
self
die ek is vrek
jy en ek ‘n wrak
jare het verby gevlieg
sosiaal bly daar op mespunt
van soortgelyke kreature
soos uitgestote diere
verslonsde aangesig
van al die gespit
lewe se sooie
bly plooie
die ek is vrolik
jy en ek bly olik
een siekte op ‘n ander
in en uit hospitaal se gange
waar tydgenote smag na asem
privaatheid verwelk na niks
oorgegee aan ander hande
gelukkig het ek nog tande
bewe my stem en skraal
as lewe stadig draal
die ek bly ek
al is dit gek dit is ek
onafhanklik tot laaste treë
harde klanke laat my skrik
voete wil nie trap waar
my brein dit wil stuur
maar steeds soek ek
na die beste kuur
tot laaste uur
dit is ek
©Teárlach
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.