Generasies 2.: Die anderkant van klein dorpies
Dinge lyk rustig en gesond op die platteland.
Dis goed vir kinders en alles loop hand aan hand
met die welsyn van die mense en elke gesin.
Tog, tussen onbesorgdheid so vry
en volslae ondraaglike waansin,
is daar dikwels net ‘n voordeur wat skei.
My pa was briljant, en lief vir my,
maar soos sy pa voor hom en hoeveel geslagte nog,
het hy die bedonnerde geen gekry.
Ek was vreesbevange lief vir hom.
Ons was elke ander jaar op ‘n nuwe plek,
nuwe skool, nuwe maats. Hy het stry gekry
met elke vennoot, met pasiënte, met
predikers (die fariseërs), wou almal dagvaar
en verduiwels aan die pen laat ry.
Hy en my ma het net baklei
en elkeen op sy eie planeet gebly.
Ek wou graag soms snags my
tassie pak as ek dinge so skerp oplet.
Hy was by die spreekkamer of op ‘n plaas,
of het met ‘n pasiënt na die stad gehaas.
Sy het skoolgehou en alles by die VLV leer maak.
Op elke nuwe dorp het ons eerste gehoor
waar’s die biblioteek, nog voor
ons gedink het aan die skool, en met
die kerk had my ouers tog geen saak.
My boetie was bang en huilerig, my ma se seun,
want my pa kon hom ook glad nie staan –
weer soos sy pa voor hom en hoeveel geslagte nog.
Eendag het hy my kleinboet met ‘n seekoei-sambok,
oor ‘n skeurtjie in ‘n boek byna stukkend geslaan.
Hy’t my hondjie laat uitsit en sommer toe ook
die buurt se reuns vergewe, die hele erf vol,
want my ma het geneul oor nagte se getjank en bure
wat kla oor honde wat agter die teef aanhol.
Ek kon nie by my ma oor probleme kla,
wou haar nie verder onstel of pla.
Sy was self te besig met oorleef
om te luister na wat ek vra.
So sou sy tot haar dood nooit weet
van groot seuns wat al in die stad
te veel van my kleuteronskuld wou vat.
En as ek vandag na ons foto’s kyk
sien ek my ma bleek die kamera ontwyk.
My boetie sit grootoog en ek soms ook,
of ek frons, glimlag lief of soms net fake.
So trek ons van die stad na Prieska en toe
by Boshof (ja, dis ook ‘n dorp) langs.
Beland daarna op my oupa en ouma se plaas,
want my pa het besluit om die aftog te blaas
en te waai met sy aflosmeisie by ontvangs –
sy was agtien en ook (naïef) blond.
Daardie dae was niemand nog geskei.
Dit was ‘n moerse skande en niemand kon
vir geen kontak, foto’s wat verdwyn,
ons mag nie daaroor praat nie, berading kry.
Maar die twee jaar by daardie tuiste-huis,
was die beste van my lewe – die paradys.
Oupa en Ouma het my ouers geword –
met al hul foute en en hul eie menswees
het hulle my veilig in liefde omgord
met lag, vakansies, nog boeke, musiek,
bowenal om in die Bybel van Jesus te lees.
So sien ek my Oupa hande vou,
al sê Ouma, Afrikaans tog, Petrus, geen
kind of gas weet meer wat jy bid!
as sy nogmaals ‘n feesmaal voorsit:
Segen Vader gij we eten,
laat wij nimmer U vergeten,
en almal in ‘n koor sê: Amen!
© Charleine Collins 17 Desember 2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.