Jongste aktiwiteit:

Spys en drank

(Brons)

As ‘n mens nou alles kan glo wat in die media gesê word oor kos, kan jy nou maar net een afleiding maak. Ons is almal besig om onsself elke dag meer en meer te vergiftig. En daar is so baie dinge wat ons dood kan maak, dit is slegs ‘n wonderwerk dat daar nog mense op aarde voorkom. Almal moes nou al dood wees. Kom ons gaan kyk na ‘n paar van die goed wat vinger op die sneller staan om ons bestaan korter te maak die oomblik as ons fouteer. Eerste is daar kieme. Die ouens met wit jassies noem dit bakterieё of patogene. Die goed het ‘n uitgebreide familie, en elkeen het sy wapen waarmee hy spesialiseer. E coli, Listerose, Salmonella en ‘n hele paar ander wat uitspraak en spelling van die mees gesoute taalkenner sal beproef. As jy hulle mis, is daar dinge soos plaagbeheer middels wat boere op hulle groente spuit om wurms en goggas en onbedoeld mense ook dood te maak. Daar is van die middels wat al verban is omdat dit skadelik is, nie net vir mense nie, maar ook die omgewing. Dink aan middels soos DDT, sekere piretroïdes, en ‘n magdom ander. As jy nou die groente mooi gewas het, en dit was met veilige middels bespuit, lê jou dood en wag in die verpakking. Of die aluminium pot waarin jou spinasie so lekker op die stoof prut. Sonder dat jy besef, spinasie is mos nou gesond man, is jy besig met ‘n giftige brousel.

Maar ek is nog hier, en ek het al ‘n allemintige hoeveelheid hamburgers en skyfies agter die blad. Die ding is seker maar soos met alles ‘n saak van balans en gene. Almal het nou maar die vitamiene nodig. Daar is ‘n hele paar. A, B1 tot 12, C, D, E, en ‘n magdom minerale wat die liggaam daagliks benodig. Eet die regte kossoorte of koop dit sommer in ‘n bottel. Dan is daar die kwessie van vloeistof. Drink water, baie, want die liggaam bestaan uit sowat 45 Liter daarvan. Maar maak seker dit is skoon, want kiem se kind lê ook daar vir jou en wag. En weer het die verpakking ook verskuilde middels wat karsinogeen bevat. Kry genoeg oefening, want dan funksioneer die liggaam op sy beste en is hy beter bestand teen die kieme en ander moordenaars wat elke dag ons paaie kruis. So nou en dan, nie te gereeld nie, eet ‘n sjokolade, of ‘n koeksister. Drink ‘n oggend koffie, en duik in ‘n dam wat geen chloor in het nie. Maar maak seker jy lewe, voor die lewe weg bekommer word.

Buiten al die vitamiene, en gesonde kossoorte, water en koffie is daar ook iets anders wat belangrik is. Inteendeel is dit lewens belangrik. Die groot probleem is dat min van ons dit raaksien, en die waarde daarvan besef. Ons leer dat ons nie van brood alleen sal lewe nie, maar van elke woord wat van die mond van God uitgaan. Die vraag hier is of ons soms tyd maak om te luister. Bo die gedruis van ons besige lewens, die gejaagtheid van werk, die T.V en sosiale media, partytjies saam met die werk en vriende, bly daar tyd oor om te luister? Om stil te raak en jou oё toe te maak en al die vitamiene en minerale van God te ontvang. Om met Hom te gesels, soos hy met Adam wou maak in die tuin. Antwoord jy Hom, en gesels met hom, en ontvang jy die lewende water wat hy beloof? Of kruip jy weg agter die leuens wat ons naak laat voor hom? Jy sien, soos wat jy sekere dinge moet vermy, wat skadelik vir die liggaam is, is daar goed wat die gees afbreek. Daar is ook gif en kieme en mooi verpakkings en heerlike vleispotte, waarmee ons verlei word op ‘n daaglikse basis, en net soos met verkeerde eetgewoontes ons siek kan maak. Daar is goed wat ons doof maak vir die stem van ons gewete. Blind vir ons eie foute. Siektes wat ons geestelik aftakel dat ons nie kan op staan om die wapenrusting van God aan te trek nie, want ons is te swak om selfs die gordel van waarheid om ons heupe vas te maak. Of is ons net lui en onfiks, en ons gees word te gou uit asem?

Moet nie moed verloor nie, want net soos ons deur dokters medisyne gegee word om ons skete te genees, of soos ons minder eet en oefen om gewig te verloor en fiks te word, so kan ons genees word deur die Bloed van Jesus. Een dosis van sy liefde, en jy word ten volle genees! Net Hy gee ons Ewige lewe!
©Vossie




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed