Stil-stil terug
In die hoek van ou herinneringe se kamer,
tuimel die sonlig stil deur die kantgordyn
en ek staan tussen die skadu’s van gister,
terwyl tyd soos ou klanke wegkwyn.
Die grasperk waar ek vir ure gelê het,
daar het die wolke hul stories klaar vertel,
want daai plek is nou met ander se drome bedek
en my kinderstem het stil-stil ontwortel.
Ek het geleef in ‘n wêreld sonder tyd se las,
my vuilvoetdae het vinnig verbygewaai
omdat die ure vol nuwe ontdekkings was
en die oomblikke is in my geheue gelaai.
Gister se kind sit nog steeds binne my
en kyk terug met ‘n verlangende vraag;
waar is die modderkoninkryke van klei
en my vergete wense se sagte klaag?
Tyd staan nou stil wanneer ek dink,
en wanneer onthou sy venster oopmaak,
en my kinderstem fluister stil-stil terug.
© Elize Awona Pucillo
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Julie 2025 – OOP (Skaduwee van tyd) projek