LANG MOEN en die TIER
OORLOGSTRAUMA – Lang Moen en die Tier
24e. Januarie 2017
Lang Moen se man het uit die oorlog teruggekom. Hy wat altyd so teer en so liefdevol was en haar omsorg en vertroetel het, was nou nors en bars en woes en eenvoudig onuitstaanbaar en het urelank op die rotse gesit en met ontevrede trek om sy mond oor die see uitgestaar. In haar nood, en omdat haar mense in ‘n ander dorp gewoon het, en omdat sy geen ander mense geken het nie, besluit sy om by volmond die wyse ou man in sy grot hoog bo-op die Kluisenaarsberg te gaan raadvra.
<Hmm, ja, my kind> sê hy nadat sy haar uitgepraat het, <ek wil jou geld nie hê nie, jy kan maar huistoe gaan. Ja-ja, gaan huistoe en . . .”
<Maar vereerde Grootvadertjie,> roep sy vertwyfeld, <hoe kan ek hom tot omkeer bring? Een van die dae slaan hy my mos dood! En ek het hom nog altyd so lief. Wat kan ek doen?>
<Hmm, ja, gaan maar huistoe,> herhaal hy, <en as jy weer by volmond kom, bring my die baardhaar van ‘n tier saam. Dan sien ons verder.>
Op pad huistoe is sy eers self nors oor die simpele ou man haar so ‘n taak gegee het. Hoekom nie kruietee of salfies of ‘n werksame toorspreuk nie? Ja maar, redeneer sy, dis dog alombekend dat hy siekes genees en mense se kwellings en stryd ondermekaar kan bysit. Dus benodig hy sekerlik die baardhaar om ‘n kragtige medisyn mee te brou. Maar waar kry ek so ‘n tierhaar? In die paleis op die Adelsberg het hulle poue wat op die grasperk parmantig heen en weer stap en olifante, en allerhand diere in hokke, ook leeus en kangaroes en diere uit die hele wêreld. Maar het hulle tiere? En as hulle dit het, wie gaan dit toelaat dat soiemand soos ek daar mag inkom? En dan nog om ‘n haartjie bedel?
En so het sy die hele bergpad huistoe heen en weer oorweeg, hoe kom sy aan die baardhaar van enige dier? Want die mense was arm, en buiten ‘n paar afgeleefde brakke was daar geen diere op die dorp nie. En hy laat hom seker nie met ‘n hond se haar kul nie, nee. Aan die dorpbron, waar sy haar kruik laat staan het, hoor sy hoe die vrouens opgewonde vertel dat daar op die Woudsberg aanskynend ‘n tier ingetrek het, en dat hy die boertjies dort met sy nagtelike streeptogte skrik op die lyf jaag.
Daar en dan besluit sy dat sy hierdie dier gaan besoek. Of hy op haar smeekbede sal ingaan? Daar’s mos legendes wat van soortgelykes vertel, of hoe?
Ja, maar wanneer? In die môreskemering, nadat hy teruggekeer het van die jag. Dan het hy, hopelik, geen honger meer nie. En, en, wat nog…?
Maar eers moet sy uitvind waar hy woon. Waarskynlik in een van die grotte bo-op die Woudsberg.
In dieselfde nag, onmiddelik nadat haar man ingeslaap het, staan sy op en gaan soek die tier. Haar instink sê haar dat, as hy op jag is, dan is hy nie by die huis nie. Waaragtig, in die derde nag merk sy aan die sterk reuk dat ‘n tier hier woon; in die agtergrond van die plat klip is die donker kol wat sy grot moet wees.
Vroemôre van die vierde dag klim sy op sy berg en sien hom waar hy so luilekker lê en gaap, ‘n jong mannetjie wat hopelik nog nie mensvleis geproe het nie. Sy het ‘n skottel saamgebring, so `n vlak kommetjie uit gebrande klei, en ‘n flessie met melk. Die skotteltjie nestel sy in die sandige gruis aan die kant van die plat klip voor sy woongrot, sy lapa. En vul dit met melk. Dan moontlik gou tussen die bome en struike weg, net weg van hier. Haar man kan enige oomblik wakker word en dan het hy mos honger.
