Jongste aktiwiteit:

SWART en WIT, TEE of KOFFIE*

SWART en WIT – KOFFIE of TEE
In Oosterryk kry mens nêrens in ‘n kafee of restourant koffie (Caffee) nie.
Dis waar! Oral kan jy Cappucino, Espresso (sonder x), Macciato, Latte, ‘n großer Braune (groot bruine), ‘n Vierspänner en wie-weet-watse-ander-soorte bestel Net nie koffie nie — in die land waar waarskynlik die meeste koffie per kop en dag in Europa gedrink word. Maar dit word nie aangebied nie. Daar is agt-en-veertig name, meen ek, vir hierdie „genotmiddel”, maar in nie een van die name vind ons die woord Kaffee of Caffee nie. Hy wat koffie/coffee/café/caffe of ‘n ander vorm van die woord bestel is eenduidig ‘n uitlander, ‘n toeris, sakeman op reis, student in sy eerste semester of soiets, net nie „van hier” nie.

Die klant se herkoms kan natuurlik aan sy taalgebruik afgelei word: Of hy deur die neus praat soos ‘n Amerikaner wat in ‘n winkel of taxi sy beursie oopmaak en sê, „Hierso. Neem soveel as wat jy nodig het,” of hy met warm aartappels in die mond praat soos ‘n Engländer, of hy in Alexandrien-metriek praat soos ‘n Fransman, of hy ‘n ander singsang bring soos die Pieffke-jargon van ‘n Berlyner wat vergeet het om op skool Duits te leer. . . Die geldige ewige waarheid hier is, dat slegs die Oosterrykers ordentlik praat en ordentlike drinkgewoontes het.
In die ergste geval kan mens beleef hoe jy vireers dom-dof-doeh aangestaar word; dan gaan die wenkbroue boontoe; die ooglide gly opwaarts en trek die oogappels saam na bo. Daarna bedaar die gesig stadig en die kelner kyk jou weer aan met ‘n vriendelike gesig op, soos wat hy in die gastronomie­skool geleer het. „Kan ek u ‘n Capuccino bring? Italiaans (met melkskuim) of Duits (met roomkroon)?” Natuurlik word jy bedien. Natuurlik wil hulle jou geld hê. En natuurlik gaan jy die beste, die heerlikste warm drankie geniet wat die Café aan te bied het. Café is wáár jy dit koop, nie wát jy koop nie. In Oosterryk.
Juis hoe hulle op die naamgewing vir al hulle koffiedrankies gekom het, weet ek nie, maar ek meen, die groot bruine sê meer of min wat hy te sê het: Groot koppie, baie melk, Maar die vierspanner? Ek ken ‘n ander betekenis van die woord wat moontlikerwys dieselfde is in Afrikaans: ‘n Koets met vier perde voorgespan – ‘n vierpêrewa mos. By die koffie meen ek dat, as jy in die outyd jou hand om die beker gespan het met die pinkie op die tafel, dan is dit tot die wysvinger gevul. Met of sonder melk, weet ek nie. Heel waarskynlik is daar soorte met ‘n skoot snaps of likeur in, elkeen met ‘n eie naam, maar ek ken eenvoufig nie al die koffie- en snapssoorte nie.

In Oos-Friesland is die storie in omloop hoe ‘n besondere teegenot sy naam gekry het: Op ‘n dorpie was daar ‘n Pastor wat baie streng teen die drankduiwel te werk gegaan het. Eendag by ‘n geselligheid in ‘n lidmaat se tuin wou en wou hy nie huistoe gaan nie, en almal was ongeduldig want hulle wou die (versteekte) snapsbottels uithaal en „rêrig” drink. Maar pastoor het geweet wat sy plig was en het beharlik uitgehou. Mettertyd merk hy dat al hoe meer mense op waggelike voet staan, al hoe meer tonge sleep as hul eienaar met hom praat. „Snaaks,” dink hy by homselwers, „ek sien dat hulle net tee drink, maar dit lyk my of hulle aan dronkword is.” Dis maar net die tipiese Neder-Duitse tee: Swart, so sterk dat die lepel in die koppie regop bly staan, baie suiker en ‘n hopie klitsroom daarop. Iemand struikel en Pastoor hou hom onder die ellenboog vas. Daar val die koppie om en die room vlieg eenkanttoe. Pastoor ruik aan die gemors in die piering. Daar’s mos snaps in die tee! „Julle Fariseërs!” roep die leraar uit en verlaat die perseel in ‘n stofwolk. Sedertdien word tee met ‘n skoot Wachholderschnapps (jenewer) in en ‘n kruin room daarop Pharisäer genoem. Naas al die ander name vir hulle teesoorte.

By ons op die weekmark staan die kaasman van die „Käse-Alm” in Tirool en gesels met die visverkoper van die kus. Of hulle mekaar verstaan? Wat die taal betref, meen ek? „Ja,” sê die Oos-Friese, „ek kan nie swem nie en hy kan nie bergklim nie.” En neem ‘n sluk koffie uit sy termoskan. Die Oosterryker „Prost!” hom en klink sy teekoppie daarteen.
Seker kan jy jou, of in Oosterryk of in Oos-Friesland, buite gevaar hou wanneer die bediening kom, as jy eenvoudig „’n Swarte,” sê.
✽✽✽✽✽
vanToom
(




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed