“… laat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly.”
Toe ek nog ’n kind was het ek baie vakansies by my oupa op sy plaas deurgebring. Oupa het baie gesegdes gehad, maar die een gesegde wat my altyd sal bybly is: “Pietman … Seun, jy moet altyd ’n ware en opregte patriot vir jou land wees. Dan het hy verder gesê, terwyl hy opgekyk het na die hemel: “Op U almag vas vertrouend het ons vadere gebou. Skenk ook aan ons die krag, o Here, om te handhaaf en te bou, dat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly.”
Op my vraag oor wat ware patriotisme is, het Oupa gesê: “My seun, patriotisme is soos ek en Ouma. Ons is lief vir ons Afrikaner-volk, vir ons Afrikaanse taal, vir ons land en sy vlag, ons Afrikaner-kultuur en ons godsdiens. Ons woon ook gereelde feesdae by en ons onderhou die Gelofte op Geloftedag.”
Vir baie jare was my gedagtes geprikkel deur die woord “patriotisme”. Op universiteit kry ek toe die geleentheid om navorsing te doen oor waar patriotisme sy oorsprong vandaan verkry het en wat patriotisme presies is? Vervolgens deel ek ’n fragment uit my navorsingsnotas met die leser van hierdie artikel.
Die woord patriotisme het sy oorsprong in die Griekse taal, spesifiek vanaf die woord patriōtēs, wat “mede-landgenoot” of “iemand van dieselfde vaderland,” beteken. Laasgenoemde is weer afgelei van die woord patris, wat “vaderland” beteken; en hou verband met patēr, wat “vader” beteken. Vanuit die Grieks het dit deur die Latynse taal (patriota) ontwikkel, en later in Europese tale soos Frans en Engels ingeburger geraak as “patriotism”.
Patriotisme het nie ’n enkele “vader” nie, as ek dit so kan stel. Patriotisme is, sover ek kon navors, eerder ’n idee wat gegroei het uit die denke van verskeie filosowe en historiese figure soos onder andere die Duitse denker Johann Gottfried Herder, wat sover terug as 1744 die mening uitgespreek het dat elke volk sy eie unieke kultuur, taal en identiteit moet hê. Hierdie uitspraak van Herder, het die grondslag gelê vir kulturele patriotisme en later nasionalisme, waar mense trots is op hul erfenis en oorsprong.
Nog verder terug, tot sover as 1469 in die Italiaanse-geskiedenis, het die staatsdenker, Niccolò Machiavelli, ’n pleidooi gelewer in een van sy boeke getiteld “Discourses on Livy,” vir die vorm van sterk republieke vir burgers wat lojaal en toegewyd aan hul staat is. Machiavelli, het burgerlike plig as die noodsaaklikste vereiste vir die voortbestaan van ’n nasie beskou.
In 1945 van die 20ste-eeuse, het die Britse skrywer George Orwell, in sy essay “Notes on Nationalism (1945),” onderskeid getref tussen patriotisme en nasionalisme. Vir Orwell was patriotisme ’n liefde vir jou land en lewenswyse, sonder aggressie teenoor ander.
As mens een invloedryke figuur moet uitlig, staan die naam van die Franse filosoof, Jean-Jacques Rousseau in die jaar 1712 van die 18de-eeuse sentraal. Hy word blykbaar allerweë beskou as die formuleerder van moderne patriotiese denke. Rousseau was ’n sleuteldenker van die sogenaamde “Verligting” en het ook in sy boek: “Du contrat social (1762)” aangevoer dat die staat gebou is op ’n “sosiale kontrak” tussen burgers. Rousseau se idee van die algemene wil het mense aangemoedig om hulself as deel van ’n groter gemeenskap te sien. Dit het sterk bygedra tot moderne idees van burgerlike lojaliteit en patriotisme.
Teen hierdie agtergrond kom ek nou tot die gevolgtrekking dat daar egter ’n dieper betekenis in patriotisme lê. Oppervlakkig gaan dit oor liefde vir jou land; maar op ’n dieper vlak ervaar dit ’n gevoel van “behoort,” soos ’n kind wat deel is van ’n familie. In die diepere sin van die woord is jou “vaderland” dus nie net grond of grense nie, maar ’n geestelike en kulturele tuiste wat insluit taal, kultuur, opvoeding, mense, en gedeelde geskiedenis.
In sy mees gebalanseerde vorm is patriotisme nie blind nie. Ware en opregte patriotisme erken ook foute en werk daaraan om die land beter te maak. Die dieper betekenis lê dus minder in blote trots, en meer in verbondenheid, lojaliteit en verantwoordelike liefde vir die plek en mense waaraan jy behoort.
As ek nou reg verstaan omvat die woord “patriotisme” ’n onwrikbare liefde vir jou land en daarmee saam ook ’n sterk gevoel van trots vir jou godsdiens, taal, kultuur, geskiedenis en morele waardes.
Dus kan met sekerheid gesê word dat sodanige persoon ’n patriot vir sy vaderland is. ’n Ware en opregte Patriot openbaar ook respek vir die landsvlag en die volkslied, neem deel aan geskiedkundige dae en ander gemeenskap aktiwiteite.
Ons is so geneig om altyd alles in die lewe as vanselfsprekend en goedsmoeds te aanvaar. Hoe lees die spreekwoord? “Laat Gods water oor Gods akker vloei.” Beteken dit dat ons net alles wat in die lewe gebeur as Gods water oor Gods akker moet aanvaar wanneer dit kom by vaderlandsliefde of te wel patriotisme?
Hoe dikwels hoor ons nie ’n persoon sê: “Wat moet gebeur, sal gebeur”, of “Vandat ek opgegee het gaan dit met my baie beter.” Hoe naïef is sulke uitlatings nie? Beteken dit dan nou dat ek ’n passiewe houding moet inneem en my patriotiese waardes oorboord moet gooi, teen die agtergrond van die chaotiese wyse waarop my land deur die huidige korrupte regeerders bestuur word?
’n Patriotiese persoon dien sy land, respekteer sy taal en wil nét die beste vir sy land hê. ’n Patriot is nie ’n weghardloper deur te emigreer na ander lande toe nie, maar is bereid om soos die Stem van Suid-Afrika lees: “ … ons sal lewe, ons sal sterwe …,” vir sy land, taal en kultuur, te midde van ’n korrupte sogenaamde demokratiese regering in ons land.
Soos my Oupa, wat in my oë ’n ware patriot was, altyd gesê het toe ek nog kind was: “… laat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly.”
——————————————–oooOooo———————————
©Pieter Mostert [woordtelling = 1097]
Bronne:
* Oxford Languages. (2024). Patriotism. Oxford English Dictionary.
* Merriam-Webster. (2024). Patriotism. Merriam-Webster Dictionary.
* Liddell, H.G. & Scott, R. (1940). A Greek–English Lexicon. Oxford: Clarendon Press.
* Lewis, C.T. & Short, C. (1879). A Latin Dictionary. Oxford: Clarendon Press.
* Machiavelli, N., 1998. Discourses on Livy. Chicago: University of Chicago Press.
* Orwell, G., 1945. Notes on Nationalism. London: Polemic.
* Rousseau, J.-J., 1968. The Social Contract. Harmondsworth: Penguin.
* Scruton, R., 2002. A Dictionary of Political Thought. London: Macmillan.
* Worden, N., 2012. The Making of Modern South Africa. 5th ed. Oxford: Wiley-Blackwell.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir April Patriotisme projek