Die bok in die snoekerkamer
Toe Lien regs draai, dink sy sy stap terug klipgrafte toe.
Sy kom net tot by die eerste grensdraad se hoekpaal.
“Mevrou Meiring!”
Saara se stem sny oor die oop stuk grond soos ’n mes deur warm brood. Lien draai om. Saara staan by die klubhuis se agterdeur met ’n vadoek oor haar skouer. Haar gesig sê niemand in Uis stap sommer net êrens heen sonder dat iemand weet hoekom nie.
“Waar gaan jy so vroeg?”
Lien druk haar hand teen haar voorskootsak waar Lorri se klip lê. “Ek wou net gou na iets gaan kyk…”
“Gaan kyk?” Saara stap nader. “Net so alleen?”
“Dit is mos nie ver nie.”
“Dit is wat mense altyd sê net voor iemand anders hulle later moet gaan soek.” Saara vee haar hande aan haar voorskoot af. “Kom ons drink eers gou koffie.”
“Ek het eintlik… ”
“Daar is nie ‘eintlik’ voor koffie nie,” sê Saara. “Net ná koffie.”
Lien kyk na die pad regs. Die klipgrafte lê stil in die oggendlig. Toe kyk sy na Saara. Saara het reeds omgedraai, asof sy besluit het dat die saak afgehandel is.
In die kombuis sit Lorri by die tafel. Sy kitaar staan teen die muur en sy hond lê onder Lorri se stoel. Lui kyk die hond op na Lien met ’n gesig wat sê hy is onskuldig aan alles wat nog nie bewys is nie.
“Jy’s vroeg,” sê Lorri.
“Ek wou sommer gaan kyk na die grafte,” sê Lien.
Saara sit ’n blikbeker koffie voor haar neer. “Sy wou alleen gaan.”
Lorri trek sy wenkbroue op. “Alleen?”
“Dit is nie ver nie,” sê Lien weer, maar nou klink sy selfs vir haarself minder seker.
Van voor af kom Leo se stem, kort en haastig. “Saara! Waar is die sleutels van die stoorkamer?”
“Dit is seker waar jy dit gelos het!” roep Saara terug.
“Ek weet nie waar ek dit gelos het nie!”
“Presies!” roep sy.
Lorri lag sonder geluid. Net sy skouers beweeg.
Lien haal die klip uit haar voorskootsak en sit dit op die tafel neer. “Ek het hom teen die son gehou,” sê sy. “Daar is iets pers binne-in.”
Lorri knik stadig op-en-af.
Saara buk nader. “Pers?”
“Net so klein blink pers skynsel,” sê Lien.
“Ag,” sê Saara, “dit is nog niks. Laat ek jou vertel van oom Gert wat ’n klip gekoop het wat glo ’n pragtige ametis was en toe gebruik sy vrou hom vir twee jaar om hulle kombuisdeur oop te hou.”
Lien knip haar oë.
Lorri sit skielik regop. “Daardie was nie my skuld nie.”
“Ek het nie gesê dit was jou skuld nie,” sê Saara.
“Jy het na my gekyk?”
“Dit beteken mos nie iets. Ek kyk na baie mense. Party van hulle is skuldig.”
Onder die tafel klap die hond sy stert teen die stoel se poot.
Lorri wys met sy beker na hom. “Daardie hond, nou. Hy het een keer ’n toermalyn in die rivierbedding uitgesnuffel.”
Saara snork hard. “Dit is niks! Laat ek jou vertel van daardie selfde hond wat by die basaar ’n bak vol wors gesteel het en toe agter die pastoor gaan sit het soos ’n engel met ’n worsasem!”
Lien sit die beker stadig neer.
“Selfs die dominee het gedink dit moet ’n teken wees,” sê Lorri.
“Dit was ’n teken,” sê Saara. “’n Teken dat jou hond geen maniere het nie.”
Op daardie oomblik storm Leo by die kombuis in. Sy hare staan effens regop en daar is meel op sy een mou.
“Het iemand van julle die stoorkamersleutel gesien?”
Saara kyk hom van kop tot tone deur. “Hoekom is daar meel aan jou?”
Leo kyk af na sy mou asof dit vir hom ook nuus is. “Daar was ’n sak wat geskeur het.”
“Die sak het seker sommer self teen jou opgespring.”
“Saara.”
“Ek vra net.”
Van voor af gil iemand: “Die bok is weer in die snoekerkamer!”
Stadig draai Lien haar kop na Leo toe.
“Die wat?” vra sy.
Leo maak sy oë toe.
Saara vou haar arms. “Dit is nog niks,” sê sy. “Laat ek jou vertel van verlede Donderdag toe daardie bok twee mans by die snoekertafel laat bid het.”
Lorri staan op en vat sy hoed. “Kom, Vlermuis.”
Vlermuis roer nie ’n poot nie.
“Vlermuis,” sê Lorri strenger.
Die hond maak sy oë toe.
Saara wys met die vadoek na die deur. “Vat hom saam. As hy hier bly, steel hy nou-nou die brooddeeg.”
Lorri kyk na Lien. “Jy wou Uis leer ken, né?”
Lien kyk na Leo, dan na Saara en na die hond wat maak of hy dood is, en na die klein klip op die tafel met sy geheime pers lig.
Karplaks! Buite stamp iets hard teen die klubhuisdeur. ’n Man vloek saggies. Iewers staan en lag iemand. Toe blêr ’n bok, hard en benoud!
Lien staan stadig op.
“Kom, laat ek raai,” sê sy. “Nou gaan iemand my seker vertel dit is niks.”
Saara gryns.
“Nou leer jy vinnig, Lien.”
©MarleneErasmus
02/07/2026
(835 woorde)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.