Jongste aktiwiteit:

Die Nooientjie

Die afgelope paar dae het ek Facebook-boodskappe en e-posse gelees en verskeie gesprekke aangehoor. Aanvanklik het ek my min daaraan gesteur. Ons lewe in ‘n tyd waar verandering die norm is. Om ‘n nuwe straatnaam en ‘n nuwe dorpsnaam te sien, is alledaags en ‘n tipe aanvaarding het onbewustelik pos gevat.

En toe onthou ek . . .
Ek onthou blou keppies en gordels, ronde kragies en pofmoue. Ek onthou Affie-blou – ons spesiale blou. Ek onthou “grass parties” en Kode Blou, die Bokkie, die Venstertjie, die rooi stoepe, wat lei na die Boerenooientjie – die beeld gegiet uit die hande van Anton van Wouw.

Sy stel soveel voor.
Die stryd van die hart van ons bestaan. Ek is ‘n jong Afrikaner-vrou en ek besef vandag hoe belangrik die rol van vroue in ons land en volk was. Sy was die dryfveer agter die mans wat die Groot Trek gelei het. Sy was die hande wat moes voed, moes troos, moes moed inpraat en moes dokter. Sy het die leiers en die Afrikaner gedra deur oorloë, bitter stryde en konsentrasiekampe. Sy het gevestig: ons kultuur, ons geloof en ons taal. Dit het alles van haar gevat – trane, geloof, hoop en vasberandenheid. Sy het geveg vir die toekoms van elke seun en dogter wat spruit uit hierdie nasie.
‘n Dame het op Facebook genoem dat dit lyk of ons Nooientjie ween in plaas van wen. Natuurlik ween sy. Om te wen is seer. Dit is moeilik en dit tap elke laaste stukkie energie uit liggam en gees. Maar sy is sterk. Sy het ‘n innerlike krag wat ongeëwenaar is.

Waarom kyk sy af?
Sy is nederig. Haar krag en moed is afkomstig van God. Sy weet sy is slegs een van Sy verteenwoordigers, en sonder Hom is sy niks. In eerbied staan sy voor Hom en bely. Sy dra haar kinders, haar man en haar volk aan Hom op.

In AHMP het ek geleer van die lewe. Ek is toegerus vir my eie oorlog. Ek het geleer dat die lewe ‘n stryd is en dat ek ‘n stryder is en ek het geleer hoe hierdie bloed deur my are vloei. Soos die Boerenooientjie, moes ek veg vir my pad, veg vir my kinders. Ek moes krag en moed tap waar daar nie meer is nie en menige male onthou om nederig op my knieë te bly. As jong dogter is ek in daardie mileue gevorm en wil ek graag my dogter daarin skool. Al ontneem die nuwe wapen nie hierdie waardes van die dogters nie, is die oorspronklike wapen onlosmaaklik deel van ons. Dit verteenwoordig alles reeds genoem. Dit verteenwoordig ons tradisie.

Soveel maal het jong monde al gesê: “Affies is nie net ‘n skool nie, dit is ‘n leefwyse!” En dit is. Dit stel ‘n diep emosionele geskiedenis van die vroue van ons land voor. Dit is die vorming van ons dogters om die rolle van ons toekomstige leiers te vul. Dit rus hulle toe op ‘n basis waar hulle weet waar hulle vandaan kom.

Die Boerenooientjie is nie net ‘n beeldjie geborduur op ‘n baadjiesak nie. Dit vervat alles waarvoor ons staan, waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is. Ons is elkeen ‘n boerenooientjie, ‘n moeder, ‘n versorger en ‘n trooster, hier geplaas deur God. Dit stel die stryd voor tot op hede geveg, die stryd waarmee ons besig is en die stryd wat wag. Dit stel ons gerus, want soveel voor ons het dit reeds aangepak en oorwin.

Nederig, gevul met die Krag van Bo, is dit ons trots waarmee ons die toekoms wil inbeweeg.
Opwaarts! Voorwaarts!
Ek sien háár wen!

-Johnell Pelser neè van Vollenhoven
10 Maart 2016
Matriek 2002




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed