84 Die trippel-sewe en dubbel-trippel-sewe gedig
84 Die trippel-sewe en dubbel-trippel-sewe gedig
Dit wil vir my voorkom asof McFarlan van Woes die skepper van die trippel-sewe en dubbel-trippel-sewe gedig strukture is. Haar gedig “Herfs” is ‘n goeie voorbeeld van die dubbel-trippel-sewe gedig. Die naam van die verssoort/e word deur die lettergrepe per versreël bepaal.
Die trippel-sewe gedig beskryf iets uit die natuur of een van die seisoene. Die gedig bestaan uit drie versreël van sewe lettergrepe elk en dus bestaan die hele gedig uit een en twintig lettergrepe. In die gedig moet die titel daarvan voorkom. Die gedig kan rymloos of rymend geskryf word. Van tipografie en leestekens kan gebruik gemaak word in hierdie tipe gedig.
Al die bogenoemde dinge geld by die dubbel-trippel-sewe gedig behalwe dat die lettergrepe in die hele gedig vermeerder na twee en veertig en dat strofes in twee verdeel kan word of aanmekaar gestruktureer kan word.
Hier is my pogings tot die trippel-sewe en dubbel-trippel-sewe gedigte.
Winter (trippel sewe gedig)
Ysig vat winter aan my,
daar is takke wat skelet
of die dood aan alles tas.
Lente (dubbel trippel sewe gedig)
Lente is iets verstommend
as blomme skielik uitbars
in kleur op kleur op takke
alles oornag lewe kry,
in die vreugde van bestaan
en tot volle wasdom kom.