Jongste aktiwiteit:

Arboretum

(goud)

vir jou wil ek soos ’n houthuisie wees
wat in varingvelde rus
in die skadu van koel bome
waaraan rooiwangpere hang
met duiwe in die takke
wat vroeg smôrens kanonkoer

vir jou wil ek soos ’n houthuisie wees
aan jou doringbaai se kus
met malgasse wat huis toe kom
en wit mis oor die see
en jy wat oor die waters kyk
deur wawyd-ope ruite
tot jou leedsiel weer teen strande rus

jy voel tuis in ’n Bolandhuis
met geelhoutvloere en los matte
en winters eet jy pannekoek met stroop
buurkatte is welkom op jou stoep
en jy’s gewoond aan Kaapse weer
en elke-naweek-braaivleisgeur

en met jou wil ek my lewe deel;
in die onskuld van my boomhuisie rus

© Carma Shaw
24 Maart 2019

Neologismes
1. buurkatte – die bure se katte
2. elke-naweek-braaivleisgeur
3. leedsiel – siel wat baie leed verduur
4. kanonkoer

Bronteks

florauna – André Letoit (Koos Kombuis)

ek wil vir jou ‘n gewelhuisie bou
in die boland van my hart
met ‘n peerboom in die tuin
en vaatjies wyn in die kombuis
en ‘n tuinhekkie met krulle
en boekrakke met sartre.

ek wil vir jou ‘n gewelhuisie bou
in my onderkaap van smart
met skepe in die hawe
en donssaad op die berg
en jy, in lewende lywe
op die stoep, in jou kombers
in die winterboland van my hart.

jy kom van ‘n groot glaskasteel
met kandelare en wolkatte
en toffies toegedraai in bordjies
en poedels op plaveisel
jy’s ongewoond aan kaapse weer
jou tekkies is geparfumeer

maar ek wil vir jou my lewe gee
in die witafdophuisie van my hart.




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed