Jongste aktiwiteit:

Ballade vir ’n narcissus

(goud)

eendag in die vroeë lente
het ’n narsingbol ‘n loot
Iank en groen en dunnerig
na die hemel opgestoot

met aan die punt ’n knoppie
wat goudgeel uit sou kom
om te baai in sagte sonskyn
– en geurig was sy blom

maar per geluk (of ongeluk?)
het hy naas ’n dam gegroei;
helder het hy sy weerkaatsing
in die gladde spieël laat bloei

elke dag, van sonopkoms
totdat die laaste strale taan
het affodil verwonderd
voor sy eie beeld bly staan

te selfvoldaan het hy gelag
(geeneen so mooi soos ek)
en geboë in die dam bly staar
selfs al pyn sy slanke nek

soms sou hy skuins na malva loer
want deur haar smalende te spot
(hoe vaal is tog jou jas, ou ding)
vind hy die wêreld se genot

hoogmoedig, op homself verlief
– net sy eie beeld begeer
en dat hy erg bekoorlik was
daarby sou hy kon sweer

maar so was dit tog wel beskik
– en nie veel langer later –
dat affodil verskrik sou merk
dat daar fout is met die water

want in die vreemde tafereel
hang sy kroon se blare pap
en die buiging van sy stingel
lyk so effentjies te slap

dit kan mos nie wees nie;
hy kyk verstom ’n laaste keer
en wonder met sy bolbrein
– hoe het dit dan nou gebeur

onvermydelik sy slotverhaal;
dat sy skoonheid sou vergaan
kon die ingenome narsing
om die dood net nie verstaan

en nog teen die bitter einde –
met al sy glorie daarmee heen
het hy (steeds vewaand) in sterwe
geglo dat malva oor hom ween

© Carma Shaw
10 April 2019
15:46




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed