58 Die teractys
58 Die teractys
Die teractys is ‘n digvorm wat uit vyf lyne bestaan wat geskep is deur Ray Stebbing, met een, twee, drie, vier en tien lettergrepe per versreël wat op ‘n totaal van twintig lettergrepe te staan kom.
Die teractys kan ook omgekeer geskryf word as 10, 4, 3, 2, 1 lettergrepe per versreël.
Die dubbele teractys kan geskryf word as 1, 2, 3, 4, 10, 10, 4, 3, 2, 1 lettergrepe en die trippel teractys as 1, 2, 3, 4, 10, 10, 4, 3, 2, 1, 1, 2, 3, 4, 10 lettergrepe
Ray Stebbing se gedigte is goeie voorbeelde van hierdie versvorm. Peggy Bertrand se gedig “Snowflakes” is ‘n baie goeie voorbeeld van die dubbele tetractys. Op Woes het Meraai vannie baai self goeie voorbeelde van die teractys in haar gedigte “Agter Skanse” en “Pot met goud” en van die dubbele teractys in haar gedig “Agter Skanse 2.”
Meraai vannie baai se gedig “Somer” is egter briljant waar sy die dubbele teractys skryf as ‘n kringloop of spieëlbeeld. Die teractys as ‘n spieëlbeeld stel nogal ‘n redelike uitdaging aan die digter se vakmanskap.
Hier is my pogings wat ek gewaag het tot die teractys, die dubbel teractys en die dubbel teractys as ‘n spieëlbeeld:
Verganklikheid (tetractys)
‘n
rooi roos
blom vandag
met kelke oop,
môre is dit weggekwyn en verwelk.
God en die mens (dubbel tetractys)
Al
soek ons
iets ewig,
onverganklik;
is slegs God ewig tydloos onsterflik
waar hy ons besoek wat nietig, menslik
soos gode ryk,
verwen en
verwaand
leef.
Eindelose God (dubbel tetractys as kringloop of spieëlbeeld)
Nog
soek ons
iets ewig,
onverganklik;
slegs is God ewig tydloos onsterflik.
Onsterflik tydloos ewig, God, is slegs
onverganklik,
ewig iets,
ons soek
nog…