OKTOBER DIE MOOISTE MAAND NASIONALE ROOFVOËLMAAND EN DIE POËSIE VAN DIE SKEPPING
Oktober, die mooiste maand van die jaar, bring nie net die herlewing vir die natuur nie, maar ook ’n herinnering aan die ekologiese balans wat in die die skepping gehandhaaf moet word deur die mens as rentmeesters van die Skepper.
Wanneer die natuur weer ‘asemhaal’, keer kleur, lig en lewe terug, en die hemel vul met die silhoeëtte van roofvoëls wat hoog bo aan die koepel van die blou-blou lug sweef. Hulle is die vorstelike heersers van die lug, die simboliese brug tussen aarde en hemel.
Hierdie maand, wat internasionaal as Nasionale Roofvoëlmaand gevier word, nooi ons om weer op te kyk, om die poësie van die skepping raak te sien en ons roeping as rentmeesters van God se skepping te herontdek.
Die poësie, die ornitologie, die teologie, die ekologie en die wetenskap vat na my mening hande binne die breë spektrum van die ekologiese sisteem wat God met die skepping van die aarde in werking gestel het.
Deur laasgemelde dissiplines saam te weef, het ons ’n loflied vir die Skepper en sy gevleuelde digters, by name Suider-Afrika roofvoëls, tot gevolg.
Die digter C L Leipoldt het in sy gedig Oktobermaand, gesê:
“Dit is die maand Oktober,
die mooiste, mooiste maand!
Dan is die dag so helder,
so groen is elke aand,
So blou en sonder wolke
die hemel heerlik bo,
So blomtuin-vol van kleure
die asvaal ou Karoo.
Dit is die maand Oktober! … ”
Dit is inderdaad so dat Oktobermaand die mooiste maand is. Oktober is ’n maand vol prag en praal. Die winter is verby en die natuur ontluik in ’n kaleidoskopiese kleure-paradys. Dit is asof daar iets goddelik in die oggendlug is. ’n Sagte gloed, terwyl die son pêrel-pienk op die horison dans en die dae met ʼn goue krans inlei. Die reuk van die reën wat jou neusvleuels seën en vogtige grond wat nuwe groei stimuleer, is ’n lus vir die oog. Die voëls begin sing in die bome se krone, asof hulle ’n loflied aan die Skepper bring, terwyl die wind se asem saggies deur die bome se blare fluister. Dit is asof die hele skepping in opgewondenheid ontwaak uit ’n diep … diep … slaap.
Op sulke dae ervaar ’n mens hoe die natuur se ‘ritmes’ sagkens verander. Die kranse, klowe, berge, vlaktes, riviere, vleie, die grasvelde en velde … Alles dra nou met trots nuwe kleur. Takke van bome en struike wat dood gelyk het kry nuwe lewe met die vertoon van groen ogies. Verskillende skakerings van blomme ontspring, skaduwees wat speel op die grond …
Leipoldt het ook destyds liries geraak in sy gedig Al die veld is vrolik, deur die vreugde van die natuur se herlewing soos volg te besing:
“Al die veld is vrolik; al die voëltjies sing;
al die kriekies kriek daarbuit’; elke sprinkaan spring.
Al die koggelmannetjies kom om fees te vier;
hier galop ’n goggatjie, daarso dans ’n mier.”
’n Anonieme digter het eenmaal gesê:
“Daar is ’n sekere heimwee in elke sonstraal van Oktober –
’n heimwee na groei, na lig, na die lewe self.”
Daardie heimwee is ’n gawe, want Oktober bring lewe terug in die natuur.
In een van haar beeldryke en kontemplatiewe gedigte skryf Wilma Stockenström:
“Die aarde het sy eie taal van lig, en die voëls praat dit vrylik.”
Uit hierdie gedigte het ek besef: poësie, ornitologie, teologie, ekologie en wetenskap kan hande vat binne die breë ekologiese sisteem wat God met die skepping van die aarde in werking gestel het. Ek het opnuut bewus geword van my taak as rentmeester van God se skepping, spesifiek die aarde.
Wanneer ek nou na Suider-Afrika se roofvoëls kyk, staan ek in verwondering oor die skepping en kom die woorde uit Eugene Marais se gedig Die Siel van die Mier, in my gedagtes op: “In elke veer, in elke vlerk lê die geheime gedagte van die Skepper.” Die “natuurklank,” wat egter vir my uit hierdie woorde van Marais na vore kom, is dat hy die bioloog as digter voorstel en sodoende as’t ware ’n ekologiese brug bou tussen die wetenskap en die poësie. Oktober nooi ons tot bewondering van Sy skepping.
Die digter T.T. Cloete, sê in sy gedig:
God die digter : “God is die digter
en die wêreld is sy gedig.”
Vanuit ’n poëties-teologiese gesigshoek en Cloete se siening dat die skepping sélf ’n gedig is, is roofvoëls dus letterlik ook “deur ’n Digter geskep.”
Gevolglik het ek, intertekstueel met Cloete se gedig, God die Digter, die volgende gedig oor Suider-Afrika se roofvoëls geskryf, om sodoende ’n platvorm te probeer skep vir dialoog tussen: Die skepping en die letterkunde en ook tussen die poësie van die natuur en die natuur van poësie.
Suider-Afrika se roofvoëls
is deur ’n Digter geskep *
“daar is baie meer poësie”
in die veertjie van ’n uil
“as in die letterkunde
en baie meer poësie”
in die pronk van ’n berghaan
die veredos van ’n jakkalsvoël
die kloue van ’n slangarend
die snawel van ’n aasvoël
daar is baie meer poësie
in die wetenskap
in die teologie
in die ornitologie
die arend se vlug
in die blou-blou lug
die sekretarisvoël
wat oor die vlaktes loop
in die roep van ’n visarend
“is daar meer liriek”
as in aardse musiek …
Suider-Afrika se roofvoëls
is deur ’n Digter geskep
——-ooo000ooo——-
(© Pieter Mostert)
(*Kom uit my boek Gevleuelde Digters)
In Oktober lyk dit met die kontras tussen lug en aarde vir my asof die uitspansel wyer, hoër en helderder is as ander maande van die jaar … En wie vlieg hoog bo in daardie blou-blou … lug? Wie sweef, wie kyk met deurdringende oë na benede? Wie is die geruislose waarnemers hoog bo in die blou-blou lug? Die roofvoëls, natuurlik!
Ek het in my navorsing om hierdie prosastuk te skryf, opnuut bewus geword van die grootheid en almag van God en kan met oortuiging die mening huldig dat God die Skepping so volmaak beplan en ontwerp het, dat elke roofvoël op hierdie wonderlike planeet ’n spesifieke doel in die ekologiese sisteem van die aarde het. Die mensdom, by name God se rentmeesters, ek en jy, is ongelukkig besig om daardie ekologiese balans wat God met die skepping van die aarde in werking gestel het, ernstig te versteur.
Min mense weet egter, en dit word betreur, dat Oktobermaand ook Nasionale Roofvoël-maand is. Dit is nie toevallig dat net wanneer die natuur opnuut begin wakker word in die jaar, die maand Oktober toegewy woord aan die roofvoëls nie.
Oktober is nie net die mooiste maand nie, dit is ’n maand van verheffing, van oog en hart wat opkyk, en daarom is dit dan ook die regte tyd om Nasionale Roofvoël-maand te vier.
Die simboliek pas soos ’n handskoen. Roofvoëls is voëls van mag, hoogte, spanning en visionêre perspektief. Hulle vlieg bo alles met forsheid en krag, soos ware Gideons van lug. Hulle is waarnemers van die veld en hul bestaan is streng ekologies, veeleisend en majestueus. Daarom kan hulle tereg as die adelstand van die voëlbevolking geëtiketteer word.
Internasionaal word Oktober gevier as “National Bird of Prey (Raptor) Day.” Dít is ’n tyd om stil te staan by hul belange en doel in die ekologiese sisteem wat God vir die aarde uitgewerk het.
In die Suid-Afrikaanse konteks kan ons die keuse van Oktober ook vanuit ’n biologiese gesigshoek verstaan.
Baie roofvoëlspesies in Suidelike Afrika begin in Oktober hul broeiseisoen of is in daardie tyd opvallend aktief. Die Wahlberg se arend, wat deur ornitoloë beskou word as skaars en bedreigde spesie, broei byvoorbeeld van Oktober tot Februarie. Daarbenewens kom roofvoëls soos die Steppe-arend en ander migrerende roofvoëls teen laat Oktober in verskeie streke van Suider-Afrika aan, waar hulle gebruik maak van termiese strome en geskikte jaggebiede.
Daarom is Oktober die ideale tyd om hul lewe, hul stryd om oorlewing asook hul rol in die ekologiese sisteem van die aarde te herdenk.
In ’n tyd van opwinding en herlewing is dit belangrik om soms net stil te raak, jou oë op te hef na die blou-blou hemelruim, die natuur se skoonheid in te drink en te luister wat hierdie roofvoëls vir ons sê of demonstreer. Kyk byvoorbeeld na die witkruisarende:
Kyk na die witkruisarende …
sorgloos sweef hulle
op die gebede van die winde
ongebonde vry in hul vlug
in die blou-blou lug
hul sorge sweef vrylik
op die gebede van die winde …
laat jou sorge ook sweef
soos witkruisarende
ongebonde sweef
in die blou-blou lug
op die gebede van die winde …
waar hul gedagtes ineenvloei
in hul Skepper vertroue vind
swewend
op die gebede van die winde …
ongebonde
sweef hulle vrylik in hul vlug
in die blou-blou lug …
laat jou sorge sweef
soos witkruisarende
ongebonde sweef
op die gebede van die winde
kyk
na die witkruisarende
vry in hul vlug
in die blou-blou lug …
——-ooo0ooo——-
© Pieter Mostert
’n Roofvoël is nie bloot ’n jagter nie, maar ook ’n simbool van grasie, vryheid, wysheid en skerp visie.
Wanneer ’n roofvoël sy prooi vang, doen hy dit om te oorleef; hy werk in die ingewikkelde netwerk van die natuur waar prooi, jagter en omgewing in delikate ekologiese ewewig bestaan.
Wanneer ons Oktobermaand tot hul eer toewy, verbind ons onsself as rentmeesters van die Skepper, tot hul lot, hul bedreiging, hul afhanklikheid van natuurlike bioome, en hul kwesbaarheid ten opsigte van onverantwoordelike menslike inmenging.
Roofvoëls word dikwels bedreig as gevolg van vernietiging van hul natuurlike habitat deur ontwikkeling, vergiftiging, stropery, konflik met veeboere, ensovoorts. Hulle is kunsmatig ingeperk deur die mens se beheer van die wêreld.
’n Nasionale Roofvoël-maand roep ons dus opnuut op tot bewaring en introspeksie. Die vraag is wat kan ek en jy in Oktobermaand doen ter viering van die Nasionale Roofvoël-maand?
Hier is ’n paar voorstelle wat jy en jou vriende op ’n heerlike oggend in Oktober kan doen:
• Gaan stap ’n voëlroete, veral in die veld of op die rand van ’n natuurreservaat. Kyk of jy roofvoëls kan sien sweef of sit in ’n boom;
• koop vir jou ’n boek oor Suider-Afrika se roofvoëls wat jy as identifiseringsgids kan gebruik en die name van die onderskeie roofvoëls te leer soos byvoorbeeld: Die witkruisarend, die breëkoparend, die valke, die aasvoëls ensovoorts;
• leer hoe om hulle van mekaar te onderskei; en
• leer hul vlieg patrone.
Jy kan ook die volgende doen, nie net in Oktober nie, maar deurgaans:
• Moedig skole en gemeenskappe aan om programme oor roofvoël-bewaring van stapel te stuur;
• neem deel aan gesprekke oor hoe boere en voëlbeskermers kan saamwerk;
• ondersteun organisasies wat roofvoël habitatte bewaar; en
• raak aktief betrokke by omgewingsimpakstudies om die teenwoordigheid van roofvoëls te monitor in gebiede waar eiendomsontwikkeling plaasvind.
Ten slotte: “Die hemel vertel ons van die eer van God en die uitspansel verkondig die werk van Sy hande …”
Roofvoëls is die werk van Sy hande en ek en jy is deur Hom aangestel as rentmeesters oor die werk van Sy hande.
————————ooo000ooo——————————
©Pieter Mostert
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Oktober 2025 – OOP projek