Winterfront (Goud)
jy kom roep my nie meer
om saam jou te aanskou
as die weerlig dramaties
tussen die randjies bokspring nie
ek gaan soek jou nie meer
om langs my te kom staan
wanneer die sekelmaan versluierd
agter die wolke uitklim nie
ons hou nie meer hande vas
as ons saans gaan slaap nie
en voel nooit meer die galopklop
van ons harte teen mekaar nie
jy omarm my nie meer
deur stille winternagte nie
en nooit as te nimmer
hoor ons mekaar meer lag nie
want, mettertyd het ons kilheid
in ‘n skrilkoud winterfront ontaard
©Loretta Szikra
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Maart 2024 - OOP projek