam gesuis.
In Sessrumnir het die glans
van pantser my oog getrek,
waar helde krygers
besig was om
bier glase met mekaar te klink
en vrolik van die goue vloeistof
te drink.
Freyja was verby
prentjie mooi
en het die sleutel
tot elke hart gedra
en my na haar
kamer toe gevra.
Daar het sy gehuil
van geluk en het ek trane
soos goue druppels,
op haar wange
sien hang
Noudat ek hier
’n lewe lei,
het ek in elke vrou
’n stukkie van Freyja gekry.
Elke meisie wat trou
word ’n mevrou
en dra Freyja se titel saam
en een maal per week
dra ’n dag haar naam.
[Freyja=> Fru=> Frau=>Vrou=>Mevrou]
[Freyja=> Freyjudagr => Freitag => Vrijdag =>Vrydag]
Aeneas se afskeid van Dido
Buite die paleis bruis die see
en waar hy in Dido se arms is
hoor hy branders breek, sleur golwe hom mee
en hierdie soet verbintenis
gaan tot in die kern van sy hart,
geen vrou het hy ooit so bemin
en die nag is sterreloos en swart
waar hy haar koester tot die oggend begin.
Tog moet sy skip uitvaar met die oggend gety,
en terwyl sy hart verskeur word moet hy gaan,
kan hy nie nog ‘n oomblik langer bly
en toe hy later op die boeg staan
verdwyn Carthage, word dit deur die vasteland ingesluk
en vroegaand vlam ‘n brandstapel, word hy byna inmekaar gedruk.