Jongste aktiwiteit:

Seile

En nou,
terwyl bote wegdryf oor die waters
en die son haar laaste lig
in donker oseane skink,
wil ek net sê:
ek glimlag steeds –
as ek aan jou dink.

Ek dink soms aan ’n albatros
wat vlieg oor stormsee
en hoe koud die wind en missproei is,
hoe hy deur dit alles beur
sonder huiwer
sonder vrees.
Sou jy ook so wees?

Ek verkluim
bloot aan die gedagte.
(Meer broos as braaf, is ek.)

Ek kruip weg in elke veilige hawe;
span net soms ’n seil
wat die ligte winde vang.
Hulle sê ’n boot is nie gebou
om in ’n hawe rond te hang nie…
(ek was nog nooit ’n boot nie).

Ek staan in my gedagtes
op Gordonsbaai se strand.
Daar is seile op die horison
en lig wat in die water sink.

En ek wil net sê:
ek glimlag soms –
as ek aan jou dink.

© Carma Shaw
22 September 2018
3:38




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed