TERUG TUIS
Struikel-struikel,
stort ‘n goue blaar gehupstoot deur die laataand windjie
op die grasperk se stoppelbaard vernederd neer
terwyl die maan haastig glimlag en weghaas
sy skoonheid net ‘n korrel verf gespil deur die Opperhand
Roer ‘n doringboom ekstaties
op die maat van die stormnag se ritme
slaan die weerlig op die nag se dromme
en jaag die tolbos se krap-knaag klanke
die verwaaide maanstrale tussendeur lappies wolke
begelei deur ‘n onbekende dirigent se bros orkes
Streepmuisies storm soos stoomtreine
deur die dor verbrande gras
haas verskrik voor die donderende storm voetspoor weg
en haas na die natuur se dons kombersies terug
terwyl die weerlig se wit vurk tande
stomp raak teen die kliprand by die kloof
…Ek los die voorhekkie oop vanaand
nooi die lewe se swaar dra binne
want die branding in my ouerhart word vlam
want my wegloper kind se voetspore
loop dood by die welkom matjie op my stoep
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.