Ballade vir ’n narcissus
(goud)
eendag in die vroeë lente
het ’n narsingbol ‘n loot
Iank en groen en dunnerig
na die hemel opgestoot
met aan die punt ’n knoppie
wat goudgeel uit sou kom
om te baai in sagte sonskyn
– en geurig was sy blom
maar per geluk (of ongeluk?)
het hy naas ’n dam gegroei;
helder het hy sy weerkaatsing
in die gladde spieël laat bloei
elke dag, van sonopkoms
totdat die laaste strale taan
het affodil verwonderd
voor sy eie beeld bly staan
te selfvoldaan het hy gelag
(geeneen so mooi soos ek)
en geboë in die dam bly staar
selfs al pyn sy slanke nek
soms sou hy skuins na malva loer
want deur haar smalende te spot
(hoe vaal is tog jou jas, ou ding)
vind hy die wêreld se genot
hoogmoedig, op homself verlief
– net sy eie beeld begeer
en dat hy erg bekoorlik was
daarby sou hy kon sweer
maar so was dit tog wel beskik
– en nie veel langer later –
dat affodil verskrik sou merk
dat daar fout is met die water
want in die vreemde tafereel
hang sy kroon se blare pap
en die buiging van sy stingel
lyk so effentjies te slap
dit kan mos nie wees nie;
hy kyk verstom ’n laaste keer
en wonder met sy bolbrein
– hoe het dit dan nou gebeur
onvermydelik sy slotverhaal;
dat sy skoonheid sou vergaan
kon die ingenome narsing
om die dood net nie verstaan
en nog teen die bitter einde –
met al sy glorie daarmee heen
het hy (steeds vewaand) in sterwe
geglo dat malva oor hom ween
© Carma Shaw
10 April 2019
15:46
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2019 projek