Verkenning van ’n nuwe horison.
As klein kinders het ons altyd donker kamertjie gespeel. So is ons op jong ouderdom al gefassineer deur die onbekende. Die donker kamer, die nuwe skooljaar, die eerste werksdag – almal was ’n onbekende gebied wat ons met huiwering betree het. Dit is in ons aard om te ontdek, te leer en te verken. Maar die onbekende bring ook ’n diepgewortelde vrees mee – ’n vrees vir wat ons nie kan sien nie of verduidelik nie.
Alle groot ontdekkings in die verlede is gevoed deur hierdie tweesnydende swaard van die onbekende. Kom ons dink aan Neil Armstrong se eerste tree op die maan, Marie Curie se ondersoek na radioaktiwiteit en selfs die eenvoudige daad van ’n kind wat leer om te swem. Elkeen was ’n reis in die onbekende, ’n sprong van geloof. Wat sou gebeur het as Armstrong bang was vir die moontlike gevare van die maan, of as Curie nooit haar laboratorium met moed en durf betree het nie? Die wêreld sou beslis baie armer gewees het sonder hul mannemoed om die onbekende te verken.
Die menslike natuur se drang is dikwels om alles te verstaan en te probeer verklaar. Ons almal voel tuis in die bekende, maar die onbekende wek dikwels ongemak. Maar wat as ons hierdie perspektief verander en die onbekende sien as ’n bron van nuwe moontlikhede? Hierin lê die kern van John Keats se idee van “negatiewe vermoë.”
John Keats, een van die grootste romantiese digters, het die term “negatiewe vermoë” geskep om die vermoë te beskryf om in onsekerheid, dubbelsinnigheid en misterie te leef sonder om onmiddellik na antwoorde te soek. Hy het geskryf oor die belangrikheid van hierdie vermoë vir kunstenaars en digters. Keats het geglo dat groot kuns kan ontstaan uit die vermoë om die kompleksiteit van die menslike ervaring te omhels sonder logiese verduidelikings.
Hierdie filosofie is nie net relevant vir digters en kunstenaars nie, maar ook vir ons almal in ons daaglikse lewens. Dit moedig ons aan om die onbekende te aanvaar en daarin ’n bron van insig te vind. Dit is die oproep om gemaklik te raak met onsekerheid en om die onbekende in die lewe te aanvaar. Nie een van ons weet ten volle wat die toekoms inhou nie en die is juis hierdie onsekerheid wat ons lewens kleur gee.
Die onbekende het ’n aantrekkingskrag. Dit herinner ons daaraan dat ons wêreld groter en ryker is as wat ons kan verstaan. Dit nooi ons uit om ons grense te toets en ons horisonne te verbreed. Dit daag ons uit om ons vrese in die gesig te staar en ons drome na te jaag.
Maar die onbekende bring ook ’n gevoel van perspektief. Kom ons dink aan die kompleksiteit van die heelal, die onpeilbare dieptes van die oseane en die kompleksiteit van die menslike brein. Die onbekende is maar een maal soos ’n nuwe boek, waar elke bladsy nuwe verrassings bied en elke hoofstuk ons uitnooi om verder te lees.
So, hoe kan ons die onbekende in ons eie lewens verwelkom? Eerstens, deur nuuskierig te wees. Vra vrae en soek antwoorde, maar wees ook bereid om met die onsekerheid te leef. Tweedens, deur moed te hê. Neem sommer vandag nog daardie eerste tree of maak daardie belangrike besluit, al weet jy nie wat die uitkoms sal wees nie. Derdens, deur oop en ontvanklik te wees vir verandering. Die onbekende bring dikwels verandering mee. Omarm die verandering kan, dit kan lei tot persoonlike groei.
Die onbekende speel ook ’n belangrike rol in verhoudings. Wanneer ons nuwe mense ontmoet, betree ons die onbekende wêreld van hul gedagtes, ervarings, en emosies. Hierdie reis kan dalk ietwat intimiderend wees, maar dit is ook die pad na nuwe verbintenisse. Deur die onbekende in ander mense te verken, ontdek ons dikwels nuwe aspekte van onsself.
Keats se idee van “negatiewe vermoë” herinner ons daaraan dat dit soms beter is om die vrae te koester eerder as om vinnige antwoorde te soek. Dit herinner ons daaraan dat die lewe se grootste waarhede dikwels gevind word in die skaduwees van die onbekende en dat die bereidwilligheid om in hierdie skaduwees te leef, ’n dieper, ryker en meer betekenisvolle lewe moontlik maak.
So, kom ons vier die onbekende. Kom ons leer om gemaklik te wees met onsekerheid en om die wonder en moontlikheid in die dubbelsinnigheid van die lewe te sien. Deur dit te doen, kan ons die skoonheid en dieptes van die menslike ervaring ten volle omhels.
Laat die reis jou lei na ondenkbare hoogtes.
©MarleneErasmus
30/06/2024
(754 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Junie 2024 – Die onbekende projek