47 Die Nokturne
47 Die Nokturne
Soos ek reeds voorheen gesê het is daar ‘n nou verband tussen verskeie kuns vorms en is musiek miskien die naaste aan poësie. Gewoonlik is ‘n nokturne, die musikale verklanking van indrukke oor die nag. Dit kan ‘n kort komposisie van ‘n romantiese aard wees, wat in die nag afspeel of ‘n prent skilder van indrukke oor die nag.
In die klassieke tyd was dit in die Italiaanse vorm naamlik “notturno” gebruik vir orkes en kamer musiek werke van ‘n ligte aard, wat gerig was op laat nag uitvoerings. Die Franse woord “nocturne,” was deur die komponis John Field gebruik vir ‘n reeks van agtien klavier stukke wat die eienskap aangeneem het van ‘n soort luim met ‘n sagte melancholie.
Chopin wat bekend was met Field se musiek het die nokturne verder verwerk met ‘n verskeidenheid van emosies en teksture. In musiek was die nokturne ook al gebruik vir ander komposisies wat gevoelens en die atmosfeer van die nag uitdruk soos Mendelssohn se “A Midsummer Night’s Dream” en die “drie nokturnes vir orkes” van Debussy.
In haar digbundel “Die vrou en ander verse” skryf Elisabeth Eybers ‘n nokturne getitel ”nocturne” waar sy die verskillende liggaamsdele van die kind opnoem en dit sluit dus by die aanrakingslied aan, maar die elemente van die nag soos die maanskyn wat op die kind se voorhoof val word ook met gevoel by hierdie gedig ingetrek.
Hier is twee van my gedigte wat ek as nokturnes geskryf het:
Nokturne
Met groenbruin oë wat glimmend soos die sterre buite is
fluister jy aan my hoeveel jy my met tye mis.
.
die silwer wit maanlig plas oor jou gesig waar dit oomblikke hang
glim op jou voorhoof, ken en wang
waar dit ‘n traan druppel vang wat skitter soos ‘n druppel dou
terwyl my hand liefdevol om joune vou
en om ons is die nag vol insek geluide, paddas wat kwaak
en duiwe wat koer geluide maak
maar jy sug as my lippe joune vind,
vir oomblikke is ons in die diepte van passie verblind
en jou borste is warm, sag en rond
terwyl ‘n glimlag skuil in die skadu van jou mond,
jou gestalte is slank en naak
terwyl jy oomblikke vir my ongelooflik maak
kreun in selfgenoegsaamheid
en die donker nag strek vêr en wyd met die komende afskeid
waar oomblikke van maanskyn gevul word met vrees
as ek weg uit jou lewe moet wees.
Nokturne [2]
As die kerslig met lekkende tonge
oranje wikkelend op jou lyf val
terwyl die maan goudgeel
die nag bestraal,
die sterre soos diamante
teen die hemelkoepel skitter
kom die geur van katjiepiering
soet op die aandlug ingesweef
en in hierdie stil oomblikke
waar jou oë geheimsinnig vonkel
weet ek dat ek leef,
is daar passie wat tussen ons
soos onverbloemde elektrisiteit hang.