Jongste aktiwiteit:

Opgee? Nooit!

Johan sit op die stoep van sy opstal op sy plaas in die Kalahari. Sy plaas se naam is “Opgee? – Nooit!” Sy pa het die plaas vir hom nagelaat, maar dit is vir Johan meer as net ’n stuk grond wat aan hom oorgedra is. Dit is ’n roeping wat stil in sy bloed kom lê het. “Onthou, seun,” het sy pa eenmaal tydens sy lewe gesê, “’n mens besit nie die grond nie; die grond besit jou. Jy leer net stadig om dit te aanvaar.”

Johan is nie ’n man van baie woorde nie. Sy hande praat meer as sy mond. Sy oë sien ook meer as wat ander mense sien. Hy het grootgeword tussen hierdie duine, waar die wind jou leer hoe klein jy is, en die droogte jou leer hoe sterk jy moet wees. Sy pa het altyd gesê: “Die Kalahari gee nie vir jou nie; jy leer om van hom te neem sonder om hom seer te maak. Maak nie saak hoe moeilik dit gaan nie, opgee is nooit ’n opsie nie.”

Johan sit nou en wag vir sy goeie vriend Pieter, wat vir die universiteitsvakansie by hom op sy plaas kom kuier. Hulle het mekaar lanklaas gesien. Pieter en Johan deel sedert hul kinderjare ’n soort vriendskap wat nie elke dag woorde nodig het nie, maar tog altyd bly wag vir ’n volgende ontmoeting.

Voor hom lê die Kalahari wyd en oop. Buitestaanders sal heelwaarskynlik die Kalahari as vaal en leeg beskryf, maar vir Johan is dit vol van stemme soos onder andere sy pa se lag, sy oupa se voetspore, die gekraak van wiele oor droë grond, die eerste reën wat jare terug geval het soos ’n belofte wat nooit heeltemal gebreek is nie …

Terwyl hy met ’n stomende beker koffie in die hand in die verte tuur, sê hy vir homself: “Hierdie Kalahariland van my, het darem maar ’n besondere manier om met ’n mens te praat. Die Kameeldoringbome wat soos sambrele verspreid oor die uitgestrekte duineveld lê, die duine wat soos reuse sandgolwe onder die voete van die wind gedurig aan die verander is; en die wind wat soos ’n asemhaling oor die dag se spore in die sand vee.”

“Die Kalahari praat ook nie hard of haastig met ’n oordonderende stem nie. Hy praat stadig, hy praat met jou hart, stadig, soos ’n ou man wat sy woorde versigtig kies en sy erfenis met respek in sy geheue dra.”

Die wind sing oor die rooi sand, fluister deur die blare van die kameeldoringbome en gaan lê met ’n dowwe plof teen die sinkdak van Johan se huis. So al asof die wind Johan se gedagtes wil verfris om iets uit sy geskiedenis te onthou.

’n Stofwolk in die verte het Pieter se aankoms aangekondig. Johan staan van sy stoel af op en stap op die werf uit. Hy weet dit is Pieter se bakkie wat daar oor die horison kom, want min mense kom hiernatoe sonder ’n rede.

Pieter klim met ’n breë glimlag uit sy bakkie. Sy lyf is effens styf van die lang pad. Hy en Johan omhels mekaar met ’n warm groet. Duidelik verheug om mekaar weer te sien. Pieter kyk na Johan terwyl hulle stoep toe stap, “Jy het nog nie van plan verander om saam met my stad toe te kom nie, my vriend?” Johan glimlag. “Die Kalahari laat jou nie toe om jou planne te verander nie. Hy slyp jou net skerper.”

Hulle gaan sit op die stoep. Vir ’n ruk praat niemand nie. Die stilte tussen hulle is nie leeg nie, maar gevul met dit wat alles nie gesê hoef te word nie. Pieter haal diep asem, terwyl sy oë oor die werf dwaal. “Dit is anders hier op jou plaas. In die stad hoor jy altyd net ’n geraas. Hier… hoor jy jouself. Die stilte praat met jou. ’n Mens moet net leer om te luister”

Johan knik sy kop. “Ja, my vriend, dít is hoekom baie mense nie hier kan of wil bly nie.”

Pieter en Johan sit in stilte en kyk hoe die son die horison kleur en agter die hoë duine van die Kalahari verdwyn. Dit is asof die hemel oopbreek in ’n kaleidoskoop van kleure wat jy nooit in enige stad sal sien nie.

Dan staan Johan op en sê, “kom Pieter, ons gaan steek die braaivleisvuur aan.”

Die droë kameeldoringhout kraak onder die vlamme, vonkies skiet soos vuurvliegies op en verdwyn in die donker.

Soos ’n groot, swart fluweelkombers het die nag rustig en saggies in die wiegie van die aandwindjie bokant hulle kom lê, terwyl triljoene en triljoene sterre verskyn uit die hemel se sterremyn rondom die sekel van die maan.

