Jongste aktiwiteit:

Wat lei tot die tragedie van gesinsmoorde?

(Woordtelling 1075)

 

Gesinsgeweld speel nie noodwendig ‘n rol nie, maar ‘n gevoel van hopeloosheid en onmag om jou en jou gesin se omstandighede te verander, speel wel ‘n rol. Om tot die daad van gesinsmoord oor te gaan, moet jy aan een of ander vorm van ‘n geestesversteuring lei, heel waarskynlik depressie in ‘n erge graad. Ander faktore wat ‘n rol kan speel is onbehandelde Post Traumatiese Stres Versteuring, alkohol- of dwelm afhanklikheid, en ‘n geskiedenis van mishandeling of verwaarlosing gedurende jou kinderjare.

Dit moet egter duidelik gemaak word dat al is depressie byna altyd ‘n onderliggende faktor, die oorgroot meerderheid van depressiewe mense nie hulself om die lewe wil bring nie, maar die meeste mense wat hulself om die lewe bring, het wel depressie gehad.

Ilse Pauw van Health24 het bevind dat veral onder die Afrikaanse gemeenskap die rol van die pa baie belangrik is. Hy is die hoof van die huishouding, gewoonlik die grootste broodwinner, die beskermer, en mag ‘n oordrewe sin vir verantwoordelikheid hê. So ‘n man is waarskynlik ook daaraan gewoond om besluite namens sy gesin te neem en kan oorweldig voel deur die druk van die lewe. Huweliksprobleme of geskille oor toesig oor die kinders na egskeiding dra by tot die gevoel van oorweldiging.

Finansiële probleme is algemeen in sulke gevalle en hy kan voel dat hy sy familie in die steek laat. Soveel druk kan veroorsaak dat ‘n andersins kalm individu totale beheer oor sy lewe, en sy vermoë om probleme op te los, heeltemal kan verloor. Hy sal homself eerder doodmaak as om te erken dat hy hulp nodig het.

‘n Patriargale man voel dat sy gesin nie sonder hom sal kan oorleef nie, daarom dat hy eerder almal sal doodmaak as om hulle alleen in die wêreld te los om na hulself om te sien. Vir so ‘n persoon is dit byna onmoontlik om openlik te erken dat hy hulp nodig het.

Neil McGibbon, ‘n Kaapstadse kliniese sielkundige, wys daarop dat die misplaaste idee van manlikheid ‘n groot rol in gesinsmoorde speel. So ‘n persoon sal dikwels sy emosies onderdruk eerder as om die beeld van sy manlikheid prys te gee.  Daar is ‘n sterk ingewortelde idee dat “mans nie praat, of huil nie”, of dat mans om een of ander rede minderwaardig is indien hulle hulp sou soek. Hulle moet te alle tye “sterk” wees. In wese faal die samelewing dan ook individue oor die algemeen.

Alhoewel dit baie raar is, gebeur dit tog dat ‘n andersins liefdevolle moeder haarself ook tot ‘n gesinsmoord sal wend. ‘n Oordrewe sin vir verantwoordelikheid en om oorweldig en buite beheer te voel weens hul persoonlike omstandighede, is dikwels die hoofrede waarom ‘n vrou tot so ‘n gewelddadige daad sal oorgaan.

‘n Geval wat die land geruk het, was die gesinsmoord van die drie jong dogtertjies van ʼn Suid-Afrikaanse gesin wat in 2021 na Nieu-Seeland geïmmigreer het. Lauren Dickason, ‘n 42 jarige Suid-Afrikaanse dokter, het haarself tydens die voorval in die diepte van nageboortedepressie bevind. Sewentien in-vitro bevrugtings, en die dood van haar ongebore baba was heel waarskynlik die begin van ʼn kringloop van depressie wat uiteindelik tot hierdie absolute tragiese einde sou lei. In Lauren se verhoor het die duidelik geword dat sy ook ʼn oordrewe sin vir verantwoordelikheid teenoor haar kinders gehad het. Dit was vir haar baie moeilik om hulle bv. alleen op ʼn klimraam te laat speel, en het hulle sonbrandroom gesmeer selfs al staan hulle binnenshuis in ‘n kolletjie son.

