“Boek-loer” toetse.
“Boek-loer” toetse.
As ek terugdink aan die skool- en universiteitsdae van my kinders, roep die woorde: “Ma, ek moet môre ʼn groot toets skryf”, sekere beelde in my herinnering op. Daar word deeglik beplan en ʼn rooster gemaak om doodseker te maak dat daar genoeg tyd is om die magdom inligting onder die knie te kry voor die tyd dat die toets geskryf moet word.
Op die dag van die toets is daar baie seker gemaak dat daar geen manier is om skelm verskuilde notatjie saam in die lokaal in te neem nie. Vir verdere sekerheid is alle persoonlike besittings buite die lokaal gelaat en so is jy in die lokaal in vir die aflegging van die toets.
Onder die wakende oog van die toesighouer is daar in absolute stilte geskryf, geen kop mag links of regs gedraai word tydens die toelaatbare tyd vir die toets nie.
My eerste reaksie toe ek hoor van oopboek-toetse, was om die minste te sê: groot verbasing!
Na ek oor my eerste skok was, het ek bietjie navorsing gedoen oor hierdie sogenaamde “nuwe” metode van toetse skryf.
Ek het die volgende wys geword: tydens die oopboek-toets mag die leerling hulle studiemateriaal byderhand hê. Daar word duidelike riglyne aan die leerders verskaf rakende watter materiaal; klasaantekeninge, studiemateriaal, handboeke of eie aantekening, ens. hulle by hulle mag hê tydens die skryf van die toets.
Dit het duidelik geword dat studente en leerlinge behoorlik ingelig moes word as daar van die oopboek-assesering metode gebruik gemaak word aangesien die idee ontstaan het dat daar nie vir die tipe van toetse studeer hoef te word nie.
Oopboek-toetse en eksamens is glad nie so maklik soos wat mens dink dit is nie. Jy moet nog altyd studeer en goed voorbereid wees vir hierdie metode van toetsing. Jy moet weet waar om die inligting te vind in die studiemateriaal, onder druk om klaar te skryf in beperkte tyd.
Oopboek-toetsvrae verskil ook van die tradisionele manier van hoe die vrae gestel is. Hier sal die vrae jou noop om sekere aspekte van die werk weer te gee met verduidelikings.
Wanneer jy jou oopboek-toetsvrae kry, moet jy nie dink dat jy net vlugtig die boek kan skandeer om die presiese antwoord te vind nie, nee – hierdie metode vereis goeie begrip en verduidelikings-vermoëns.
Daar is paar dinge wat jy moet in ag neem tydens voorbereiding:
Die hoofstukke moet betyds deurgelees word. Moet ook nie dink dat jy sommer net gou die antwoorde gaan vind nie.
Jy moet weet waar om inligting te vind – kyk veral na die hoof- en subopskrifte. Dit kan ook baie help om jou eie opsomming te maak.
Maak gebruik van plaknotas vir die verskillende temas.
Skryf belangrike klas-inligting wat jy ontvang het, neer soos byvoorbeeld: formules ens.
Onthou tydens die oopboek-toets om eerstens jou vrae te evalueer. Pak eerste die vrae aan wat vereis dat jy feite moet noem.
Die boek of nota kan aangehaal word ter ondersteuning van jou antwoord.
Wees egter altyd baie versigtig om nie woordeliks uit jou boek af te skryf nie want jy kan punte verloor vir direkte aanhalings.
So: as jy weer hoor van “Boek-loer” toetse, dink twee keer voor jy uit jou vel spring van opgewondenheid. Voorberei sal jy beslis nog moet voorberei!
©Marlene Erasmus
31/03/2022
Neologisme:
*”boek-loer” – geleentheid om in die boek na antwoorde te soek.
(560 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2022 – OOP projek