48 Die “Chant Royal”
48 Die “Chant Royal”
‘n Verdere en meer ingewikkelde ballade vorm wat uit die Franse ballade ontwikkel het, is die “Chant Royal” of grootse ballade (“Grand Ballade.”) Die Chant Royal word geskryf in vyf elf lyn stansas wat eindig met ‘n slot l’Envoi. Die l’Envoi is soos gewoonlik die samevatting, opsomming, konklusie of hoogtepunt van hierdie gedig. In antieke tye was God of die koning ook met tye daarin aangeroep. Daar is slegs vyf ryme wat dwarsdeur hierdie gedig voorkom en die l’Envoi kan verskil tussen stansas van vyf of sewe versreëls.
Die Franse ballade bestaan gewoonlik uit drie agt lyn stansas wat eindig met ‘n slot koeplet as l’Envoi met die rymskema: ababbcbC / ababbcbC / ababbcbC / bcbC en my gedig “Gee die bevel tot U kryg” is ‘n voorbeeld daarvan.
Die rymskema van die Chant Royal is as volg:
a-b-a-b-c-c-d-d-e-d-E / a-b-a-b-c-c-d-d-e-d-E / a-b-a-b-c-c-d-d-e-d-E / a-b-a-b-c-c-d-d-e-d-E / a-b-a-b-c-c-d-d-e-d-E / c-c-d-d-e-d-E.
of
a-b-a-b-c-c-d-d-e-d-E / a-b-a-b-c-c-d-d-e-d-E / a-b-a-b-c-c-d-d-e-d-E / a-b-a-b-c-c-d-d-e-d-E / a-b-a-b-c-c-d-d-e-d-E / d-d-e-d-E.
(Soos gewoonlik dui hoofletters hier refrein of herhalende lyne aan)
Austin Dobson se gedig “The dance of Death” wat hy na ‘n gedig van Holbein geskryf het, is ‘n baie goeie voorbeeld van hierdie tipe versvorm.
Hier is my poging tot die Chant Royal:
Lente (chant royal)
a So eensklaps is dit wat sy verskyn
b as die einde van die winter begin
a die laaste ysige dae skielik verdwyn
b dan huppel sy al tussenin
c met glorie wat geen ander het
c kom sy teen winter as verset,
d laat groenigheid uitspruit,
d waar sy weer groeikrag ontsluit,
e laat haar glimlag orals val
d terwyl insekte en voëls by haar aansluit
E word sy die prinses van die ganske heelal.
a As mens dink dat die laaste lewe wegkwyn,
b dat die natuur slegs oorlewing versin
a begin die son weer warmer skyn,
b val eerste reën tot die dieptes van die aarde in
c en dan kan jy haar geheime werking reeds oplet,
c hoe sy haar vlerke sprei met pret,
d as alles begin vergaan op pad is agteruit,
d as sy winter forseer om af te sluit,
e donder onheilspellend skielik knal
d groen plante skielik verskyn uit die aarde uit,
E word sy die prinses van die ganske heelal.
a Selfs as jy in jou eie lewe pyn
b en swaarmoedig ervaar, in elke woord en sin,
a dit voel asof die ganske lewe teen alles skryn,
b die duisternis jou stelselmatig oorwin,
c mense in opstand is teen elke gebod en wet,
c ander die werke van jou hande beset,
d jy die gang van jou lewe moet afsluit,
d asof niks die ondergang kan stuit
e bring lente vreugde sonder tal
d inspireer haar betowering jou enduit,
E word sy die prinses van die ganske heelal.
a So skielik kom trek sy haar lyn,
b asof sy ‘n net, ‘n web oor die hele wêreld spin
a en glorieryk is haar aanskyn
b as sy die natuur, die aarde bemin
c waar sy rein, betowerend en onbesmet
c asof niks haar koms kan belet
d oor die aarde dans as voëls vrolik fluit
d en daar kom jubeling en nuwe lewe daaruit,
e ‘n reuse omwenteling van die verval,
d asof sy die mag het om oor dood en lewe te besluit
E word sy die prinses van die ganske heelal.
a Daar is iets in mens se bewussyn,
b as sy geheimsinnig kom as ‘n gemalin,
a in jou wese ‘n tipe van daarsyn,
b ‘n gewaarwording, al voel mens dit soms ewe min
c wat draal soos ‘n geheime beeld of ‘n aanplakbiljet,
c selfs in ‘n wêreld deur pyn en lyding besmet
d en al steur jy jou nie aan haar ‘n duit,
d kom genesing daaruit,
e sluip sy in met haar sagte voete val, sodat dit jou byval
d dat iets oorweldigend kom, soos betowerende note van ‘n luit,
E word sy die prinses van die ganske heelal.
l’Envoi
c As ek op haar aankoms let
c is sy ewe koket,
d en niks aan haar is geruit
d maar die natuur ruk dan heeltemal handuit
e sing in jubeling oor die wye veld en in elke dal
d en dis of haar betowering alle vreugdevolle dinge insluit,
E word sy die prinses van die ganske heelal.