vir
Gedigte
Stukkende Lewens
Soms raak my praat op.
Soos wanneer die vrou wat ons kantoor se tuin doen, my bel en verskoning aanteken: Haar (reeds moeg) bakkie se ‘starter’ het opgepak. Toe sleep hulle maar die waentjie met die tuingereedskap, van huis-tot-huis. En toe word die ding OOK nog boonop gestamp. Ellende.
Dié groot mens met die groot hart, wat die lamlendige enkelkajuit sommer stampvol sit, huil so – sy kan nie praat nie. Dis net snot en snikke en hikke. Haar flentergat wêreld val uitmekaar.
Nou sit ek hierso, met trane wat my keel smoor en ‘n hart wat sommer wil ophou pomp van jammer kry.
So baie van my HartsMense kry swaar. Bitterlik.
Orals is net stukkend en seer.
Ek begeer langer arms.
Sodat ek julle almal daarin kan toevou.
Ek ken julle spartel.
Maar ek ken net ten dele.
My gebedskombers kom lê saggies oor julle skouers.
En ek vra my Koning om julle bymekaar te maak, soos ‘n hen haar kuikens.
Sy Arms is nie te kort nie.
© Emmerentia Pienaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.