
Ryloper
Ryloper
slof-slof my skoeisels vol stof
voel ek die wind
van doelgerigte siele
swiep-swiep verby my
met ‘n vaart
op pad na iewers
sal ek
my duim lig om te vra
dat iemand my tog net so entjie dra
my in hierdie donker uur verdra
stilstaan en my hand kom vat
van agter haal die nag my in
gryp-gryp met lang mis-vingers
om my geloof te pootjie
hoop glim so ver
te ver voor in die pad
verder as wat my hande nou kan reik
sal jy
stilhou en my oplaai
my hier langs die pad kom kry
of sal jy doodeenvoudig
nes die ander
ook verby my ry
© Barbara Smit 18/06/2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.