Pieter het opgekyk en weereens besef hoe klein en nietig die mens is.

“Johan, vertel my eerlik,” sê Pieter terwyl hy na die vuur staar. “Hoekom wil jy regtig hier bly terwyl die land in so absolute gemors is onder die huidige ANC-regering?”

Johan bly vir lank stil, terwyl hy voor hom uit staar, asof hy in afwagting is op ’n sinvolle antwoord op Pieter se vraag.
“Want iemand moet,” sê hy uiteindelik. “Want as almal emigreer of landuit vlug, wat bly oor? Net grond … Net stof … maar sonder mense wat omgee. Dan is hierdie geliefde land van ons nie meer land nie …”

Pieter kyk met deernis in sy oë vir Johan. “Dit is patriotisme waarna jy nou verwys, nê Johan?”

Johan trek sy skouers nonchalant op. “As jy dit so wil noem Pieter, my vriend. Ek verkies om dit eerder getrouheid te noem. Patriotisme klink vir my na ’n te groot, woord wat eerder in julle geleerde mense se taal tuishoort. Die woord “getrouheid,” is sagter op die oor. Getrouheid is dit wat in stilte plaasvind. Getrouheid is geleë in hoe jy elke dag opstaan en weer van vooraf probeer. Maak bietjie jou oë toe, Pieter. Luister met jou hart na die geluide van die nag om ons. Ek noem dit die simfonie van die Kalaharinag”

Pieter sluit sy oë en luister. In die Kameeldoringboom so entjie van waar hulle sit roep ’n uil,
geitjies blaf, ’n jakkals tjank, in die verte hoor hy hiënas wat hees lag en ’n leeumannetjie
wat êrens in die donker brul dat die sand onder sy voete tril …

Met daardie “simfonie van die Kalaharinag” in hulle ore staan Johan op en sê vir Pieter goeie nag.

Die volgende oggend maak die son hulle vroeg wakker. Die Kalahari wag nie vir laat slapers nie. Hulle ry om die grensdrade van die plaas, wildkampe se omheinings en die waterpomp te inspekteer. Pieter kom gou agtergekom dat hierdie lewe nie net maanskyn en rose is nie. Die lewe in die Kalahari is hard, eensaam, en soms ondankbaar.

Toe hulle by die windpomp kom, het Johan stil die bakkie afgesluit en uitgeklim. Die lemme van die windpomp draai stadig. Water het stadig in die dam begin invloei.

“Hier begin alles in die Kalahari,” sê Johan. “Water is lewe. Sonder water is daar niks. Met elke draai van die windpomp is ’n dankbare klein oorwinning teen die droogte behaal.”

Pieter gaan sit op sy hurke, steek sy hand in die dam en roer die water om en om. Die water is koel. Hy staan van sy hurke af op en tuur oor die duineveld.
“Johan glo jy dat dít genoeg is om jou hier in die Kalahari en in hierdie land te hou?” vra Pieter.

“Pieter, my vriend, ek glo dat vir dit wat ons het, hoe gering ook al, ons voor dankbaar moet wees. Soms moet dit wat jy het, net eenvoudig genoeg wees.”

Hulle het die dag deurgewerk. Die son het genadeloos gebrand, die wind het opgekom, en die stof het aan hulle liggame gekleef soos ’n tweede vel. Maar teen die einde van die dag het Pieter iets begin verstaan wat hy nie kon verduidelik nie.

“Opgee? – Nooit!” is nie net ’n plaas nie. “Opgee? – Nooit!” is ’n storie en Johan is deel van daardie storie.

Daardie aand sit Pieter en Johan weer by die vuur. Iets het verander, iets is anders. Dit is asof die stilte tussen hulle nou voller is, en of daar meer diepte in die gesprekke tussen hulle is.
“Ek dink ek begin verstaan,” sê Pieter.

Johan kyk Pieter fronsend aan. “Wat verstaan jy my vriend?”

“Dat patriotisme nie gaan oor om te sê jy is lief vir jou land nie, maar wel om dit in jou alledaagse handel en wandel te wys deur dit in woord en daad uit te leef.
Patriotisme is ’n leefwyse;
Patriotisme is om nooit op te gee;
Patriotisme is om in jou land te bly te midde van moeilike politieke omstandighede; en
Patriotisme is om te werk, te handhaaf en te bou te midde van omstandighede en sonder waarborge.”

Johan knik sy kop beaam end. “Ja. Pieter, patriotisme is om nie net te vat nie, maar terug te gee, selfs in omstandighede waarin jy nie seker is of jy terug gaan kry nie.”

Pieter kyk met nuwe oë na die uitgestrekte Kalahari voor hom. “Ek gaan nie meer net praat oor my land nie. Ek gaan begin doen.”

“Opgee? – Nooit!” sê hy hardop!”
————————————————oooOooo—————————————-
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 1539]

 




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed