Waar blomme groei #brons
Waar blomme groei
Hier in die voorhuis in anderkantland, vasgevang in ‘n raamwerk op wiele, blaai ek deur my mobiele metgesel se magdom van sinvolle en onsinvolle praatjies.
Ek kom af op ‘n bekende stem uit my hartland, my moederland. ‘n Stem wat week na week vir baie jare ‘n plekkie gevind het in ons huis. Haar rustige stem bring eenvoudige raad. Die Kruie Koningin op ons draadloos sonder grense, help jou om jou sintuie in te stel en die mooi rondom jou raak te sien, raak te hoor, raak te voel en dan te gebruik in jou alledaagse lewe.
Maar vanoggend se eenvoudige boodskappie tref tot diep daar waar dit saak maak. Sy sê: “Daar sal altyd blomme wees vir dié wat dit wil sien”.
Ek het nog altyd my lewe gevul met blomme en ek vang hulle vas met my kamera, maak nie saak hoe klein of groot nie. Vir meeste van my lewe was dit in die rooigrond van my moederland, nou kom kruip hul weg in die groen geplooide wêreld van anderkantland.
In ‘n onbewaakte oomblik, toe ek my bloumat by my stoepdeur mooi van naderby beskou het, het die noodlot ingetree. My agterstewe word teen ‘n swart gevaarte vasgeplak vir weke. Die geklop-klop onder verbande herinner my daaraan dat daar tone is wat nie gelukkig voel nie. Ek boer tussen die lakens met ‘n been wat ten spyte van berge kussings net nie gemaklik kan raak nie. Ek eet euforiese poeierpille vir lekkergoed om die pyn te stil.
Maar gelukkig net voor die ongewenste gebeure, het my geliefde huismaatjie vir my goudgeel Afrikanertjies in potte geplant. Dit lyk soos geel sonnetjies op die gras. Spatsels hoop wat my dag inkleur!
Ek sien weer, midde-in die moeilikheid en die donker wolke, die blomme in my lewe raak. Die gereëlde koffieblom in die vroeë oggendure. Die onverwagte saamgevoude handjies en kleurvolle blommetjies op my mobiele metgesel. Die oproepblom uit die bloute met bemoedigendeblare. Die kindergesiggies wat op en af spring. Die engelblom met ‘n bordjie eetgoed. Die vrolike bytjie wat vrylik vlieg van blom tot blom en stories uitstrooi. Vreemdes word bekendes.
Elke blom het sy eie unieke eienskappe. Elke blom raak een of ander sintuig aan.
Dankie aan die stem uit my moederland wat my oë oopgemaak het vir die mooi om my.
Nou wil ek ook blom, hier waar die Vader my saadjie laat val het.
As ek weer op twee bene kan staan en my swart raampie op wiele agterlaat, wil ek ander nooi na die blomtuin van my liefde en dankbaarheid. Ek wil my soete geur versprei en blom waar ek geplant is.
Christa Diederiks ©
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.