Blou-oog nooi
Blou-oog nooi
‘n Leeftyd gelede sê ek vir ’n vriendin dat ek soos God se “Blou-oog nooi” voel. Dis nie omdat die lewe net “vriendelik” was met my nie. Ek is darem al ‘n rukkie op dié lewenspaadjie (stap al 50 toe). Daardie woorde is al baie getoets, maar ek voel nog steeds so!
Die Here het my tot dusver met ‘n wonderlike lewe geseën. Was daar baie stukkend en seer? Vir seker kom dit oor ons almal se lewenswandel. In hierdie tye gee God vir my ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan (Fil 4:7). Soms vat die vrede langer om pos te vat want die voorafgaande verse sê ook: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!…moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend”. Ek vat soms bietjie langer om by hierdie deel uit te kom. Ek probeer mos elke keer eers om dit self te hanteer en faal keer op keer.
Wanneer die stukkend en seer aan my voordeur geklop het, het ek ook die cliché gevra: “Hoekom gebeur dit met my? Ek is dan ‘n Christen.” Ek moes leer dat die blote feit dat ek ‘n kind van God is, nie beteken dat daar geen slegte goed met my gebeur nie. Nêrens in die Bybel belowe God immers dit aan ons nie. Inteendeel, waarsku Hy ons in Johannes 16:33: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle kan vrede vind in My. In hierdie wêreld sal julle dit moeilik hé, maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin”. In sy waarskuwing gee hy ook in dieselfde asem ‘n belofte: dat ons te midde van al die moeilikheid in Hom kan vrede vind.
Ek het al in my seerste en stukkendste oomblikke gevra: “Hoekom doen God dit aan my” of “Hoekom laat God dit toe”? Sjoe, dis nogal ‘n groot beskuldiging om teen ons Hemel-Pappa se bors te gooi. Veral wanneer ek as mens so ‘n gemors van die lewe en Moeder Aarde maak. Ek moes besef dat God ons nie marionette gemaak het wat Hy met toutjies beheer nie. Hy het elkeen juis ‘n eie wil gegee. Soms gebruik ek en ander mense ons eie wil ongelukkig net nie verantwoordelik nie.
In my eie lewe het baie dinge (soms goed en soms sleg) om baie redes gebeur en gebeur dit nog steeds: My eie lewensbesluite, ander mense se besluite wat my lewe beinvloed, die wêreld om ons se gebroke toestand en bloot net wanneer dinge in die lewe gebeur.
In die goeie tye het ek geleer om dankbaar te wees. In die slegte tye tel God my op sodat ek met dankbaarheid kan terugkyk en sy guns kan sien.
Is ek voorbarig om te voel dat ek dié spesiaalste vir God is – Sy Blou-oog nooi? Ek dink nie so nie. Elkeen van ons is dié spesiaalste vir God. Hy trek niemand voor nie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.