Donkerpad se Lig
Spore van die tyd
loop kruis-dwars
oor die sonbruin huid
in ‘n silwer hare-raam
oë skreef vanself
uit ou gewoonte
as die kop wegdraai
na die sonkant toe
maar die sien is weg
lang jare al,
nou kyk hy net
na binne nog
die windhonde van ou onthou
jag dan haar beeld weer op
as hulle spoorvat
op die agterpaaie langes
“Sy was ‘n mooie vrou meneer,
soos die eerste dou
op die gras se punt,
as die son oor die berg kom loer.
Sy was my kelkie wyn meneer,
sy het my binneste kom warm maak
as die lewe met sy winter
in my hart kom grou.
En nou lat donker sy kombers
oor my twee oge kom gehang het
is sy die sonskyn in my donkerpad
lat ek nie voetstamp as ek daarlangs loop nie.”
Hy draai hom om
en skuifel weg
en soos hy loop sien ek
sy laaste woorde was tog reg…
© Anton Bosch 22/01/2019
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
See-Jay-El
Op 'n subtiele wyse plaas die verteller die fokus onmiddellik op die gesig van die man waaroor hy aan die woord is: "oor die sonbruin huid in ‘n sliwer hare-raam." Hy sê duidelik let op hierdie man se gesig. Dan verduidelik hy hoekom jy moet kyk, maar dit volg eers in die derde strofe wanneer hy sê: " maar die sien is weg lang jare al," Daar is ietsie wat opmerklik is in die tweede strofe: "as die kop wegdraai na die sonkant toe." Gewoonlik sal 'n blinde persoon sy kop draai in die rigting van die stem. Ek wil dis aanneem dat die "sonkant " 'n verwysing is na sy kyk wat nou nog net na binne toe is. Daardie beelde wat uit die verlede kom van 'n vrou wat hy bemin het, is sy sonkant, Be-amend sê hy ook "sy het my binneste kom warm maak as die lewe met sy winter in my hart kom grou." Sy was ook sy brokkie vreugde, "kelkie wyn" en sy lig. Sy het hom hoop gegee en krag in sy verlede. En die onthou van haar, is steeds soos lig vir hom nou dat hy nie kan sien nie. Dan trek die skrywer die stelling na homself toe. Dis waar dat die deel in lewe en liefde van twee mense, selfs na 'n skeiding die "drakrag" gee om die moeilikste uitdagings en tye deur te sien. Dis om te sê jong liefde wat met tyd verouder en verdiep word die veiligheidsnet wat ons geluk noem. En as dit diep gewortel is in die verstaan van mekaar, word dit lig, warm en beskermend, koesterend in die mees onmoontlikste van tye. Die werk straal 'n positiewe lewensuitkyk uit. Waar die man eintlik die "mooi vrou" wat hom so gelukkig gemaak het, baie mis en diep na haar verlang, maar die herinneringe wat hy van haar het gee vir hom hoop (lig) op hierdie donker pad. Dit laat die lig net soveel meer uitstaan soos 'n dun straailtjie wat regdeur die werk breek. Dis hoop teen die kontras van hopeloosheid, lig teen die kontras van donker. Deur die kontraste word die positiewe kern uitgelig. Sinvolle en gemaklike taalgebruik dra by tot die mooi deel van die man se situasie.