Dag vir dag kom sy voor sonop en bring hom melk in haar flessie om die skotteltjie te vul; die eerste paar dae was hy ongeskik en het die kom omgewerf. Later het sy gesien hoe hy sy kop oprig en in haar rigting kyk toe sy haar pad bergaf begin klim. Hy het haar gesien, dit weet sy. Na ‘n week bly sy ‘n rukkie staan en wag tot hy opstaan en melkbaktoe kom.
Op die twaalfde dag lê hy voor die kom op haar en wag met sy pote netjies voor hom uitgestrek soos wat vir ‘n tempelstandbeeld . . .
Die ou man van die Kluisenaarsberg kyk haar stip aan, <En wat maak jy toe?> vra hy byna onhoorbaar.
<Ek het saggies, saggies ‘n kinderliedjie begin neurie en hom sy melk in die kom gegooi, eerwaarde Grootvadertjie. En toe gaan ek weer huistoe, waar my man nog slaap.
Op die sestiende dag wag ek tot hy uitgesuip het en gaan dan met my neurielied langsaam weer terug bergaf terwyl hy lui-lui terug na sy lêplek voor die grotingang slenter.
Op die een-en-twintigste dag gaan hy nie terug grot-toe nie maar bly eenvoudig daar lê met sy kop op sy uitgestrekte pote, en raak aan die slaap.
Op die twee-en-twintigste dag het ek sy nek sagkens gestreel, nadat hy ingeslaap het, en die woorde van die kinderliedjie saggies gesing.
Op die vier-en-twintigste dag het hy sy kop en sy hele lyf skielik op die linkersy gewerp en bly lê. Ek het hom solank aan nek en ore gestreel tot ek die liedjie uitgesing het, vóór ek saggies weer die pad huistoe ingeslaan het. Dit was die eerste dag wat hy gespin het. En so het dit die volgende drie dae aangegaan; ek het gestreel en gesing en hy het gespin.
Op die agt-en twintigste dag het hy hom op sy rug gedraai en my so skeef van onder aangekyk. Ek het gesing en met my linkerhand gestreel. Oor sy keelhare, tussen sy ore, tussen sy oë en terug oor sy wang en sy baardhare. Hy het gespin soos ‘n bromtol, en ek het na ‘n tydjie, as sy oë toe was en hy aan die slaap geraak het, met my regterhand ‘n baardhaar uitgepluk. Daarna het ek nog ‘n paar minute gestreel en gesing, voordat ek weer al singend in die pad geval het huistoe. Daar was my man al wakker, en ek moes gou ‘n storie uitdink.>
<Maar toe jy die haar uittrek . . . Het die tier niks gedoen nie>
<Ja, Grootvadertjie, hy het ‘n bietjie wild met die een arm geswaai en aan sy gesig gevryf asof hy ‘n muskiet wou verdryf. Dan het hy gou weer tot rus gekom. En dit was vanmôre, en vannag is volmaan, en vannag kom ek soos eerwaarde Grootvader dit verlang het.>
Weereens staar die ou kluisenaar die jong vrou stip in die oë, diep in haar siel.
<Lang Moen,> sê hy met sy melodieuse basstem terwyl hy die baardhaar sorgloos in die vuur laat val, <Lang Moen, my kind, en netso gaan jy ook jou man weer terugkry.>
©2012………………………………………………………….ЯΞR………………………………………………………………..tje
[ Aanerkenning: Die bron van hierdie verhaal is waarskynlik volksgoed, dit wil sê dat iemand, wie weet wat sy naam was, dit wie weet-hoe-lank-gelede vertel het en ander het dit verdervertel.
Die kopiereg berus op my (bostaande) weergawe daarvan. tje ]
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
Hierdie stuk behoort saam met ,die Dame Shonagon se kopkussingboek' en ,die Keiser se hoender' in die groep VERRE-OOSTLIKE VERHALE. GvT