Winter-eik
Vaal staan jy daar
in jou gedempte bestaan
Skynbaar gevoelloos
karakterloos
kleurloos
roerloos
leweloos
Kaal staan jy daar
van jou sieraad gestroop
Met niks om mee te spog
Onaantreklik
verneder
verleë
stom
Jou somergloed
net ‘n verslete herinnering
Die kleurvolle misterie
van die herfs
net ‘n eensame nostalgie
Onuitbundig
onvrypostig
Jou grou lote reik na
die skraal winterson
soos biddende vingers
Maar smag weerloos
na die lang koue nag
wat jou skaamte
sal bedek
Kom stroop my van my ego
Kom stroop my van
my maklike antwoorde
Kom stroop my van
my sprokiesland
waar die seer
net veldiepte tref
Rus my siel, rus
Trek jou kwynende lewe
diep terug
tot waar niemand sien
Tot ‘n warm konsentraat
waar jou hart nog kan klop
en lentedrome koester
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.