Die feit dat sy die moord op haar drie voorskoolse dogtertjies begin beplan het terwyl hulle nog in Suid-Afrika woonagtig was, is werklik kommerwekkend. Hoekom kon ‘n persoon met uitgebreide mediese kennis haarself nie help nie, of selfs nie uitgereik het na iemand wat haar effektief kon bystaan en deur die depressie help nie? En, indien sy wel behandeling gekry het, het ons gesondheidsorg haar dan hierin gefaal?

In die meeste gevalle is depressie niks anders as ‘n groot leuenaar nie. Dit vertel vir jou ‘n klomp onwaarhede soos bv. dat hierdie wêreld beter sal wees sonder jou, en indien daar jong kinders in die huis is, is dit maklik om te dink dat dit beter vir hulle sal wees indien hulle saam met jou sal sterf, eerder as om alleen in ‘n ongenaakbare wêreld agtergelaat te word. Jy dink dus dat jy hierdie daad uit liefde pleeg en sien dit nie as ‘n misdaad nie.

Volgens Konrad Czech, ‘n psigiater van Clairmond, Kaapstad, is depressie, die afhanklikheid en misbruik van dwelms en alkohol, gesamentlik met ‘n spesifieke persoonlikheidstipe, dikwels die oorsaak dat ‘n persoon sy gesinslede mag uitwis voordat hyself ook sy lewe beëindig.

Welmoet Bo is egter van mening dat daar heelwat redes agter gesinsmoorde sit. “ʼn Patriargale samelewing kan sommige mans daartoe lei om te glo dat hulle die finale sê in alles het, insluitend of hulle gesinne lewe of sterwe. Mens kan nie anders as om te vra waarom dit in die afgelope tyd so algemeen in Suid-Afrika voorkom nie, maar die antwoord is moeilik te vinde. Drank en dwelms maak inhibisies los en speel ʼn groot rol, maar die punt is, waarom gaan sommige mense so ver terwyl ander dit nie doen nie?”

Volgens Dr. Mary Kuria, ‘n professor in sielkunde in Nairobi, is daar ‘n baie sterk verband tussen geestesgesondheid, jou ondersteuningstelsel, en gesinsmoorde. Sy bevestig ook dat alkohol- en dwelmmisbruik, tesame met ‘n geestesafwyking, ‘n persoon meer ontvanklik maak vir die moontlikheid van ‘n gesinsmoord. Dit is nie net die kwantiteit van jou sosiale verbintenisse nie, maar ook die kwaliteit daarvan wat saak maak. Dit als vorm deel van jou ondersteuningsnetwerk, of die gebrek daaraan.

Alhoewel die presiese oorsaak en gemoedstoestand van so ʼn persoon nie 100% duidelik is nie, blyk dit dus dat ʼn geestesafwyking in een of ander vorm, tesame met misbruik van ʼn middel, hetsy drank, dwelms of voorgeskrewe medikasie, die onvermoë om groot stres te hanteer, als daartoe bydra om die persoon te laat knak en tot ʼn ondenkbare daad oor te gaan.

Al kan ons nie so ʼn persoon se daad ongestraf laat verbygaan nie, maak dit steeds nie die persoon “sleg” nie. Dit is ongelukkig die tragiese uiteinde van moeilike omstandighede. Waarom verskillende mense in dieselfde omstandighede verskillend optree, hang grootliks af van ons veerkragtigheid en vermoë om moeilike situasies te hanteer. Wat vir die een persoon ‘n onoorkomelike situasie mag wees, is vir die ander net nog ‘n slegte dag in sy lewe.

 

Bronne :  https://jougesin.solidariteit.co.za/gesinsmoorde-wie-en-waarom/

https://www.news24.com/life/archive/What-fuels-family-murder-20120721

 

 

 




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed