Jongste aktiwiteit:

43 Die Rondeau Redouble
vir

43 Die Rondeau Redouble

43 Die Rondeau Redouble

Rondeau Redoublé is Frans vir ‘n dubbel rondeau. Hierdie gedig bestaan uit vyf en twintig lyne met ‘n refrein van vier versreëls wat die eerste kwatryn vorm. Hierdie vier lyne (van die eerste kwatryn) word dan opeenvolgend gebruik as die laaste lyne van die volgende vier kwatryne. Die sesde en finale stansa is vyftallig, maar is geen herhaling van die vorige lyne nie. Dit het wel ‘n stert gedeelte wat die begin frase is van die heel eerste lyn (soos wat mens gewoonlik in ‘n rondeau vind.) Slegs twee ryme word regdeur gebruik en die rymskema is as volg: A1B1A2B2 / abbA1 / abaB1 / babA2 / abaB2 / abab plus die stert van lyn een. (Soos gewoonlik dui hoofletters lyne wat herhaal word aan.)

Dorothy Parker se gedig “Rondeau Redoublé (and Scarcely Worth the Trouble, at That)” uit haar digbundel “Enough Rope” is ‘n baie goeie voorbeeld van die hierdie tipe vers vorm.

Hier is my poging tot die rondeau redoublé:

Jy is die een wat vreugde na my bring (Rondeau Redoublé)

A1 Met die son se strale wat vanoggend opkom
B1 toe die tuin vol staan met blomme met kelke oop,
A2 was my hart half verward en stom,
B2 toe het jy ‘n kortpad deur my gedagtes geloop,

a wag ek dat jy weer huis toe moet kom
b en in my was daar verwagting en hoop
b maar toe die tyd nader was ek tog half afgestroop.
A1 Met die son se strale wat vanoggend opkom

a was die blomme se prag in skermer nog half vermom
b maar reeds wou die voëltjies gesprekke aanknoop
a en ek was soos ‘n smoorverliefde kind half dom;
B1 toe die tuin vol staan met blomme met kelke oop.

b Tyd het skielik te vinnig verloop
a toe jy so skielik met die pad aankom
b en ek het gewonder hoe dinge tussen ons gaan afloop,
A2 was my hart half verward en stom,

a toe draai ‘n blaar in die wind om en om
b terwyl ‘n vink sy kop in die drinkbak doop
a en jy was pragtiger as die mooiste blom,
B2 toe het jy ‘n kortpad deur my gedagtes geloop,

a toe die hekkie skielik piep op my eiendom,
b ‘n wolk wit hang soos ‘n reuse kussingsloop
a het ek besef jy is die een uit die ganske mensdom
b wat vreugde na my bring, toe die dag begin uitloop
Stert: met die son se strale.

A1B1A2B2 / babA1 / abaB1 / babA2 / abaB2 / abab plus die stert van lyn een. (Hoofletters dui refreine aan)

Net dieselfde bly my gevoelens (Rondeau Redouble)

Net dieselfde bly my gevoelens deur dekades behou,
jy is vir ewig die wonderlikste vrou wat bestaan vir my,
die een wat ek gedurig in my gedagtes bly aanskou,
wie se eie afdrukke op die wande van my hart bly

en as ek jou vergeet is daar weer spore wat ek kry
sodat ek nooit werklik kan vergeet dat ek van jou hou
waar jy sonder om dit te weet my hart gedurig verbly.
Net dieselfde bly my gevoelens deur dekades behou,

ek het ons liefde aan die Here God toevertrou
en wil en kan nie hierdie gevoelens enigsins vermy
maar miskien dink jy dat ek aan gebroke drome vashou.
Jy is vir ewig die wonderlikste vrou wat bestaan vir my

en al voel dit of die mores soos gisters deur my vingers gly
probeer ek ‘n toekoms dalk met blote skoenrieme bou.
Jy is mooi, die een by die skoonheid van ander vroue verby,
die een wat ek gedurig in my gedagtes bly aanskou,

al is daar gebeure wat gedurig aan my lewe bly vasklou
en dalk ‘n hele wêreld wat om oorlewing bly stry,
is jy die een in al die dae van die mooi onthou
wie se eie afdrukke op die wande van my hart bly

en wat in my wêreld betekenis dra is net ek en jy
waar die lewe self met die noodlot bly ontvou
en deur ons liefde wil ek niemand ooit laat ly
waar deur baie jare my gevoelens vir jou
net dieselfde bly.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed