
Rockbottom (2018)
Dalk moet elke mens
‘n leë dam in die oë gaan kyk;
een waarin vervloë
se (nóú) naakte bome staan.
‘n Dam wat sonder asem is,
waarin wit stof soos ‘n wasem is
wat uit waterlose bodems
van droë riviere slaan.
Miskien moet elke mens
kaalvoet teen ‘n wal afloop
(een waarop jou spore
in die growwe sand verdrink)
en struikel oor die duine –
verby stomp- en klippetuine
tot waar die laaste plasse
in die aard se kors versink.
Ek dink ‘n mens moet weet
hoe droogte op sy felste lyk;
jy moet die vlam kan voel –
hoe dit skroei teenaan jou lyf.
Ek weet ‘n mens moet soms
‘n leë dam in die oë kan kyk –
een wat ongenaakbaar
hunk’ring in jou siel vasskryf.
*
Want ‘n dam wat vol van water is
verruk nie met dieselfde krag nie.
En ‘n hart wat nooit die dors leer ken nie
– sal ook nooit na lawing smag nie.
© Carma Shaw
1 Maart 2018
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2018 – Digkuns projek