Jongste aktiwiteit:

RIDDERS VAN DIE YSTERPAD HOOFSTUK 3

HOOFSTUK 3

Tiny se oë gly vir oulaas oor die blink kopermeters, stoomdruknaald staan op 210 kpa, vakuummeters op 17 dm. Tiny stoot die omsteller vorentoe, trek die regulateur halfpad oop en sissend en blasend kom trein 435 in beweging met stoom wat sissend uit 3205 se silinderkrane uitblaas. Soos die trein begin momentum optel stoot Tiny die krane toe met die eerste blaf deur die skoorsteen en dieselfde tyd word die regulateur verder oopgetrek en die omsteller word op 45 grade teruggestel en die spoedmeternaald begin klim. Die stoom drukmeter van die silinders bewe op 150 kpa.

In Kroonstad-Suid seinhuis slaan die seinwagter die trein weg met twee slae op die Tyres instrument wat deur Gunhill-Noord seinhuis erken word en word die instrument op trein op lyn gestel. Die seinwagter in Gunhill-Noord vat dadelik lyn Gunhill-Suid toe wat die 3-1 kloksein erken en die instrument op lyn vry stel. Die seinwagter in Gunhill-Noord klim onder sy sinjaal hefbome in en trek deursinjale op die afhooflyn vir trein 435. Die trein begin spoed optel en die spoedmeter naald begin spoedig by 60 k.m.p.u kuier en om die draai na Gunhill-Noord toe kom die sinjale in sig. Kosie kontroleer saam met Tiny die stand van die sinjale en wys Kosie vir Tiny twee vingers, die buitehuis en afstandsinjale is op alles reg

Tiny trek die regaluteur verder oop om nog spoed op te tel en met die spoedmeter kuierend op 60 k.m.p.u skuif die seinhuis verby. Die seinwagter slaan die trein weg met twee klokslae en Gunhill-Suid antwoord met twee klokslae en stel die instrument op trein op lyn. Met die trein deur word die sinjale op gevaar teruggestel en die instrument op lyn gesluit gestel, gereed om weer lyn vry vir die volgende trein te gee.
Oor die brug oor die Valsrivier word gestorm en skuif Gunhill se rangeerwerwe met rye trokke op die lyne aan die linkerkant verby. Die rangeerwerwe is n miernes van bedrywigheid met die drie rangeerlokomotiewe wat besig is om vragte uit die ontvangswerf op te breek en nuwe vragte in die sorteerterrein te bou om die verkeer op die regte treine te verdeel. Spoedig skuif Gunhill-Suid seinhuis verby en met die spoedmeter nou op 80 k.m.p.u begin die klim teen die Bosrandbank uit.

Alhoewel daar in die Vrystaat nie nog n lyn is wat oor die banke van die Bethlehem Bloemfontein lyn deur die Oos Vrystaat beskik nie het elke lyn maar banke wat alles uit mens en masjien uittap en is die Bosrandbank een van hulle. Veral in die winter kan dit vir die goederetreine met swaar vragte n absolute nagmerrie raak om nie teen die bank te gaan staan nie.

Met die ligter passasiersvrag vat 3205 die bank gemaklik en die meganiese stoker begin die kole in die vuukis inrol met n roggelende injekteur wat water in die ketel bly inpomp want die regulateur moet maar, ten spyte van die ligter vrag, voloop bly om die trein die bank uit te kry.
Die Gunhill-Suid Bosrand trajek is n lang trajek wat in drie verdeel word deur kleurlig tussenbloksinjale om die looptyd in te kort. Spoedig sien Tiny die eerste sinjaal wat n geel aspek vertoon. Tiny wil net die regulateur toestoot toe die sinjaal voor hom groen word. Hy besef daar is n goederetrein voor hom en begin hy sy spoed bietjie afbring om die goederetrein kans te gee om weg te kom voor hom. Hy gaan wel n paar minute verloor maar dit sal minder wees as om dood by die volgende tussenblok sinjaal teen die bank te stop en dan teen die bank te moet wegtrek. Die volgende tussenblok sinjaal word ook voor hom groen en kan Tiny weer bietjie spoed aansit, die trein voor hom is uit die trajek uit. Die stasievoorman op Bosrandstasie, wat die goederetrein in die uitwykspoor uitgekeer het, maak dit net om vir die trein deursinjale te gee en storm die trein Bosrandstasie deur oppad Geneva toe. Geneva en Holfontein skuif in reëlmaat verby met deursinjale. Kort kort gaan n trein van voor op die oplyn by hulle verby en word daar om die draaie teruggekyk of hulle trein nog veilig agter die lokomotief volg.

Dit is die entjie Hennenman toe wat Tiny gebruik om die paar minute wat hy verloor het op te trek. Dit is n reguit plat lyn en stoot Tiny haar na 100 k.m.p.u toe en trek amper al die tyd op. Toe Hennenman se sinjale in sig kom word die regulateur toegestoot want op Hennenman moet gestop word vir passasiers. Na n paar minute se staan vat 435 weer die pad en storm Whites, wat baie na aan Hennenman is, weer op volspoed deur Kalkvlakte toe. Net na Whites skuif Whites-Wes seinhuis ver in die veld verby. Whites-Wes is die seinhuis wat die enkellyn Welkom-Allanridge toe beheer.

Kalkvlate skuif verby en word Virginia tien minute later ingetrek waar 3205 deur Kosie, wat agter op die kolewa staan, se hokaai tot stilstand gebring word met die opening in die kolewa vir water reg onder die groot waterkraan. Skaars tot stilstand word die kraan oopgedraai en die water begin in die kolewa instroom want daar is baie water gebruik tot hier toe.
Die nagdonker begin nou toeslaan maar is dit nou tyd vir groot bedywigheid om 3205 te versorg en reg te kry vir die volgende trek tot op Vetrivier waar weer water gevat sal word en vuur skoongemaak word.

Terwyl die water inloop is Kosie besig om met sy vuurysters die klinkers in die vuurkis stukkend te stamp en word die vuur geskud om die dooie as, saam met die klinkers deur die openinge onder die vuurkis te laat val in die asputte tussen die spore in waar die arbeiders dit netnou sal kom uithaal en in trokke laai. Dit is harde werk en intussen moet die vuur aan die gang gehou word en die stoomdruk moet ook nie noemenswaardig val nie.

Intussen beweeg Tiny van wiel tot wiel om met sy ghriespomp weer die laers, waar die koppelstange aan die wiele gekoppel is, vol ghries te pomp. Met sy oliekan word alles geolie en druk hy met sy hand teen die wiele om te voel of daar nie n askas is wat besig is om warm te loop nie.

Vyftien minute later is Kosie klaar met die vuur en word die waterkraan toegedraai. Die meganiese stoker moet die vuur weer begin voer en die injekteur word aangesit om water in die ketel te pomp. Vyf minute later is hulle weer reg vir die pad en Tiny fluit weg. Die sinjale gaan dadelik op en, nou redelik donker, erken Tiny die groen lig van agter af met n wit lig.

In die trein self het die kaartjiesondersoeker, net na hulle vertrek uit Kroonstad uit, deur die trein begin gaan om die passasiers wat op Kroonstad opgeklim het se kaartjies te knip. Met sy kompartement sleutel tiketik hy voor hy die kompartemente instap met sy bekende: “Kaartjies asseblief, tickets please” om die kaartjies te bestudeer en te knip

Intussen word die passasiers vergas met n haastige geklap en gesuis van wiele oor die laste in die spoorstawe. Hierdie cresendo verander net as die trein haastig deur n stasie storm wanneer hierdie reëlmatige geklap verander in n haastige rrrrt soos die wiele oor die wissels gaan om daarna die reëlmatige geklap te hervat. Die bekende rookreuk van voor af vul kort kort die trein en as n passasier om draaie uitkyk sal hy vergas word met n prentjie van flitsende koppelstange wat verby die groot trekwiele van 3205 flits.
Soos die kaartjiesondersoeker deur die trein beweeg sit hy sommer die rytuie se ligte ook aan. Die krag vir die ligte word voorsien deur batterye wat deur n dinamo wat met n belt van een van die wiele af gedryf word gelaai word.

Nie ver agter hom nie volg een van die eetsalon se kelners deur die trein met sy deuntjie op sy gong om aandete aan te kondig. Die hoofkelner het vroeër deur die trein beweeg om kaartjies vir aandete te verkoop. Hierdie passasiers begin nou aanbeweeg eetwa toe vir aandete.

Al die eetwaens het name en vanaand is dit die Matroosberg wat 435 se passasiers op aandete vergas. Soos die passasiers aansit aan die tafels wat netjies gedek is met wit tafeldoeke waarop die borde, glase en silwer eetgerei reeds netjies uitgelê is, is die kelners in hulle wit baadjies dadelik by om die passasiers te bedien. Die geurige aandete bestaande uit vleis en groente soorte word uit silwerskottels op die borde geskep en die wynkelner beweeg van tafel tot tafel om bestellings vir die passasiers se drankies te neem en te sorg dat daar genoeg te drinke is vir die wat n drankie wil geniet. Die dakwaaiers draai lui teen die plafon om die lug te serkuleer.

Die passasiers geniet n aandete soos min en oortref die kokke hulleself gewoonlik met die keurige maaltye wat in die klein kombuisie voorberei word. Die ouer eetwaens, waarvan die Matroosberg een is, het n koolstoof en bly dit n wonderwerk hoe die kokke dit regkry om hierdie keurige etes en nageregte in hierdie beknopte ruimte voor te berei.
Met die haastige geklap en gesuis van die wiele en die geblaf van die lokomotief vooraan is dit n eie unieke atmosfeer wat in die eetwa heers en is die etes feitlik klaar geniet toe die trein op Virginia stop om loko te vat en word dit nou donker. In die eetwa begin die kelners nagereg en koffie bedien.
Tiny sit nou die dinamo, wat deur stoom gedryf word, ook aan wat die lokomotief se ligte van elektrisiteit voorsien en kom die sing geluid van die dinamo nou by die ryke klankwêreld van die lokomotief.

Die klim Welgeleë toe begin en alhoewel nie so steil soos die Bosrandbank nie, is die nadeel hier dat dit n dooie wegtrek feitlik teen die bank is. Daar word dus stadiger spoed opgetel en is dit n hele paar minute later voor die gelykpad Tiny in staat stel om weer op vol spoed te kom om Theron en Theunissen stasie spoedig te laat verbyskuif om weer op Vetrivier tot stilstand te kom vir die volgende en laaste groot lokostop. Dit raak nou meer gelykwêreld en is die ergste banke verby en sal hulle op Glen net water vat.

Intussen het die beddegoedbediende deur die trein beweeg om beddens vir die passasiers op te maak wat beddens wil hê en beddegoedkaartjies het. Vir die wat beddens wil hê en nie kaartjies het nie word die kaartjiesondersoeker geroep om n kaartjie aan hulle te verkoop.

Dit is ook die tyd wat die kompartemente deur die beddegoed bediende skoongemaak word en vir n paar minute heers die bekende reuk van sy skoonmaakmiddels in die gang terwyl die linoleumvloer droog word.

Na die lokostop op Vetrivier word die pad weer gevat en is die trein spoedig op spoed om Eensgevonden, Houtenbeck, Brandfort. Alleman en Karee stasies te laat verblyflits. So af en toe staan daar n goederetrein in die uitwykspoor wat uitgekeer is vir 435 om verby te kom. Kort kort flits n trein in die oprigting by hulle verby.
Op Glen word vir die laaste keer water gevat en word van Tonder kort daarna deurgestorm. Die horison word nou helder verlig deur Bloemfontein se ligte en spoedig nader hulle Bloemfontein se eerste kleurligsinjale. Deur die Weswerf gaan dit nog op spoed maar dan stoot Tiny toe en die remme word kort kort aangesit om die spoed af te bring. Al die pad word sinjale deur hom en sy stoker gekontroleer en wys Kosie vier vingers toe die platform aanwyser in sig kom met n verligte syfer vier om aan te toon dat hulle op platform vier ingaan. Tiny bring die spoed nou heeltemal af want hulle moet nou kruisoor gaan en word die remme, met spoed genoeg afgebring, gelos. Die regulateur word net effens oopgetrek om die trein stadig langs die platform in te laat inbeweeg. Soos die trein inbeweeg sit die wa en rytuigondersoekers langs die spoor om die wiele met hulle langsteelhamers te kap om te luister vir moontlike gekraakte wielbande. Terwyl die trein staan sal hulle die rytuie verder ondersoek vir moontlike gebreke en te kyk vir n moontlike warm askas.

Die platform is, soos die res van die stasie, n byenes van bedrywigheid. Die platform is vol passasiers en mense wat passasiers kom haal en afsien. Die nuwe kaartjiesondersoeker wat die trein verder werk staan alreeds op sy preekstoeltjie met die treinplanne voor hom om plekke toe te ken terwyl die nuwe kondukteur alreeds op die punt van die platform wag om by die inkomende kondukteur oor te neem. Die plaformtrekkertjie met sy waens vol pakkies staan ook al gereed om die kondukteurswa op en af te laai. Op sommige ander platforms staan alreeds rytuie vir ander treine en is al die platforms besig. Die spoorwegpolisie, wat so streng lyk in hulle bruin uniforms, kan oral gesien word, besig om n wakende ogie te ou.
Intussen waai die stasieinspekteur die trein met sy witliggie aan tot hy n rooi lig van die kondukteur af kry en dan ook n rooi lig vorentoe wys. Trein 435 kom tot stilstand en is die rangeerder dadelik by om 3205 los te maak sodat hulle loko toe kan gaan. Met die rangeersinjale bedien beweeg hulle vorentoe om anderkant die wissels te stop. Die rangeersinjale word vir hulle bedien en beweeg 3205 haastig terug deur een van die ander lyne om later af te kruis loko toe waar Tiny die lokomotief aan die loodsman oorhandig. Die loodsman sal die lokomotief gaan draai, asputte toe neem om die vuur skoon te maak, terugbring en die kolewa vol water ook maak. Tiny en Kosie gebruik hierdie verposinkie om hulle ete te geniet. Tiny het sy stukkie wors sommer oppad loko toe op die graaf gesit en vir n paar oomblikke in die vuur gedruk om gou gaar te word.

Klaar ge eet deel die roosteropsteller hulle mee dat hulle trein 700 terug werk. Hulle moet net nog n rukkie wag want hulle sal dubbelvoorspan saam met nog n Kroonstad drywer teruggaan. Die lokomotief is reeds oppad loko toe en sal die loodsman die lokomotief sommer klaar aan syne koppel as hy met hom klaar is. Tiny en Kosie gaan sit skuins op die bank en trek hoedens oor die oë om n uiltjie te knip terwyl hulle wag vir 3205 om terug te kom en die tweede man om te arriveer.

Vyf minute later stap Jan Griesel, nog n Kroonstad drywer, die roosterkantoor in. Hy gaan saam met Tiny 700 terugwerk en sit hulle nou en wag dat die loodsman die lokomotiewe terugbring en aanmekaar koppel.

Halfuur later is die lokomotiewe terug en kan die twee drywers gou alles nagaan en die lokomotiewe ghries en olie. Tiny, as die senior drywer ry voor terwyl die jonger Jan Griesel agterop is met nog n klas 23. Na tien minute is hulle gereed en beweeg hulle kontrolepunt toe om uit bel vir die Weswerf.
Met hulle aankoms in die Weswerf is 700 reeds daar en kan hulle dadelik gaan koppel. Tiny se kondukteur, wat met n kombi van die stasie af gebring is, is reeds daar en gee vir Tiny die vrag aan as 2350 vir 160 asse.
700 is n snelgoederetrein wat al die pakkaste en snelverkeer vanaf Port Elizabeth na Kaserne vervoer. Die trein is ook een van bedryf se heilige koeie en word alles moontlik gedoen om vertragings te voorkom. Daarom geniet 700 voorrang bo ander goederetreine en is sy spoed hoër as gewone goederetreine

Dit gaan nou vasvat wees en het die twee drywers reeds met die terugstoot om te koppel bietjie sand op die spore gestrooi sodat die trekwiele kan vastrap om die vrag op te tel as hulle begin vorentoe beweeg. Die meganiese stokers begin die vure weer knarsend en spuitend voer en die injekteurs word aangesit om water in die ketels te pomp. Die blowers word ook aangesit om n trek oor die vuur te bring om vinniger stoom op te bou.

Met witvere wat hard deur die veiligheidskleppe blaas is hulle n paar minute later gereed om te vertrek en fluit Tiny weg. Jan erken met n kort fluit dat hy ook reg is en kyk Tiny terug en sien die kondukteur se groen lig in die verte.

Nog n lang fluit verwittig die konterolerangeerder dat hulle reg is en gee die kontrolerangeerder die trein vir die seinhuis aan.
Die sinjale word groen en begin die wegtrek. Hier is spanwerk tussen die twee drywers van groot belang en begin die wegtrek met sissende stoom uit die silinderkrane. Daar moet nou fyn geluister word vir wanneer een van die lokomotiewe wil begin gly. Die een wat begin gly se drywer sal die regulateur vir n paar oomblikke toestoot om die gly te stop terwyl die ander drywer bietjie gaan ooptrek tot die ander lokomotief weer begin saamtrek.
Spoedig egter begin die twee lokomotiwe se geblaf sinchroniseer en begin die trein spoed optel om oor die Vrystaat vlaktes Kroonstad toe te jaag met n klanksimfonie, eie aan n dubbelvoorspan, wat oor die omgewing rol.
Een van die kwaai banke op die oplyn is die Kareebank. Hier is dit vasvat om die trein die bank uit te kry. Die injekteurs pomp en die megniese stoker knars en kraak met die geblaf van die twee lokomotiewe oorverdowend.

Voor in die koplig se skynsel lê die spore soos silwerstrepe in die koplig en van voor af kom n trein in die teenoorgestelde rigting aan. Tiny verdof sy koplig en die trein van voor af ook. Soos die trein verbybeweeg gewaar Tiny n rooi skynsel onder een van die trein se trokke, daar is n warm askas.

Hulle is nou bitter naby aan Karee en skryf Tiny vinnig n nota om dit om n stuk steenkool te draai en op Karee af te gooi en is hy net klaar toe Karee se sinjale in sig kom. Hulle is eintlik veronderstel om nou te stop en die stasievoorman te verwittig maar tyd is belangrik. Tiny begin dus kort fluite gee om die stasievoorman se aandag te trek en is hy dankbaar dat die man uitkom en hy die nota, wat om die steenkool gedraai is, kan sien sodat hy Glen kan vewittig. Die trok sal dan daar moet afgesit word want n as wat afdraai kan n groot ontsporing veroorsaak. Met die nota afgegooi kyk Tiny vinnig terug en heel tevrede sien hy dat die stasievoorman die nota optel.

Vetrivier is die eerste groot lokostop en kom die lokomotiewe met Kosie se “hokaai” onder die waterkolomme tot stilstand. Daar is nie tyd om te mors nie en met die waterkrane oop om die dorstige kolewaens vol te maak begin die stokers in alle erns vuur skoonmaak. Die klinkers word fyn gestamp met die vuurysters en dan word die vuur geskud om die as te laat deurval. Die drywers is intussen besig met hulle ghries en olieroetine soos hulle van wiel tot wiel beweeg en die wiele met die hand voel.
Klaar vuur skoon gemaak word die vure weer kole gevoer en die roggelende injekteurs pomp water ketel toe. Die blowers is voloop om n trek oor die vuur te bring en na n paar minute staan die stoomdrukmeters op 210 kpa.

Na n kort fluit van agter af gee Tiny n lang fluit, 700 is reg vir die pad. Die sinjale gaan op en begin die drama om die bank Theunissen toe te begin klim.

Op Virginia word weer water gevat en vuur skoon gemaak en dan is dit die laaste trek huis toe en flits die stasies een na die ander verby met die lig van die opkomende son aan die Oosterkim wat al sterker begin word.

Koffietyd en word die blik water vir n paar oomblikke in die vuurkis gestoot en dan met n vuuryster aan die dak opgehang. Paar oomblikke later sit elkeen met n beker koffie in die hand en flits die wêreld by hulle verby. Stoomdrukmeter bly op 210 en dit raas en roggel soos die meganiese stoker die kole voer en die injekteur water pomp. Met spoedmeternaald wat kuier tussen 70 en 80 kmpu word al hierdie geluide oorheers deur die geblaf van die twee klas 23 lokomotiewe. Sinjale word stip dopgehou en entjie uit Bosrand uit word toegestoot en moet daar nou teen die afdraendes aan die rem gehang word om te keer dat die merrie weghardloop. Tiny sê altyd sy ruik nou stal en wil nou, net soos hy, huis toe gaan. Paar minute later trek 700 die stasieterrein in waar die elektriese eenhede wag om oor te neem en nadat hulle losgemaak is gaan hulle loko toe.

Dit is vier moeë manne wat hulle lokomotiewe aan die loodsman oorhandig en dan aanstryk roosterkantoor toe om af te teken en te kyk waar hulle op die rooster lê. Hulle teken af vir n goederetrein vanaand Bloemfontein toe.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed